van die mond na die hand om verweer (om) te keer

  • 0

 

van die mond na die hand om verweer (om) te keer

(poging tot ’n eerbetoon aan Athol Fugard)

 

«Never lose the blade with which you will cut your throat»

 

het die toekoms toe ’n hede gedroom
wat jy in die hand vas kan hou?

vraag: want ook jy dra die klip as lewensblom
teen die saam-saam sterwe …
om wát mee te maak?

antwoord een: «om te sorg
al is die bek nog vol sê
dat ek nie
die pad byster raak
en so met die neersit
rigting te hê

«sodat ek antwoord, twee:
die klip veilig aan die voet
van dood se berg mag gaan lê

«en, drie prowoord: ten minste
die blinde woordvretervoëls
uit hierdie gedig verwilder
om ’n leë gesig te wend
na my brandende klipson»

***

jy weet dit tog –
suster/broer/leser/hand:
ons dra elk as aand en eendenking van die land
die donker wurm selfvernietiging
knus gekolk in die skedelkelk
om soos ’n fetus
by rypwording
sy pad te knaag
na waar die lig brand

***

hoe sê die sanger?
maan oustryk haar gang
van baken tot baken

môre kom die son weer op
vars soos ’n uitgeslape laken:
waar gaan dit alles heen?

***

want bewus-syn is ’n vloek
op jou jy wat niks daaromtrent
kan doen behalwe soek
na die hand om te soen
ordentlik erkentlik dat dit nog woorde wil spin
soos die spinnekop haar eie lyksgewaad
van vergeet tot vergeet span
oor die naggat van genade
om die lewensvlieg in te vang

***

of is dít dan hoe dit is
om te kwyn
met voorbedagte rade –
jou woord vir woord
van die lewe te speen?

***

maar om jou naam te fluister
is om verlange op die tong te vertroetel
in die stil sloep begeerte
dat jy tog nog iewers in die duister
gehoor sal gee aan die liefdesroep

***

omdat dit op die oog af lyk
asof ek die woorde beheer
hiér keer, dààr laat skeer oor klank
se gat dink u dalk, leser,
dat ek agter die woordgordyn ook
die lyk-in-wording bemeester?

alles skyn –
wié regeer wié?

ek drink liewers my wyn
totdat ek tongdronk
vergeet die pyn
van magtelose syn
skeel woorde min

 

Hierdie gedig is die eerste in ’n reeks verse met “teater” as tema, en dit word aangebied om die dramaturg Athol Fugard se 90ste verjaardag in Junie 2022 te vier. Lees al die gedigte hier:

Athol Fugard 90: Teatergedigte

 

Die gedigtereeks word moontlik gemaak deur die ondersteuning van die LW Hiemstra Trust.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top