Van toeval en toeverlaat (Met apologie aan Ingrid Winterbach)

  • 1

Foto: succo, https://pixabay.com/photos/accident-injury-danger-banana-peel-994009/

Die My fok Marelize-subkultuur, wat in 2019 goed op dreef was, is met Covid in die kiem gesmoor. Nes Greta Thunberg. Daar het ’n hele mark rondom Marelize se fratsongeluk teen ’n rugbypaal ontstaan: koffiebekers, T-hemde en allerlei artefakte met dié meem daarop afgedruk. Dis nogal jammer dat die pandemie weggedoen het met soveel dinge. En dit is waaroor ek nou skryf – fratsongelukke.  

.........

Mens lag dikwels oor die bisarre wending wat ongelukke kan neem – veral as die kousale gang daarvan in jou guns draai en jy gelukkig (of ongelukkig) genoeg is om te oorleef.

...........

Mens lag dikwels oor die bisarre wending wat ongelukke kan neem – veral as die kousale gang daarvan in jou guns draai en jy gelukkig (of ongelukkig) genoeg is om te oorleef.

Ek het in 1990, my matriekjaar, met ’n Passola SA50 aangesuiker skool toe. Hierdie bromfietsie was oud en kon skaars 50 km/h haal. Natuurlik was ek ’n pyn in die agterent vir ander padgebruikers, maar as jy jonk is, pla sulke goed jou nie. Dit was die vervoermiddel wat my van punt A tot punt B gebring het. Daar was net een probleem. In die straat waar ek gewoon het, het daar by so ’n skuins draai by nommer 9 ’n Doberman-reun los rondgeloop. Die huis het geen omheining gehad nie. Dit was ’n uiters gevaarlike hond wat die arme posman op sy fiets male sonder tal amper verskeur het. Die eienaar van die hond was meneer Hollenbach. Die straatbewoners het gesê hy’s ’n gomtor, want hy het kaalbolyf met so ’n blink ’80’s joggerbroekie (sonder onderbroek) grasgesny. Sy broek het in die reël afgegly dat die dimpels onder sy niere uitgesteek het. Die kinders het dan lekker gelag en gereken dat ou Hollenbach se van by hom pas.

Ewenwel; ek was doodbang vir meneer Hollenbach oor sy kwaai hond – die Doberman het eintlik vir mý in sy visier gehad. Die Passola waarmee ek aangekruie het skool toe, het ’n mark van “soft bikes” bedien; dit was so ’n lelike lemmetjiekleurige fiets met handvatsels soos ’n trapfiets. Die einste soft bike het egter vir ’n klipharde val gesorg. Die Doberman het my dikwels gejaag, dan het ek om die beurt gevloek en gebid dat die swart dierasie my nie van agter af bespring nie. Een middag, dit was na aan die rekordeksamen, het ek ingedraai in die berugte straat toe dit gebeur. Dié keer het die hond my ingewag en van vóór van my Passola gespring. Ek het nog absurd gedink dat dit darem ’n atletiese hond is toe ek met ’n boog deur die lug trek. My valhelm, wat ek nooit vasgemaak het nie – pure laksheid – het van my kop afgevlie en ek het gesig eerste met moeder aarde kennis gemaak. Wel, om presies te wees, ek het met my mond die teerpad getref. Met die impak van die slag het my kleurbaadjie se een naat op die rugkant oopgebars.

Wat volgende gebeur het, is na aan ’n wonder. Die hond het skuins onder die fiets beland en die een handvatsel het in sy bek vasgehaak en letterlik sy kakebene gesluit. Ek het in die Doberman se oë gekyk en besef: My einde het aangebreek. Skuimvlekke het om sy mondhoeke geborrel. Hy het seergekry en, nes ek, aan skok gely. My oorlewingsdrang het onmiddellik ingeskop en ek het besef ek moet die ramptoneel ontruim – en vinnig ook. In die proses het ek ’n skoolskoen verloor en soos ’n burleske Aspoester aangestrompel na my ouerhuis. Ek het my verwese skooltas, skoen, fiets met die draaiende wiele en brullende hond net so gelos. Daar was nie ’n siel op straat nie – niks. Dit was godverlate soos ’n distopiese film.

So ’n goeie 150 m later het ek by die huis aangekom en my geskokte ma beveel om my voete 70 grade te lig en my nek te ondersteun. Iewers het ek iets van noodhulp onthou – en toe my bewussyn verloor.

Toe ek bykom, het my ma oor my gebuk met ’n nat handdoek en ’n Tupperbak (spoegbak) – vir die eerste maal het ek besef wat dit beteken om “bloedbek” te wees. Ek het agterdogtig rondgekyk soos iemand wat stront ruik en dit het tot my deurgedring dat die hond met die skok van die val my bevuil het. (Ek gebuik nie toilethumor om ’n lagrespons te wek nie, liewe leser, ek vertel bloot die verhaal soos dit gebeur het.) Só klim ons in die kar en jaag dokter toe. Maar dit was ’n Woensdagmiddag en die dok het gholf gespeel. Gelukkig het sy dogter ’n tandheelkundige praktyk in dieselfde winkelkompleks gehad en gegewe my mondbeserings was dit die regte plek om aan te doen. Die tandarts het doodkalm die bloed en tandsplinters uit my mond gesuig en die skade bereken: My boonste ses tande was almal gekraak. “As jy nie sulke bultande gehad het nie, het jy julle uitgeval,” het sy getroos. En: “Toemaar, ons gaan vir jou finere insit. Jy gaan ’n splinternuwe laglyn kry.” ’n Laglyn! het ek wrang in my binneste gegrinnik en in my geestesoog het die Joker in ’n pak speelkaarte voor my opgedoem.

Maar dit was het einde niet. Die swanger stoelassistente, ásvaal in die gesig, het skielik begin stuiptrek en ’n paar katte oor my geskiet. Sy het aanhoudend om verskoning gevra en ek het in reaksie daarop geteem hoe jammer ék is. Ons skoolhoof het altyd aangedring dat ons tog “waardige ambassadeurs” vir ons skool moes wees wanneer ons in die publiek met ons skoolklere aan verskyn … Wel, deurdrenk met die ekskresies van mens en dier, geskeurde klere, bloeiende knieë en kneukels en tande wat soos domino’s rondwiggel in my mond, was ek ’n bedenklike ambassadeur vir Hoërskool Eldoraigne. Ek het afgryslik gelyk en geruik. Die ysterruik van my eie bloed het wild in my neusgate opgeadem.

Maar dit was het einde niet. Ek sou ’n baie belangrike gas daardie middag ontvang – die bekende uitgewer Charles Fryer van Tafelberg. Ná die landswye De Kat-poësiekompetisie vir hoërskoolleerlinge wat ek daardie jaar gewen het, het dié uitgewer Pretoria toe gevlieg om my te ontmoet om die moontlikheid van ’n konsepdigbundel te bespreek. Ons sou die afspraak moes uitstel tot ek weer skoon en by my volle positiewe was. Wanneer ek skrik, gaan ek in ’n staat van dissosiasie in. Alles beweeg dan stadiger, nie vinniger nie. Ek was heeltemal traag van skok en het onbedaarlik bly gaap; pýnlik. Vir dae na die ongeluk het ek nog soos ’n pasiënt in die film Awakenings deur die huis bly dwaal.

............
Later het ek telkemale die ongeluk probeer rekonstrueer om te probeer vasstel hóé die handvatsel in die hond se bek beland het en, soos in die geval van Daniël se leeus in die leeukuil, die Doberman se kake toegesluit het. Vir my was dit ’n wonderwerk.
...........

Later het ek telkemale die ongeluk probeer rekonstrueer om te probeer vasstel hóé die handvatsel in die hond se bek beland het en, soos in die geval van Daniël se leeus in die leeukuil, die Doberman se kake toegesluit het. Vir my was dit ’n wonderwerk. Want as dit nie gebeur het nie, sou die hond my doodgebyt, verskeur of geskend gelaat het. Die fiets was baie stadig, wat beteken dat ek ook in stadige aksie geval het, wat my beserings beperk het. Ek het wel ’n senuwee in my onderlip beskadig en sedert ek 18 is, gee ek so skewe glimlag nes Bella in The Twilight Saga.

Ek het my rekordeksamen afgelê, harsingskudding en al, maar gelukkig nie te sleg gevaar nie. Toe het die nagmerries oor swart en gevaarlike honde begin. Daar was verskeie variasies op die tema. Daar is byvoorbeeld ’n klop aan die voordeur met iemand wat verwoed die handvatsel op en af druk tot die deur uiteindelik oopbars en ’n hond soos Batman die vertrek binnevlieg. Of ek sien myself in die straat loop en uit die bloute verskyn ’n hond. Vriendelik, aanvanklik. Al snuiwend aan my kuite tot hy omswaai en sy kop in dié van ’n haai verander. Om my fobie te besweer, het ek later jare self ’n groot swart hond – ’n Rottweiler-Labrador-kruis – aangeskaf. Ongelukkig het die Labrador gewen en Sasha was ’n engel van ’n hond wat die inbrekers terstond binnegenooi het, my fobie nog ten volle intak.

Daar is egter filosowe wat reken dat die begrip “wonderwerk” net sou plaasvind indien die wette van fisika verander word. Soos tydens ’n David Copperfield show. Ek is egter nie so seker nie. Daar bestaan bloot te veel fratsongelukke met mense wat wonderbaarlik oorleef en ek besef dat my fratsongeluk eintlik nie veel is om oor huis toe te skryf nie.

Een so ’n voorbeeld is die verhaal van Juliane Koepcke. Sy het 3,2 km vanuit ’n vliegtuig geval, waarna sy vir ’n verdere 11 dae oorleef het in die Amasone-reënwoud alvorens sy gered is. Sy het slegs haar sleutelbeen gebreek en ’n paar snye opgedoen. Die bemanning en alle ander passasiers is gedood tydens hierdie katastrofiese ongeluk: 91 mense in totaal. Koepcke was die enigste oorlewende.

.........
Een so ’n voorbeeld is die verhaal van Juliane Koepcke. Sy het 3,2 km vanuit ’n vliegtuig geval, waarna sy vir ’n verdere 11 dae oorleef het in die Amasone-reënwoud alvorens sy gered is. Sy het slegs haar sleutelbeen gebreek en ’n paar snye opgedoen. Die bemanning en alle ander passasiers is gedood tydens hierdie katastrofiese ongeluk: 91 mense in totaal. Koepcke was die enigste oorlewende.
..........

Dit was Oukersaand 1971 en die 17-jarige Juliane Koepcke en haar moeder, Maria was gereed om aan boord te gaan aan Lansa vlug 508 van Lima, Peru na Pucallpa. Hulle sou terugkeer huis toe, na Panguana, maar die bittere ironie is dat Maria reeds die 19de Desember wou gevlieg het. Juliane wou egter eers haar hoërskoolgradeplegtigheid bywoon in Lima, waar sy skoolgegaan het. Hans Koepcke het sy vrou en dogter gewaarsku om nie gebruik te maak van Lansa nie, aangesien die lugredery ’n slegte reputasie gehad het. As agtergrond: Die Duitsgebore Juliane Koepcke het skoolgegaan in Lima terwyl haar ouers as bioloë werksaam was by die Panguana-navorsingstasie in die Peruviaanse reënwoud. Die jong Juliane het haar ouers dikwels vergesel en sy het ook baie van die woud en oorlewingsvaardighede by hulle geleer.  

Vlug 508 was van die begin af gedoem. Die vlieënier het teen sy beterwete in, want hy het gewéét dat daar ’n storm aan’t broei was, besluit om te vlieg … hy het waarskynlik gereken dat dit Oukersaand is en dat die passasiers by hulle onderskeie feestelike bestemmings wou uitkom.  

Koepcke onthou dat hulle deur ’n groot swart wolk gevlieg het. Tien minute later was dit duidelik: Hulle was in lewensgevaar. Hewige turbulensie het veroorsaak dat die vliegtuig op en af skud en die bagasieruimtes het oopgebars – handtasse, Kersgeskenke, versierings en blomme het surrealisties deur die passasierskajuit getrek. Nóg tien minute later het ’n verblindende weerligstraal die vliegtuig se linkervlerk getref. Koepcke onthou haar ma se woorde: “That is the end, it’s all over.” Die vliegtuig het neus eerste afgeduik en dit was stikdonker. Net die passasiers se gille en die diep geronk van die enjin was hoorbaar. Gemeet aan die impak van weerlig op ’n vliegtuig, staan Lansa vlug 508 staan bekend as die mees noodlottige vliegongeluk in die geskiedenis van menslike lugvaart. Die vliegtuig het in die lug gedisintegreer en brandende wrakstukke het grond toe gereën. Koepcke het gevoel hoe sy uitgesuig word by die romp. Feitlik oombliklik nadat die geraas stilgeword het, het sy ’n vryval beleef – sy was nog steeds aan haar vliegtuigstoel vasgegespe. Sy het haar bewussyn verloor, maar ure later bygekom in gietende reën in ’n sagte, digbeboste deel van die Amasone. Sy het ná haar redding verneem dat haar ouers se navorsingstasie ongeveer 30 myl weg was van die area waar sy geland het – of eerder, neergeval het.

Al het Koepcke slegs geringe beserings opgedoen, was daar geen mediese hulp in sig nie. Soos reeds genoem, het sy haar sleutelbeen gebreek en ’n paar diep snye opgedoen. As gevolg van verhoogde adrenalien het sy geen pyn gevoel nie. Kenners beweer dat twee faktore ’n rol gespeel het in haar oorlewing: (1) Met die storm het die wind opwaarts gestu, wat veroorsaak het dat sy stadiger val. (2) Die feit dat sy vasgegespe gebly het aan die middelste vliegtuigtuigstoel, wat deel gevorm het van drie aaneengegote stoele, het veroorsaak dat die stoele ’n soort valskermeffek gevorm het wat haar val gebreek het. Maar die volgende uitdagings het op haar gewag: Sy moes sonder enige lewensmiddele in die Amasone-reënwoud oorleef.

Die eerste paar dae het sy reddingsvliegtuie oor die woud sien vlieg, maar sy kon niks doen om hulle aandag te trek nie. Haar horlosie het ook gaan staan – sy moes nou na die son kyk om te bepaal hoe laat dit is. Later het die reddingsvliegtuie ophou soek en Koepcke onthou dat dit die wanhopigste oomblikke van haar lewe was. Sy het slegs ’n moulose minirokkie aangehad. Om sake te vererger was haar bril skoonveld – sy was swaksiende. Koepcke vertel dat sy nie ’n ander keuse gehad het as om deur die woud te bly beweeg met die hoop dat hulp uiteindelik sou arriveer nie. Bedags was dit warm en het dit gereën en snags was dit bibberkoud. Die Amasone is egter ’n gevaarlike plek en dít het sy deeglik besef. Haar grootste vrees was die talle slange wat onder die digte blaremat gekamoefleer is. Sy was egter te geskok en bedroef oor haar moeder, wat sy nêrens kon vind nie, dat sy nie werklik aandag gegee het aan die sluimerende dood wat in elke tak, blaar of geritsel geskuil het nie. Die Amasone wemel van reusagtige of toksiese fauna en flora. Daar was die groen anakonda wat tot 10 m lank kan word en meer as 200 kg weeg – ’n reuseslang wat jou soos ’n string spaghetti sal verbrysel. Giftige en helderkleurige paddas wat, as daar geen mediese ingryping is nie, dood by die mens kan veroorsaak. En die talle insekte en reusespinnekoppe soos die tarantulas of Brasiliaanse dwaalspinnekoppe wat so groot soos klein soogdiere is en senutergend tussen die blare bly skarrel. Gevaar en onheil was orals. Die plante was ook gevaarlik, soos die kanonbalbome se yslike vrugte wat mens onverwags kon doodval …

Honger en angs het Juliane egter genoop om te bly beweeg en sy het op ’n wrakstuk afgekom waarin sy ’n pak lekkers ontdek het. Sy het die lekkers suinig gerantsoeneer dat dit ’n paar dae sou hou. Sonder toerusting om vis te vang of vir kos te jag het gewisse honger haar in die gesig gestaar. Vir drinkwater het sy reëndruppels van die boomblare afgelek.

Op dag 4 het Juliane die geluid van ’n koningsaasvoël wat bo die woud bly sirkel het, gehoor en geweet dat daar iewers karkasse of lyke moes wees. Vermoedelik die oorskot van ander passasiers. Sy het die geluid van die aasvoël bly volg … en dit was inderdaad so. Die jong slagoffer het op die grusame vonds afgekom: die liggame van drie medepassasiers. Met die impak van hulle val was die lyke meer as drie meter onder die grond begrawe. Een van die oorledenes was ’n vrou. Haar voete het uitgesteek en Juliane het gedink dat dit dalk haar moeder kon wees, maar die vrou het naelpolitoer aan haar toonnaels gehad, en haar moeder het nooit naellak gedra nie. Paniek en histerie het haar oorweldig. Om sake te vererger het maaiers in die diep wond in haar arm nesgemaak. Sy het besef dat sy sonder mediese ingryping binnekort sepsis, koors óf die dood in die gesig sou staar. En al sou sy gered word, sou dokters haar arm moes amputeer.

Dag 10 was sy te swak om verder te loop en sy het afwaarts in die rivier bly dryf. Maar die rivier, soos die woudvloer, was allesbehalwe veilig. Sy het krokodille in die water gesien, maar onthou dat hulle nie ’n gevaar vir mense ingehou het nie. Maar dan was daar die aggressiewe Zambesi-haaie, elektriese palings en piranhas wat in die water geskuil het. En terwyl die desperate tiener haar redding gesoek het in die rivier, het sy ’n motorboot skaars ’n paar meter verder gewaar. Aanvanklik het sy gedink dis ’n hallusinasie tot sy aan die boot vat en toe besef: Hier is tekens van lewe! Sy het vervolgens die smal voetpaadjie wat in die woud inlei, raakgesien. Met haar laaste krag en suiwer adrenalien het sy daarheen gekruip – teen dié tyd heeltemal verswak – en op ’n houthut met ’n palmdak afgekom. Binne-in die hut het sy ’n kan brandstof ontdek en dit oor haar besmette wonde uitgegooi. Sy het onthou dat haar pa een keer keroseen op ’n hond se maaierbesmette wond uitgegooi het. Die pyn was egter ondraaglik toe sy ongeveer 30 reusemaaiers, wat boontoe geskarrel het, uit haar arm getrek het. Hierdie intervensie het verhoed dat haar arm later geamputeer sou word. (In die hospitaal het die mediese personeel nóg 50 maaiers uit haar arm verwyder.) Koepcke het in die hut bly skuil tot sy die volgende dag, dag 11, die stemme van mans buite gehoor het. Dit was Peruviaanse boorlinge. Aanvanklik het die mans geskrik toe hulle haar gewaar. Hulle het nog nooit voorheen ’n blondekopvrou gesien nie en het gereken dat sy ’n watergodin is – ’n tipe hibried tussen ’n vrou en dolfyn wat tiperend aan hulle folklore was en wat hulle Yemanya genoem het. Gelukkig kon sy Spaans vlot praat, iets wat wéér haar lewe gered het. Sy het aan die mans haar dilemma verduidelik en die groep het haar na ’n dorpie gebring waar sy opgeneem is in die plaaslike hospitaal en ’n dag later herenig is met haar vader. Sy het enkele dae later deel gevorm van die soekgeselskap wat die vermiste passasiers in die Amasone-woud moes opspoor. Op 12 Januarie het hulle haar moeder se liggaam gevind.

...........
Juliane het wel die onmoontlike oorleef, maar teen watter prys? In ’n onderhoud erken sy: “I had nightmares for a long time, for years, and of course the grief about my mother’s death and that of the other people came back again and again. The thought why was I the only survivor? haunts me. It always will.”
..............

Juliane het wel die onmoontlike oorleef, maar teen watter prys? In ’n onderhoud erken sy: “I had nightmares for a long time, for years, and of course the grief about my mother’s death and that of the other people came back again and again. The thought why was I the only survivor? haunts me. It always will.”  

’n Mens kan seker tereg die vliegtuigongeluk én die 11 dae in Amasone wat Julaine oorleef het, as ’n dubbele wonderwerk beskou. Die keersy van die muntstuk is die oorlewingskuld en erge PTSS waaraan sy vir jare gely het. Haar moeder, ’n wêreldberoemde ornitoloog, is op 47 oorlede. Hét hulle die 19de Desember gevlieg, het hulle die ongeluk vrygespring. ’n Opeenvolging van oënskynlik “gelukkige” gebeurtenisse het daartoe gelei dat Juliane Koepcke oorleef het. Maar ná soveel trauma het die oorlewende haarself nie as gelukkig geag nie, alhoewel daar ’n blink toekoms op haar gewag het. Sy het teruggekeer na Duitsland, waar sy, soos haar ouers, ’n bioloog geword het en haar doktorsgraad aan die Ludwig Maximiliaanse Universiteit van Münich behaal het. Haar navorsing oor vlermuise het haar genoop om wéér die Amasone te besoek. Sy is dikwels vereer vir haar ekologiese bydraes en het selfs ’n literêre bekroning ontvang vir haar outobiografie, When I fell from the sky / Als ich vom Himmel fiel.

Maar daar is nog ’n kinkel in hierdie vreemde verhaal, Die filmvervaardiger Werner Herzog, wat die dokumentêr Wings of hope oor Koepcke se ongeluk gemaak het, se kaartjie was óók bespreek vir Lansa vlug 508. Hy het egter om onverwante redes minute voor sy vertrek sy vlug gekanselleer.

En of hierdie verhaal ’n wonderwerk of bloot die kousale verloop van gebeure is, sal ons seker nooit weet nie. Was daar iets soos ’n hoër hand wat Juliane beskerm het? En indien wel, waarom dan ten koste van 91 ander? Met Covid het ek egter geleer hoe hoog die premie op ’n lewe werklik is. Al is dit teen die prys van werkloosheid, verhongering en die verbrokkeling van gesinstrukture. Elders het iemand gesê: “The politics is so thick precisely because the stakes are so low.” Of soos ’n karakter in André Krüger se Die twee lewens van Dieter Ondracek gevra het: “Is die offer van die lewe te hoog om te bring?”

  • 1

Kommentaar

  • Rina Cascione

    Nini Bennet, jy het weereens gesorg dat mens vasgenael aan jou woorde bly. Watter ongelooflike verhaal van Koepcke, veral met die Amasone se gevare.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top