
Emmanuel Taban (Foto: © S Fourie)
Dr Emmanuel Taban is ’n merkwaardige man. Hy het onlangs by Green School in die Paarl sy ongekende durf met die leerders gedeel. Stephen Fourie het die geleentheid bygewoon.
...
In 2018 verwerf hy ’n nagraadse kwalifikasie as pulmonoloog (longspesialis) aan die Universiteit van die Witwatersrand. Vandag het hy sy eie praktyk in Midrand, Gauteng.
...
Hy is ’n ware seun van Afrika en ’n man wat eiehandig uit sy haglike omstandighede met ’n droom, ’n passie en ’n ongekende durf ontsnap het om te oorleef in ’n wêreld wat hom telkens die aaklige kant van daardie wêreld gewys het.
Emmanuel Taban, een van vyf kinders en deur ’n enkelmoeder grootgemaak, het sy jeugjare deurgebring in hul modderhut en op die strate van Juba, wat later die hoofstad van die onafhanklike Suid-Soedan sou word. In 1994, toe hy 16 jaar oud was, word hy deur Soedannese regeringsmagte in Juba gearresteer en daarvan beskuldig dat hy ’n rebellespioen is. Hy word aangehou, gemartel en na Khartoem weggestuur. Hy slaag daarin om te ontsnap en begin om terug na sy tuiste te stap.
Gedurende hierdie tyd het die jong Taban eerstehands die gruwels van oorlog tussen Soedan se regeringsmagte en die Sudanese People’s Liberation Army beleef. Soldate se liggame wat aan stukke geskiet is, gewone burgers wat in die kruisvuur gesneuwel het en die berugte kindersoldate wat in die konflik gebruik is.

Emmanuel Taban tydens ’n motiveringspraatjie by Green School in die Paarl. Taban is in 2021 as Daily Maverick se Afrika Persoon van die Jaar aangewys. (Foto: © S Fourie)
Wat die jongman in daardie stadium nie geweet het nie, was dat hy ’n verkeerde roete geneem het en kort voor lank in Eritrea beland het, waar hy weer vir ’n tydperk deur regeringsmagte aangehou is. Hy het toe besluit om na Nairobi in Kenia te stap met die hoop dat sy oom wat daar woon, hom oor hom sal ontferm. Dit is op hierdie tog dat hy baie van die lewe en bowenal van die menslike natuur geleer het. Die lewe op die pad was hard met vele aanvalle en mense wat sy besittings voortdurend steel. Dikwels is hy met vals beloftes mislei. Die grootste teleurstelling was egter dat sy oom in Kenia geweier het om hom oor Taban te ontferm. Dit was ’n groot ontnugtering en hy moes homself op daardie jeugdige ouderdom heroriënteer om sin te vind in sy situasie.
’n Eenvoudige ding soos ’n leë Coca Cola bottel het hom op ’n totaal ander lewenskoers geplaas. “Made in South Africa” het op die bottel se etiket gestaan. Hy het geweet van Nelson Mandela en Suid-Afrika en het net daar besluit om daarheen te loop.
In sy boek, The Boy Who Never Gave Up: A Refugee’s Epic Journey to Triumph, staan daar:
“In Africa we are born into hardship; we never learn from it, but rather blame others for our suffering. By doing so we accept the status of permanent victims, with no control over our destiny.”
Taban het telkens gedurende sy aanbieding na hierdie gedeelte in sy verwys. Dit is insiggewend dat hy wat met reg ’n slagoffer van sy omstandighede genoem kan word, juis kies om dit nie te doen nie. Hy spreek hom sterk uit teen die sogenaamde permanente-slagoffer-sindroom.
Sy staptog het hom verder deur Tanzanië, Noord-Mosambiek en Zimbabwe geneem, totdat hy uiteindelik in Johannesburg aangekom het – 6 000 km later! ’n Groep Comboni Katolieke sendelinge het hul oor hom ontferm. Met hul hulp slaag hy matriek, maar sy punte was nie goed nie. Op 20-jarige ouderdom pak hy weer matriek aan en slaag dié keer met goeie punte wat hom in staat stel om medies te gaan studeer. Sy leuse van “passie, vasberadenheid en konsekwentheid” werp uiteindelik vrugte af en hy verwerf ’n basiese mediese graad deur Medunsa.

Taban deel na sy aanbieding handtekeninge uit aan leerlinge van Green School. (Foto: © S Fourie)
Hiervandaan het Taban hoofsaaklik op sy eie inisiatief met beurse voortgegaan. In 2018 verwerf hy ’n nagraadse kwalifikasie as pulmonoloog (longspesialis) aan die Universiteit van die Witwatersrand. Vandag het hy sy eie praktyk in Midrand, Gauteng. In 2021 word hy as Daily Maverick se “Persoon van Afrika” gekies. Die New African-tydskrif in Londen benoem hom ook in 2021 as een van die 100 mees invloedryke Afrikane van 2020.
Intussen het hy besluit om ’n boek oor sy wedervaringe te skryf. Aanvanklik word die outobiografie afgekeur, totdat sy deursettingvermoë weer eens die botoon vier. The boy who never gave up is in 2021 gepubliseer en by Jonathan Ball uitgegee.
Ironies genoeg, na al die gruwels van sy jeugjare, beleef hy een van sy aakligste ervaringe in sy lewe gedurende die COVID-19-pandemie. Een aand word hy en sy Suid-Afrikaanse vrou deur Tshwane se berugte Metropolisie van die pad getrek. Na bewering het hy ’n motor op 'n sperstreep verbygesteek.
Taban en sy vrou was op pad na een van sy pasiënte in die waakeenheid in die hospitaal. Daar word op hom gevloek en geskel toe hy vra dat hulle vir hom ’n boete moet uitskryf, aangesien hulle nie die Metropolisie na die polisiestasie kan vergesel nie. Die hele ervaring word gevaarlik toe hy die polisiemotor se registrasie met sy selfoon afneem nadat sy vrou as ’n “hoer” uitgeskel is omdat sy met ’n “makwerekwere” (uitlander) getroud is. Die polisie gryp hom aan die keel en dreig om hom te verwurg “soos George Floyd” indien hy nie die foto’s van sy foon afvee nie. Die saak is nog hangende en nie opgelos nie.
Die seun wat nooit ophou veg het nie, moet weer eens as volwassene veg, want hy weier steeds om ’n slagoffer van sy omstandighede te word.
Kommentaar
Wonderlike boek wat inspireer en 'n onuitwisbare indruk op my gemaak het. Die boek word aanbeveel sover ek gaan en kan!
Het die boek geruime tyd gelede al gekoop en gelees. Dr. Taban is reguit en baie eerlik in sy uitsprake en sienings. Sy deursettingsvermoë is verstommend, ook wat betref die weerstand wat hy soms hier in SA ondervind het en moes oorkom. Dis in eenvoudige taal geskryf en lees maklik met geen hoogdrawende mediese uiteensettings nie. Koop en lees dit gerus. U sal nie teleurgestel word nie.
My broer het vir my dr Taban se boek gegee om te lees. Watter uiters interessante ervaring en deursettingsvermoë om sover te stap om 'n bekende en uiters goeie dokter te word. Seën vir hom. Hy is 'n inspirasie vir baie jongmense.
m treurnich
Hi, waar in Namibia kan ek die boek kry?