Titel: The Diamond Eye
Skrywer: Kate Quinn
Uitgewer: Harper Collins Publishers
ISBN: 978-0-00-852301-5
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer daarvan aan LitNet gestuur.
“When you planned to assassinate a president,” skryf Kate Quinn in haar vierde historiese roman The Diamond Eye, “you timed it when a Russian sniper was in town to take the fall for you.”
Die boek spring weg met ’n “bang”, so asof ’n skerpskutter ’n doodskoot afgevuur het. Soos die projektiel sy teiken nader, versnel die tempo. Die laaste 100-plus bladsye is van die vinnigste wat ek nog in ’n spanningsroman gelees het.
Twee vroue skud in Washington, DC hand. Die een is die Amerikaanse presidentsvrou Eleanor Roosevelt. Die ander een is die 25-jarige Russiese skerpskutter Lyudmila “Mila” Pavlichenko.
Die spanning word reeds in die tweede paragraaf snaarstyf wanneer ’n onbekende skerpskutter hulle met valkoë dophou. Die skerpskutter is gehuur om president Franklin Roosevelt te vermoor en al die nodige dokumentasie is aan hom voorsien om so na moontlik aan sy teiken te kom.
Die hoofstukke wissel tussen tydperke en word uit drie karakters se oogpunte vertel: Mila (November 1937–1942), Eleanor se notas, en die onbekende skerpskutter (Augustus 1942).
Al Mila se hoofstukke word met ’n kitsuittreksel uit haar memoires – nie-amptelik en amptelik – ingelei. Dit skets die verhaal van ’n boekwurm, ma en aspirant-historikus wat opgelei word as ’n skerpskutter. Sy verwerf die bynaam “Lady Death” en spog met 309 bevestigde moorde op haar kerfstok, insluitend 36 skerpskutters.
My eerste gedagte is oorlogpropaganda, maar Google stel my in kennis dat Mila beskou word as die vyfde dodelikste skerpskutter in die geskiedenis. Haar outobiografie Lady Death: The Memoirs of Stalin's Sniper, wat in 2018 publiseer is, is met lof besing.
Die grootste gedeelte van Mila se verhaal speel te midde van die Tweede Wêreldoorlog af. Met die klem op die beleg van Sevastopol. Die kat-en-muis-spel tussen haar en veral die Duitse skerpskutter Helmut Bommel staan uit.
Die klimaks draai rondom die komplot om president Roosevelt te vermoor.
Die titel ontstaan uit Eleanor se verwysing na Mila se skerpskutteroog as “an eye like a diamond”.
Die boek het soveel tegniese detail dit voel amper of die leser aanlê en skiet. Maar daar is ook romanse en verlies, humor, en die belangrikste, ’n mens agter die sneller. Ek lees nie normaalweg skrywersnotas nie, maar in The Diamond Eye s’n leer ons soveel meer van Mila.
Die New York Times-blitsverkoper slaag daarin om ’n werklike historiese biografie in ’n “page-turner”-fiksie te omskep. Quinn se vorige drie boeke The Alice Network, The Huntress en The Rose Code se hoofkarakters is ook almal sterk vroue.
Ek beveel The Diamond Eye vir lesers aan wat van historiese romans, komplotteorieë en politieke spanningsverhale hou, asook vir aanhangers van Stephen Hunter, Scott McEwen en Jack Coughlin se skerpskutterreekse.