Van Vuuren se kruipverskoning ondermyn die rol van samehang in openbare morele diskoers

  • 1

Dis performatiewe maatskappye wat laaste lag.

Sedert Showmax se opspraakwekkende "hersiening" van sy arsenaal Schuster-films in die nadraai van wêreldwye oproer oor sistemiese rassisme teen swart mense, het die komediant Rob van Vuuren op 24 Junie vir sy gebruik van swart gesigverf in ’n Schuster-film ’n openbare verskoning uitgereik.

Van Vuuren pleit onder andere dat hy in daardie tyd wel geweet het wat hy doen, maar reken dat hy hom doelbewus daarvoor blind gehou het dat hy blackfacing gebesig het. Snaaks genoeg, ten spyte van sy heftige veroordeling van sy eie gedrag, gepaardgaande met ’n beroep op die algemene publiek om sistemiese rassisme aan te vat waar dit ook al te vinde is, bly hy inkonsekwent en veroordeel nie die Schuster-films waarin hy gespeel het of sy medekomediant Leon Schuster nie.

Van Vuuren se verskoning klink kruiperig, juis omdat dit so vinnig en kommersieel opduik en omdat dit in skrille kontras staan met Suid-Afrikaners van alle oorde se ontsteltenis en argwaan oor Showmax se besluit. Selfs die komediant The Kiffness, wat dikwels sekere landsburgers die josie in het oor sy gespot met stereotipiese wit Suid-Afrikaanse lewenswyses, het op 25 Junie op Facebook vir Showmax geparodieer deur sy veelbesproke satiriese video "White privilege" opnuut te deel met die hofie "Sharing this song before Showmax makes it illegal to laugh at myself." 

Van Vuuren het in wese self die blackface-etiket op homself neergeplak. Dit doen hy sonder ontsag vir die samehang van sy destydse filmspel en van die Schuster-films oor die algemeen. Wat hy verder doen, is om die presedent te stel dat ’n voorval van bepaalde gedrag wat wel in sekere gevalle so aanstootlik kan wees dat dit moreel veroordeel moet word, sonder redelike ondersoek en dialoog uit die staanspoor moreel onaanvaarbaar is.

Van Vuuren is egter nie die enigste openbare figuur wat blitsvinnig om verskoning gevra het vir selfopgelegde kultureel-morele oortredinge nie. Talle maatskappye het op ’n baie selfingenome wyse ook met die veroordeling van sistemiese rassisme begin, skynbaar om klandisie of reputasie te wen tydens die wêreldwye oproere oor die kwessie. Ons kan dit sekerlik so aanvaar en redeneer dat maatskappye eerder nou as nooit nie ’n skoner korporatiewe gesiggie wys. Die performatiewe praktyk om egter te wag dat jou moontlike klante wêreldwye protes ontketen voordat jy ook ’n morele standpunt inneem, kom regtig net in die besonder aangeplak en opportunisties voor. Veral in hierdie tye van kwesbare aanlyn reputasies, waar meevoering met die ontsteltenis van die dag net ’n week of wat hou.

Dit laat die vraag ontstaan oor die wenslikheid daarvan dat (onder andere) komediante genoop is om uit die staanspoor oor aantygings van blackfacing moreel aandadig te voel. My argument is dat dit onwenslik is, juis omdat die blote praktyk van swart gesigverf sonder rasionele ondersoek tot absolute simbool van rassisme verhef word en die samehang op ’n antidialogiese wyse geïgnoreer word. Dit is nie wat die kritiese kultuurteorie oftewel ideologiekritiek (ironies juis die denkraamwerk wat tot die term blackfacing aanleiding gegee het) werklik beoog nie. 

Waar mense oor beleefde ervaringe van aanstoot kla, is die klag nie die begin en einde van die kwessie nie. In ’n demokratiese samelewing soos Suid-Afrika behoort daar steeds na die samehang van ’n skynbaar aanstootlike daad gekyk te word alvorens morele aandadigheid bevind en opgevolg word. Indien ons simbole en praktyke op sigwaarde as aanstootlik tipeer en absoluut verbied, sal akademiese en artistieke uitdrukking onmoontlik wees –  ’n haas ongrondwetlike stand van sake ingevolge artikel 16 van die Grondwet se reg op vryheid van uitdrukking. 

Die Rob van Vuuren- en Shomax-storie kan met die filosofiese onderbou van die Gelykheidshof se uitspraak in Nelson Mandela Foundation Trust v AfriForum vergelyk word. Die hofuitspraak het baie spesifiek die uitbeelding van die oranje-blanje-blou vlag verbied indien jy dit goedsmoeds openbaar. Die vlag mág in ’n artistieke, akademiese of ander konteks vertoon word waar die gebruik daarvan redelikerwys toegelaat behoort te word. Die uitspraak se filosofiese agtergrond leer ons dat ’n fisiese simbool self nie buite ’n samehang (of konteks) verstaan kan word nie. Hierdie samehang is ons menslike omgang met die simbool in die verlede en hede. Die samehang kan ons leer waarom die simbool of praktyk oorspronklik geskep is, of dit meervoudige oorspronge het, waarvoor dit al ideologies gekoöpteer is, hoe dit vandag betekenisvol aangewend kan word en wat die aard van aanstoot of verwondering is wat dit meebring. Simbole of gedrag, hetsy in teks, toneelspel, kommunikasie of watter kulturele verskynsel ook al, is inderwaarheid heeltemal onmoontlik sonder ’n samehang. Soos die filosoof Jacques Derrida ons leer, is daar geen teks buite konteks nie.

Dit is juis omdat die samehang van ’n simbool soveel vlakke van betekenis kan toedeel dat ons nie sonder rasionele metodiek ’n morele besluit oor die betekenis en gebruik daarvan kan maak nie. Ons moet sif deur die implikasies van die simbool soos dit voorkom binne tydperke en ruimtes. ’n Naakte aanklag van aanstoot, wat nie vir substansie nagegaan word nie, kan eenvoudig nie ‘n simbool behoorlik verklaar nie. 

Gevolglik kan swart verf op ’n persoon se gesig nie absoluut en te alle tye gereken word ’n geval van opsetlike, of ten minste nalatige en onsensitiewe rassepraktyk, te wees nie. Blackfacing verwys na ’n baie spesifieke simboliese praktyk. Dit het ontstaan as wit akteurs se gebruik, in die dae van rassesegregasie in die VSA, om hul gesigte swart te verf om swart karakters te verteenwoordig. Swart mense is nie toegelaat om in wit teaterspanne te speel nie. Die aantyging is dikwels dat wit akteurs met swart gesigverf, selfs sonder opset om te kwets, noodwendig besig is om strukturele rassisme aan te moedig. Die aanvoering is dat swart mense deur die swart gesigverf aanstoot neem omdat hulle aan blackfacing as praktyk herinner word.

Dit mag wees dat dit ’n baie kragtige herinnering vir sommige is. Maar net omdat swart gesigverf in ’n sekere samehang hierdie betekenis verkry het, beteken dit nie dat dit ’n nou absolute betekenis het wat ’n heel ander samehang outomaties verdring nie. Ter illustrasie: Waar ’n karakter in ’n film met swart teer besmeer word soos die ou Europese praktyk was om bedrieërs te straf, of waar soldate in ’n grensvegtoneel hul gesigte met swart verf kamoefleer, is die enorme konteksverskil voor die hand liggend. In die Schuster-films speel wit mans inderdaad dikwels swart karakters, maar die samehang vertel ons die res van die storie. In Schuster se There’s a Zulu on my stoep! word die belaglikheid van ’n AWB-agtige regse groep belig wanneer Schuster se karakter hom as ’n swart huisbediende voordoen om die groep te infiltreer. Dit was ’n regstreekse parodie van die regse ontwaking in Suid-Afrika se laat ‘80’s en vroeë ‘90’s.

Selfs al veroorsaak die historiese samehang dat ons swart gesigverf en swastikas met agterdog bejeën, is dit die res van die simbool of praktyk se samehang wat die deurslag gee. Hiervoor behoort ons ’n sensitiewe, holistiese en beslis rasionele ondersoek aan die dag te lê. Om op blote aantyging te reageer en morele oordele op sigwaarde te vel is om die halwe verhaal as deurslaggewend te beskou. Dit vervlak ons strewe na die mees omvattende betekenisvolle verklaring van kenbare verskynsels, want blote bevraagtekening van ’n simbool se moraliteit word ’n arbitrêre performatiewe daad met finale effek. Die proses om die neem van aanstoot te uiter, of om moontlike aanstoot uit te wys, word die finale oordeel wat voorskriftelik nagevolg moet word.

Rob van Vuuren se verskoningsrede dra nie by tot ’n rasionele omgang met prima facie-voorvalle van aanstoot nie. Sy verskoning, wat dalk sy eie gewete gerusstel, aanvaar eerder die gevaarlike neiging om – op suiwer performatiewe wyse – morele aandadigheid finaal deur die blote aantyging van aanstoot neer te vel. Sy verskoning skeur die verskynsel van swart gesigverf uit alle samehang uit en veroordeel op arbitrêre, ongegronde wyse die historiese konteks waar swart gesigverf ’n uiteinde van rassesegregasie was.

In die vlaghofsaak is dit anders:  ’n Klag van aanstoot is gemaak en partye kon in ’n rasionele proses die vlag as simbool ondersoek. Oplaas is ’n bevel gemaak wat in ag neem dat ’n simbool alleenlik binne ’n samehang verstaan kan word, en is die vlag regtens verbied sover dit in ’n konteks gebruik word waar dit roekeloos of opsetlik met swart pynlike ervarings omgaan.

As Rob van Vuuren sensitief was vir die samehang van simboliek in die kunste, sou hy dalk besef het dat sy mea culpa-oomblik verabsoluterende gevolge het vir die diskoers oor sistemiese diskriminasie in ons alledaagse kultuur. Sy optrede steun ook maatskappye se mag om die openbare diskoers te stuur, want hy help vorm aan die presedent dat maatskappye soos Showmax korrek is om ter wille van hul reputasie ’n naakte aantyging as ’n finale morele oordeel te aanvaar. Demokratiese en rasionele dialoog word vervang deur eensydige halwe waarhede en performatiewe monoloë. Morele vraagstukke word verwyder uit die realiteite van hul samehang, en gesentraliseer in die hande van die invloedrykes. Dit sal nie deug nie. 

Lees ook:

Agbare ideologiekritiek teenoor veragtelike performativity

  • 1

Kommentaar

  • robert l barrie

    Die goed uit die 'Schuster fliek verbanning' sal wees dat ons nie meer na sy afkraak en afknou komedie van mense hoef te kyk nie! Dit was geensins kuns of vermaak nie

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top