1. Jy het pas ’n referaat gelewer by USAN se kongres vir jong navorsers. In ’n sin: Wat was jou indruk van die kongres?
’n Baie goedgeorganiseerde kongres. Die referate was oorwegend op ’n hoë standaard, en ek dink die feit dat dit ’n klein kongres was, met slegs twee parallelle sessies, het die geleentheid vir jou as kongresganger gebied om daardie sessies by te woon waarin jy geïnteresseerd was. Ek dink dit kan uitbrei en ontwikkel tot ’n baie belangrike akademiese ontmoetingsone in die toekoms.
2. ’n Kongres vir jong navorsers was geskiedkundig binne die Suid-Afrikaanse konteks, soos Louise Viljoen in haar verwelkoming en Johan Hattingh in sy opening gesê het. Wat beteken dit vir jou om ’n “jong navorser” genoem te word?
Dit laat my minder oud voel!
3. Was daar by die kongres geleentheid om navorsingsidees met medekongresgangers en -referaataanbieders uit te ruil? Watter referate wat hier gelewer is het jou persoonlik interesseer?
Omdat ’n kongres nie ’n simposium is nie, is daar minder interaksie tussen aanbieders en die gehoor, met die gevolg dat aanbiedings soms ’n statiese karakter aanneem. Veral by ’n kongres vir jong navorsers is die gesprek ná die aanbieding van net soveel waarde as die referaat self.
Referate deur Bibi Burger oor Jeanne Goosen en Maud Gonne oor oordrag (transfer activities) het my interesseer, asook dié van Alettie van den Heever oor heterotopiese literatuur.
4. Joan Hambidge se hoofreferaat het gehandel oor DJ Opperman, voorheen haar studieleier en digterlike mentorsfiguur. Het jy by hierdie kongres ook soms geleentheid gekry om aan die voete van gryser meesters te kon leer?
Die teenwoordigheid van die gryser meesters by die kongres het ’n positiewe spanning meegebring by my as aanbieder, wat belangrik is vir die “vorentoe beur” van jou as jonger navorser. Die vrae wat deur iemand soos Louise Viljoen gevra is, om maar een te noem, was indringend in die opsig dat dit die aanbieder (en trouens ook die res van die gehoor) ook indringend oor sy/haar onderwerp en teoretisering laat dink het.
5. Op die kongres se openingsaand is genoem dat een van die hoofmotiverings om akademiese navorsing te doen, geleë is in “intellektuele genot”. Maar ons almal het ook brood op die tafel nodig, of hoe? Wat is vir jou persoonlike oorwegings waarom jy navorsing doen?
Dit is ’n wipplank-effek. Op voorgraadse vlak was “navorsing” geweldig opwindend en stimulerend, want dit het ’n mens verby die voor die hand liggende laat kyk en dink. Op nagraadse vlak is navorsing jou brood en botter in terme van om uiteindelik ’n graad te bekom. Die intellektuele genot lê vir my daarin om te bly werk aan ’n ander manier van kyk en van dink oor tekste, skrywers, vertalers. Om ’n boom se stam te beskou, dit oop te kloof, en nooit op te hou kýk nie.
6. Die kongres is deur die Universiteit Stellenbosch se Departement Afrikaans en Nederlands georganiseer. Johan Hattingh het in sy opening verwys na hoe tale grense kan oorsteek en nuwe diskoerse kan ontsluit. Dus is hier ook, buiten die klem op ouderdom, ook ’n fokus op taal. Wat beteken taligheid vir jou – by die kongres en in jou studies?
Ek wens ek het ’n “talige” antwoord hierop gehad. Wat my geweldig interesseer, is die proses wat plaasvind binne die individu wat tussen tale beweeg. ’n Mens dink soms nie twee keer oor die “feit” dat jy gemakliker in jou moedertaal dink en skryf nie. Die internasionale en geglobaliseerde karakter van Engels, byvoorbeeld, het hierdie siening al effens op sy kop gekeer. Soms is dit werklik maklik om in jou tweede taal, Engels, te skryf, veral op akademiese vlak. En ek wonder wat dit is wat hierdie skuif veroorsaak of bewerkstellig.
7. Johan Hattingh het in sy opening verwys na ’n ander kongres waar kursusgangers gevra is om hul referate in ses sinne op te som. Kan jy dit probeer doen?
My referaat handel oor Antjie Krog in die tussenruimte van vertaling. In die referaat beweer ek dat Krog, in die proses van die vertaling van haar eie werk uit ’n mineurtaal/-letterkunde (Afrikaans) in ’n taal van mag, die majeurtaal (Engels) abjektifiseer. Hierdeur skep sy ’n delikate tussenruimte of grens in die doeltaal: ’n grens waar die taal dubbel, vaag, heterogeen, gemetamorfeer is. Hierdie abjeksie vind op twee vlakke neerslag: aan die een kant is Krog se teenwoordigheid in die Engelse literêre veld ambivalent, onstabiel, en daag dit “skoon, ordelike” sisteem uit; aan die ander kant ondermyn sy die majeurtaal deur haar nieordelike self en haar nieordelike taal met subversiwiteit te vertaal. Die fokus val op haar bundels Down to my last skin en Verweerskrif/Body Bereft.

