In die laaste van hierdie drieluik het ek ’n paar skrywers gevra om hul herinneringe van die biblioteek van hul jongsjare te deel. Ek deel ook my herinnering.
Die respons was oorweldigend positief. Skrywers is passievol oor biblioteke, en met reg so. Almal het besige programme, maar hulle het moeite gedoen om tyd uit te kerf om hul herinneringe te deel. Eben het pas geland na ’n uitmergelende internasionale vlug. Ronelda het geantwoord in die laaste klompie ure voordat sy haar tesis moes inhandig. Anzil was net uit die hospitaal ontslaan nadat sy dae in die hoësorg-eenheid deurgebring het en het uit haar bed geantwoord. Ingrid was op die vooraand van ’n boekbekendstellingstoer.
Elkeen van hulle het bevestig wat dalk nie so ooglopend is nie: skrywers is passievolle lesers. Elkeen. Ek het nog nooit ’n skrywer teëgekom wat nie lees nie. Dit was vir my ook opvallend dat nie een van hulle ’n skoolbiblioteek as hul eerste ervaring van boeke beskryf nie. Kerneels is die enigste een wat hoegenaamd verwys na ’n skoolbiblioteek. Dit onderstreep die belangrikheid van munisipale biblioteke om boeke beskikbaar te maak aan kinders wat dalk andersins nie kan bekostig om boeke te bekom nie.
In ’n samelewing wat verkies om befondsing weg te skuif van die kunste, en eerder fokus op sg “hard science”, moet ons onsself die vraag afvra: wat gebeur met die skrywers van die toekoms as hulle nie kleintyd reeds toegang tot boeke het nie? Hoe beïnvloed gebrekkige of afwesige toegang tot boeke hul kreatiwiteit? Meer as dit, hoe lyk ’n samelewing wat nie dromers en kunstenaars vertroetel nie? Ek wil nie weet nie.
Juis daarom is ek so dankbaar vir elkeen van hierdie woordkunstenaars, nie net vir hierdie bydraes nie, maar ook vir hul skryfwerk breedweg. Elkeen van hulle verskuif grense deur die werk wat hulle publiseer. Afrikaanse letterkunde is ryker omdat hulle hul talente deel.
Ingrid Winterbach
Biblioteke was my redding as jong kind – ek sou verlore wees daarsonder! Ons het nie baie boeke gehad in die huis nie; niémand het in dié tyd nie. So as kind en as tiener was ek heeltemal op die dorpsbiblioteek aangewese. Ek onthou nie veel van die kinderafdeling van hierdie biblioteek nie, maar ek onthou hoe opgewonde ek was toe ek op 14, 15 kon oorbeweeg na die grootmensafdeling. Sedertdien was ek nog altyd ’n geesdriftige gebruiker van biblioteke. Totdat die verderflike Kindle dit moontlik gemaak het om binne minute die boek van ’n mens se keuse af te laai (!)
Clinton V du Plessis
As ek nie sedert graad 8 toegang tot boeke gehad het nie, sou ek nie soveel kon lees nie, want ons kon gewoon nie boeke bekostig nie. Dié lees het die saad vir self begin skryf gevoed.
Helene de Kock
Boekwinkels was in my kinderdae nie altyd naby nie, al het ek aan die Oos-Rand grootgeword. Ek en my predikantpa en onderwyseresma en my sussie was dikwels in die biblioteek. Dit was ’n groot en goedtoegeruste biblioteek. Natuurlik baie minder Afrikaanse boeke as wat tans die geval is. Alhoewel, boeke trek in die huidige klimaat selfs by biblioteke aan die kortste ent. Die plek wat as’t ware die toevlugsoord van ’n boek behoort te wees. Mens kan net hoop dat biblioteke in die toekoms weer goed op die been sal kom sodat álle kinders toegang daartoe het. Sonder boeke sal g’n nasie oorleef nie. Ek glo nie ek sou “oorleef” het sonder boeke in die huis nie. Daarom is dit my hoop dat biblioteke weer as toevlugsoorde vir almal wat graag iets te wete wil kom of net ’n boek wil geniet, sal dien.
Anzil Kulsen
Die bib was ons uithangplek. Die plek waar ek en pelle sit en lees het, maar ook sit en drome droom het. Mev Maggerman in Keimoes het ’n kuiertafel gehad, hoewel die res van die bib stil was, kon ons daar sit en gesels. Dis waar my skrywersdroom gebore is, skat ek. My vriendin, Zenodia Smit is op 26 oorlede, maar om daai tafel in die bib is groot doelwitte gestel en het wêrelde onbekend in ons verbeelding oopgegaan. Heinz Konzalik het net geskitter in sy afwesigheid, hoewel hy eintlik al die pad van Duitsland af saam gekuier het. Ena Murray was ook altyd daar, Ettie Bierman en te veel om op te noem.
Marita van der Vyver
Ek onthou veral die eerste biblioteek wat ’n enorme impak op my lewe gehad het. My ma het ons elke twee weke na Bellville se munisipale bib geneem en dis waar ek as laerskoolkind my hart vir ewig op boeke verloor het. Binne ’n paar jaar het ek my pad dwarsdeur die kinderafdeling gelees en die tannie agter die toonbank begin soebat om my toe te laat om grootmensboeke uit te neem. Sy het gesê ek moet my ma vra en my ma het gesê ek moet die bib-tannie vra – and so they kept passing the buck. Ons het Pretoria toe getrek toe ek 11 was, so dit was toe gelukkig nooit nodig om by die grootmensafdeling van Bellville se bib te gaan inbreek nie.
Kerneels Breytenbach
Ek weet nie wat ek sonder biblioteke sou gedoen het nie. My ouers kon nie bekostig om aanmekaar my leeslus te probeer voed deur boeke aan te skaf nie en ek het in biblioteke geboer. My ma het met my ’n akkoord aangegaan. Vir elke Afrikaanse boek wat ek gelees het, moes ek een Engelse boek lees. In die dorp waar ek grootgeword het, was daar ’n dorpsbiblioteek, en my ma het my verder in my soeke na nuwe leesstof gehelp deur boeke namens my te leen by die skoolbiblioteek waar sy onderwyser was. Die quid pro quo was dat ek haar moes help, in my graad 11 jaar, om die biblioteek in die Desembervakansie te help reg pak volgens die Dewey-stelsel. Dit was soos om jakkals in die hoenderhok los te laat.
Karin Brynard
Ek sal nooit my eerste biblioteek vergeet nie: die dorpsbiblioteek in Boomstraat op Britstown. Boeke was ’n luukse. En naas die Bybel en ’n Kinderbybel, was daar nie boeke in ons huis nie.
Maar my ma het een maal per week biblioteek toe gegaan vir haar liefdesverhale. En dan kon ek saam. Ek was tussen vier en vyf en onthou die reuk van houtpolitoer op die vloere en die rakke vol boeke. In vandag se terme was dit dalk ’n heel nederige tweevertrek-kantoortjie, maar vir my was dit ’n katedraal. Boomhoogte-rakke van verwondering. Ek onthou die stywe swaardvaring op die biblioteektannie se toonbank, die feit dat sy klein pêreloorkrabbetjies gedra het. En die stempel. Man, was ek beïndruk met die stempel en die manier waarop die tannie hom heel, heel versigtig neergesit het sodat die los datumpapiertjie voor in die boek nie te gou vol raak nie.
En die skatkis van prenteboeke in die kinderafdeling – waar ek op ’n stoeltjie mag gesit het en versigtig deur die boeke blaai. Die eerste boek wat ek huis toe gedra het, was oor ’n dogtertjie wat met vuurhoutjies gespeel het en haar hele huis met alles daarin – insluitend haarself – afgebrand het. Al wat oor was, was haar twee skoentjies en haar hondjie wat daarnaas sit en huil.
Met so ’n dramatiese eerste boek, moet jy tog terugkeer. En weer en weer en weer. Vir die res van jou lewe weer.
Ronelda Kamfer
Ek onthou iewers in die laat 1990s, 97-99, het daar ’n nuwe biblioteek oopgemaak in Eersterivier, al die jare voor dit moes ons ver stap uit Stratford Green uit skiem toe, vir die naaste biblioteek. Ek onthou die Kleinvlei-bib was altyd vol skoolkinders. Dit was ’n nice space maar die kontras tussen die biblioteek en die omgewing was drasties, ek onthou die heel eerste keer wat ek gerob was, was op pad huis toe van die biblioteek af, dit was een van daai eerily mooi vroegskemer-aande, ek onthou my hande was koud toe ek by die huis instap en my bors het gebrand van die ver hardloop, maar ek het op my kooi geval en begin lees aan ’n ou copy van The Merchant of Venice wat ek uitgevat het daai dag en wat saam met my die robbery survive het.
Eben Venter
Mrs Slater, die bibliotekaresse van die Burgersdorp-biblioteek, jare 60. Dit het my drie dae gevat om op haar naam te kom. Altyd met ’n hoed op, fluweel met ’n silwer speld. In die winter ’n musserige ding. Amper soos Kleinlief se ouma in die Langenhoven-storie, behalwe dat sy Engels was. My eerste Engelse boeke het ek daar op die rakke gaan uitsnuffel, Enid Blyton en so aan. ’n Lang skemervertrek aan die regterflank van die Burgersdorp-stadsaal. Saliegroen teëls op die vloer en heel voor, soos jy inkom, Mrs Slater agter haar lessenaar, opgestapel met teruggekeerde boeke. En dan haar bleek hand met die rumatiekerige vingers wat die tjap optel en The Famous Five book three oopmaak op sy eeste skutbladsy en op die templaat daarso 21 April tjap. Altyd so vriendelik, Mrs Slater, so pragtig mooi en anders beplooi as Afrikaanse tannies. En ’n reuk, iets soos gestoofde uie en beesbene, in haar huis.
Want soms, as my boeke laat was, het my pa daar gestop, die huisie met die bulleneus-veranda skuins oorkant die mark, en ek het op haar gang ingekom, skemer soos die biblioteek, en sy’t uit ’n sykamer gekom met ’n ekstra trui aan, ’n maroon cardigan, en die stapel boeke ontvang. En ook die mandjie wortels en skorsies en eiers van die plaas af. Ek het teruggeklim in my pa se Chev met die Engelse, stowwerige, uierige reuk van daardie huis nog in my neusgate. Dis oor daardie samegestelde reuk, en haar week hand teen myne as sy my boeke vir die week oorhandig, en ook nog die papierreuk van die dik, roomwit papierbladsye, oopgevou tot waar die bindertou sigbaar raak, van daardie jare se boeke, en al die woorde van die stories vanaf daardie bladsye tot binne-in my kop – al die sensuele en mentale stimulasie het gemaak dat ek nou, byna 50 jaar later, haar naam kon onthou: liewe Mrs Slater.
En ek? Die skrywers het my laat terugdink aan my eie eerste ervaring van biblioteke, en ek deel dit hier.
Bettina Wyngaard
Ek is nog steeds ’n lid van die eerste biblioteek waaraan ek behoort het. Elke dorp waar ek ooit gebly het, was een van die eerste dinge wat ek doen, om by die plaaslike biblioteek aan te sluit. Maar mens se eerste bly maar spesiaal.
Die biblioteek was nie ver van my pa se werk nie en elke middag het hy eers by die biblioteek aangedoen op pad huis toe, om te kyk of ek nie daar was nie. Ons het kaartjies gekry waarmee ons boeke kon uitneem. Vir die grootmense was die kaartjies rooi. Ek verbeel my die kinderkaartjies was geel, maar ek is nou nie meer seker nie. Ons kon boeke vir twee weke op ’n slag uitneem, maar my boekies was altyd vroeg reeds klaar gelees. Na ’n ruk het die drie biblioteek-anties (daai tyd was daar g’n niks se ge-tannie nie) besluit dat ek maar meer boekies as my kaartjies kon uitneem. Teen die tyd toe ek in standerd 4 was, het ek die kinder-afdeling al voos gelees. Dit was ook die jaar toe my pa oorlede is en ek het myself in boeke gewerp. Ek dink die biblioteek-anties het my jammer gekry, want aan die begin van my standerd 5-jaar het ek een middag by die biblioteek aangekom en sonder om ’n woord te sê was my geel kaartjies ingeneem en hulle het vir my rooi kaartjies gegee. Toe kon ek met die trappe opgaan na die boonste verdieping waar die grootmensboeke was: ’n nuwe wêreld met nuwe skrywers en nuwe boeke om te ontdek. Dit was Kersfees, Paasfees en my verjaarsdag in een gerol.
Kinders het nie veel keuses gehad daai tyd nie, maar niemand het ons keuses in die biblioteek bevraagteken nie. Dalk juis daarom dat biblioteke vandag nog vir my die ultimate demokrasie is. Almal is gelyk. Almal se keuse word gerespekteer. Lesers is ’n tribe. Ons ken mekaar uit waar ons ook al gaan. En dis kosbaar. Dis onvervangbaar.
Kommentaar
'n Pragtige goed-voel storie. So nodig in die Kerstyd na 'n jaar waar die land bloed gestik en geroggel het. Elkeen se inset is interessant en insiggewend en opsigself 'n goeie tonikum vir jonges om hulle hande meer aan boeke te waag en selfs die pen op te neem ... eerder as daai elektroniese apparaat wat oral saam karwei word.