Van boekfeeste en protesaksies

  • 3

ʼn Week gelede ry ek in, Kaapstad toe, om deel te neem aan ʼn boekbespreking by die Open Book Festival.

Buite die ICC-geboue-kompleks het ʼn aantal protesteerders vreedsaam protes aangeteken. Deel van hul protes het plaasgevind in Nelson Mandela Boulevard. Die polisie het toe besluit om die snelweg te sluit. My kar was derde in die ry van waar die polisievoertuie dwarsoor die pad geparkeer was. Dis net voor vier in die middag, met spitsverkeer in volle swang. Behalwe dat ons soos sardientjies ingeryg gesit het, en nie vorentoe of agtertoe kon beweeg nie. Wat my opgeval het van die protesteerders was hulle absolute dissipline. Daar was geen aggressie nie. Daar was geen onnodige interaksie met die polisie of met motoriste nie.

Juis daarom het die geknal van ʼn geweer my so geskok. Toe bring die polisie ʼn waterkanon in. Protesteerders hardloop weg, paniekbevange motoriste probeer van die polisie af wegkom, polisie jaag tussen karre en onder protesteerders in.  Absolute chaos het losgebars. Onnodiglik. Ek is oortuig daarvan dat as die polisie die situasie anders hanteer het, sou die protes vreedsaam verloop het, en die protesteerders sou aanbeweeg het. Die polisie het dit laat eskaleer.

Later kon ons nie by die lokaal uitkom waar die bespreking gehou is nie. Buitenkantstraat was ook gesluit weens protes-aksie. Ons het in ʼn systraat parkeer, en afgestap. Voor die polisiekantoor in Roelandstraat het ʼn groep jong meisies in ʼn sirkel in die pad gestaan. Hulle protes was oor die geweld teen vroue. Weer was die protes heeltemal vreedsaam – met polisiemanne in volle onlustemondering en met haelgewere gereed om op te tree. Van die meisies se mede-protesteerders is vroeër die dag aangerand en in hegtenis geneem.

Terwyl ek daar staan en kyk het na die kinders, en hulle is nog bloedjong, skaars-uit-hul-tienerjare kinders, het ek gewonder of die polisiemanne die ironie van hul gedrag insien. Hierdie meisies protesteer teen die geweld wat aan vroueliggame gedoen word in spasies wat veronderstel is om veilig te wees. Hier staan die polisie, wat veronderstel is om hulle veilig te hou, gereed om verdere geweld aan te rig.

Ons gesprek die aand het gegaan oor die trauma wat apartheid en staatsgefundeerde, institusionele geweld op verskillende generasies mense uitoefen – nie net dié wat dit fisies deurgemaak het nie, maar ook hul kinders wat met sekondêre trauma saamleef.

Terwyl ons binne die gebou reflekteer het oor historiese geweld, het hedendaagse geweld buite afgespeel. Ook institusioneel. Ook die buitensporige uitoefening van geweld deur gesagsfigure. Wat het ons dan regtig geleer in die afgelope aantal dekades? As ons staatsinstellings nog op presies dieselfde manier optree as tydens apartheid, hoe kan ons ander uitkomste verwag? As ons steeds staatmaak op kragdadigheid om andersdenkendes te onderdruk, hoe kan ons lojaliteit van ons burgers verwag? En watter trauma is ons alreeds besig om die volgende geslag, die kinders van hierdie jong protesteerders, aan te doen?

Ná Open Book was ek by die South African Bookfair. Hier het ek ʼn gesprek gelei oor staatskaping en korrupsie. Tussendeur het ek ook ander gesprekke bygewoon. Een daarvan was tussen die eertydse kanselier van Wits, Adam Habib, en van die studenteleiers tydens die Fees must fall-protes. Die woorde van die vroulike student, Sarah Mokwebo, in reaksie op ʼn vraag oor gender en protes, sal my altyd bybly. Sy het gesê “We have tried silent protest, violent protest, civil protest, uncivil protest, and nothing has changed.”

Terwyl ons op Constitution Hill in die vrouetronk besin het oor die stand van ons land, het helikopters buite gevlieg en die protes probeer beheer. Hierdie keer was dit taxi-geweld en xenofobiese aanvalle.

Die mees kragtige, simboliese verset wat ek daar ervaar het, was toe Gcina Mhlope in die middel van die atrium gaan staan het en ʼn gedig begin voordra het. “Celebrate you, woman of Africa, this is a new day,” was die refrein. Terwyl sy voordra, het al meer vroue in die middel van die atrium by haar aangesluit, en hulle het in ʼn sirkel begin beweeg terwyl hulle amper hipnoties die refrein gedreunsing het. Teen die tyd dat Gcina spasie maak vir ʼn vrou in ʼn rolstoel om ook deel van die sirkel te vorm, het die trane onbeskaamd oor my wange gerol. Wit, swart, gestremd, vroue wat saam beweeg en saam protesteer teen geweld. Eenheid in aksie.

Op ʼn baie simboliese manier het protes-aksies en boekgesprekke hierdie week in my kop verstrengel geraak. Daar is soveel ooreenkomste. Die doel van protes is tog om die status quo te bevraagteken, om dit te onderbreek en ontwrig, om gesprekke wat onderdruk word, in die oopte te bring. Om die verkeer op ʼn snelweg tot stilstand te bring, is effektief. Let wel, ek is nie besig om te praat van die elemente wat bande brand en klippe gooi nie, ek praat van vreedsame verset. Om in die pad van ʼn Casspir te gaan lê en jou fisiese liggaam te gebruik om die staatsmasjinerie te stop, is effektief. Om voor ʼn polisiestasie in die middel van die pad te gaan sit, is effektief.

Waar laat dit kunstenaars? Is daar dan ook plek vir die kunste om gesprekke oop te krap en verset te vergestalt? Mhlope se voordrag antwoord eintlik reeds daai vraag.

Flieks, musiek, boeke, gedigte, skilderye, komedies, sketsprente ... alle denkbare vorms van kuns, kan in diens van verset gebruik word. Uit die aard van wat ek doen, is die woordkuns vir my belangrik. Woorde, of dit gesing, gepraat of geskryf word, kan ʼn verskil maak. Dit kan verborgenhede oopvlek.

Ek het hierdie week deelgeneem aan boekbesprekings terwyl my hart eintlik gebrand het om buite aan die protes deel te neem. Was dit ʼn cop-out, ivoortoringwerk, terwyl die werklike, brandende kwessies buite in die strate uitspeel? Was dit net ʼn alternatiewe vorm van protes, een wat op ander maniere en in ander sfere uitspeel?

Die groter vraag vir my is: maak dit enige verskil? Die protes in die straat, die protes in die lokaal, die protes op kampus, die protes by die polisiestasie, die dra van t-hemde, die uitspel van slogans, die gebruik van hutsmerke, die dra van plakkate, die voordra van gedigte, die sing van liedere, die maak van opruiende toesprake? Maak dit gesprekke oop? Verander dit gedagtes? Onderbreek en ontwrig dit die status quo? Maak dit ʼn verskil? Sou die protesteerder met haar plakkaat enige verskil maak sonder die kommentaar van die joernalis of die opinieskrywer wat die kwessies uitlig?

Is ons in 2019 regtig nog in staat om een vorm van protes van die ander te onderskei? Ek dink nie so nie. Iewers, ongemerk, het ons simbioties en organies afhanklik van mekaar begin raak.

A luta continua in die straat. A luta continua by die boekfees. Ons krag lê juis in ons verskille.

A luta continua.

 

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Johann Vlakvark van Werkstrotshoogte

    Geagte Me. Wyngaard,

    Doen uself ‘n groot guns in die lewe. Gaan bestudeer George Orwell se werke “Animal Farm” en “1984”.

    Wat sou u die huidige ná-1994 Suid-Afrikaanse Animal Farm noem? En wie gaan die heersende elite wees in die ANC se beoogde South African National Democratic Society Animal Farm” ?

    En so kom en gaan die een na die ander South African Animal Farms die toekoms in en strompel en vroetel Suid-Afrikaners voort op die pad van ekonomies nie-wêreld kompeteerbaarheid en selfbejammering. En die res van die wêreld gee haas nie ‘n flenter om vir SA as maar net nog ‘n Afrika-mislukking.

    So, ek sien uit na u Gantt-kaart hoe om Suid-Afrika op te hef tot ekonomies wêreldkompeteerbaarheid waar niemand honger sal gaan slaap nie en mans werkstrots sal hê.

    Geniet die opstel van die Gantt-kaart asook die komende naweek.

  • Avatar
    Gustaf Claassens

    Net 'n vraag; "Is dit nie omdat daar oor feitlik alles geprotesteer word, dat uitsonderlike protesvergaderings nie meer in hulle doel slaag nie?"

    Vir baie het dit 'n soort tydverdryf geword en wanneer diesulkes hande vat, word protes een groot klugspel. Wat die polisie se rol betref; natuurlik vererger hulle dikwels die situasie. Die rede? Onbevoegdheid, powere opleiding en individue wat nie weet hoe om 'mag' te hanteer nie.

    En, jammer vir die tyding Bettina. Dinge gaan nie (gou) verander nie.

  • Ag, Johann Vlakvark, waar val jy tog nou uit. Dit klink my kompleet of jy ’n soort standaardbrief het wat jy sommer aan enige van Bettina se rubrieke heg om jou teenkanting te wys. Iet soos “sê my waarvoor is jy dan is ek daarteen”.

    Dit gaan oor protes en in die besonder die afgelope tyd se protesaksies oor geweld teen vroue en kinders. En vir geval jy die TV afgesit het om dit nie te sien nie moes jy darem seker gesien/-hoor/-lees het dat die jongste misdaadstatistiek bevestig dat dit steeds versleg.

    En nee, Gustaf, hieroor kan mens nie te veel protesteer nie. Ek skaam my dat ek en ander wit vroue nie dekades gelede daaroor gepraat het nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top