Van Coke se Dagdrome in suburbia – ’n resensie

  • 2

Ons het hom leer ken as die voorsanger van een van die mees omstrede bands in die Suid-Afrikaanse musiekgeskiedenis toe sy groep Fokofpolisiekar byna twee dekades gelede uitdagend, koppig en vreesloos op die toneel verskyn en grense binne die plaaslike musieklandskap en Afrikaanse kultuur vir ewig verpletter het. Daarna word Francois van Coke die voorman van die hardgebakte rock ’n roll-groep Van Coke Kartel, wat in die nadraai van Fokof morsig en koorsagtig deur dié landskap gestoomroller het. Soos hy self in lirieke van ’n nuwe snit “In die oomblik” beken: “ek was ’n wilde fokker toe ek jonger was”.

Deesdae is hy ’n familieman, en terwyl hy steeds saam met Fokofpolisiekar optree en nuwe musiek opneem, is hy lankal nie meer slegs ’n idol vir gefrustreerde tieners en studente nie, maar ook ’n Suid-Afrikaanse liefling vir ’n baie breër gehoor. Sy arena-grootte Francois van Coke en Vriende-konserte – waar hy saam met ’n verskeidenheid vooraanstaande plaaslike kunstenaars optree – is telkemale uitverkoop. Hy was onlangs aanbieder van sy eie televisieprogram Die Van Coke Show en vanjaar seëvierende spanleier op The Voice SA

Van Coke het sedert die vroeë Fokof-dae nie slegs aanhangers met hom saamgesleep nie, maar met sy suksesvolle vrystellings as solokunstenaar het hy ’n breër luisterpubliek bereik. Op sy selfgetitelde solo-debuut in 2015 is die treffer-liefdeslied “Toe vind ek jou”, opgeneem saam met Karen Zoid, wat tot op datum spog met byna nege miljoen besigtigings op YouTube. Daarop volg in 2017 Hierdie is die lewe met daarop onder meer die treffers “Dit raak beter (as jy ouer raak)” en “Die wêreld is mal”.

Pas het sy derde vollengte solo-album, Dagdrome in suburbia, die lig gesien, en soos die vorige twee solo-albums is dit ’n opregte tentoonstelling van waar Van Coke hom op sy lewenspad bevind.

Hierdie album open nie met kitaarnote nie, maar met die stem van ikoniese Afrikaanse nuusleser Riaan Cruywagen wat aankondig dat “rugby, die weer en die Openbaring” vandag “in die nuus” is. Die gebruik van Cruywagen se stem is dalk onverwags op ’n rock ’n roll-album, maar die generasie wat saam met Van Coke in Suid-Afrikaanse suburbia grootgeword het, word daardeur dadelik verplaas tot hulle voorstedelike voorkamers, en só word die breë tema en gevoel van die album reeds, ahem, ge-openbaar. Maar in plaas van ’n kalm nuusbulletin, à la Cruywagen, volg dan die onthutsende openingsnote van “Ek probleem”, en die lirieke is suiwer frustrasie:

die dae is lank maar die jare is kort
ek haat die geraas
ek haat die gemors
ek wens dit wil stop
ek kyk hoe die warm bergwind
’n plastieksak in die see in waai
voel nie sleg nie
voel soortvan gefok
wens my nagmerries stop
die dae is lank maar die jare is kort

Die album is egter genuanseerd, en kort na die storm van “Ek probleem” volg die gestroopte ballade “As ek kon”. In Van Coke se musiek oor die afgelope byna twee dekades, vanaf Fokofpolisiekar na Van Coke Kartel en daarna sy sololoopbaan, is ook sy persoonlike reis vervleg. ’n Mens neem dus aan dat hierdie lied gewortel is in sy vaderskap en dat hy daarin op uiters weerlose wyse met sy dogter praat:

dis koud as jy inkom
dis koud as jy uitgaan
ek was daar om te aanskou
gehuil onder ligte
in ’n vreemde kamer
ek was daar om jou vas te hou
ek wil nie maak of ek van beter weet nie
jy sal self vind
die wêreld is vol grootpraters en kakmakers, my kind
en as ek kon het ek jou beskerm en gewaarsku
teen als wat kom

Hierdie ballade breek opsetlik die woema wat “Ek probleem” aan die gang geskop het, maar dan kom daar weer ’n goue middeweg in tempo in die vorm van “Daarsy boys”, geskryf en opgeneem saam met Fokofpolisiekar se Hunter Kennedy, wat myns insiens ook die hoogtepunt van die album is. Soos die intertekstuele verwysing na Rage Against the Machine se “Killing in the Name” in die lirieke aandui, herinner dit op musikale vlak aan grungy 90’s rock ’n roll, met daarby ’n tong-in-die-kies “white boy rap” edge. ’n Komiese musiekvideo waarin Van Coke en Kennedy in die hartjie van Bellville uitgebeeld word, is op dieselfde dag as die album vrygestel, en hardvogtige aanhangers wat oor die jare saam met Van Coke sy reis vanaf die storm-en-drangjare tot nou toe meegemaak het, sal met die boodskap daarvan kan identifiseer:

ek’s net ’n anargis wat bly in die burbs
ek’s net ’n anargis wat eet by die Spur
ja, ons eet by die Spur

Die anthem van die album is nietemin die temalied “Dagdrome in suburbia”, opgeneem saam met jong rockers Spoegwolf. Soos elders op die album kry Van Coke dit hier reg om energie en melancholie te balanseer. Die resultaat is vaardig beheerste hondsdol rock ’n roll:

Tussen “Daarsy boys” en die titelsnit kom die oorkoepelende motief van die album uit die stof. Dit is duidelik dat Van Coke sy verhouding met die voorstad onder die loep plaas. Aan die een kant het hy gedagdroom van hoe hy eendag daar sal wegkom, met suburbia gesien as beperkend en simbolies van ’n voorspelbare bestaan terwyl die stad aan die ander kant van die nasionale pad die belofte van vryheid en verlossing inhou. Daarteenoor is daar die terugkeer na die voorstede op eie terme, die gelate aanvaarding van waar hy hom bevind (ofskoon die ironie daarvan hom nie ontgaan nie) en saam met die introspeksie binne hierdie ruimte (“Een lewe”, “In die oomblik”) ook ’n blik op die samelewing wat hom omring (“Bomskok”, “Wilde tye”).

Van Coke is fantasties op sy eie, maar wat sy albums laat skitter is die variasie wat meewerkings met ’n verskeidenheid kunstenaars en musiekregisseurs bring. Benewens die sterk enkelsnitte saam met Kennedy en Spoegwolf, is daar samewerkings met onderskeidelik plaaslike rapper Riky Rick, en vanjaar se wenner van The Voice SA, Tasché Burger. Rick was saam met Van Coke ’n spanleier op laasgenoemde televisiereeks, en Burger het onder Van Coke se leiding die louere weggedra. Dit is dus nie slegs sy lirieke wat spreek van waar hy hom op sy lewenspad bevind nie, maar die dinamika van sy loopbaan sypel deur tot die inhoud van hierdie album en dra by tot die verskeidenheid van aanbiedings.

Francois van Coke in aksie (Foto: Henry Engelbrecht)

Dis ook juis die slotlied “Hey, babe” saam met Tasché wat nogeens Van Coke se outentieke sensitiwiteit in sy volle glorie ten toon stel, soos ook met “Tot die son uitkom” (uit die Van Coke Kartel-dae) en “Toe vind ek jou” – geïnspireer deur sy liefdesverhouding met sy vrou en muse. Dis ’n besonderse sensitiwiteit wat nooit soetsappig is nie, maar aan sy werk dieper skakerings verleen; nie net in die ballades nie, maar in die geheel. En dis juis sodanige skakerings, tesame met sy outentiekheid, die verskeidenheid en die kwaliteit, wat Dagdrome in suburbia nog ’n waardige vrystelling maak.

  • 2

Kommentaar

  • Marie van der Merwe

    Ek is 70 jaar oud. Hierdie resensie is verteenwoordigend van my, en my kinders se lewe en die versugtinge en vrede van "Dit raak beter as jy ouer raak". SunArena was vir ons 'n sterervaring. Francois is 'n besondere begaafde musikant en het 'n hoogs intelligente aanvoeling vir almal se menswees.

  • Afrikaans se Kurt Cobain. Daai seuntjie v Spoegwolf is bietjie steurend met sy stywe pajama broekie en kaalvoete en op-en-af dolery oor die verhoog. Francois moet hom 'n paar pointers gee.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top