US Woordfeesprogram 2012: Woord-ure

  • 0
Woord-ure

Wandeling oor argitektuur
Hoe goed ken jy die argitektoniese skatte van Stellenbosch se middedorp? Matilda Burden neem jou op ? staptog wat jou met ander oë sal laat kyk na die hart van die Eikestad met sy ryke skakerings van argitektoniese juwele.
5-10 Maart 17:00 | Vertrek vanaf Erfurthuis | 60min | R40

Van groentjie tot skrywer
In samewerking met LitNet.  Met Fourie Botha, Nicole Jaekel-Strauss en Theo Kemp in gesprek met Bibi Slippers
Om te skryfskool of nie: 'n gesprek oor die voor- en nadele van skryfskole aan universiteite. Die invloed van die mentor en die langtermyn impak van die skryfskool word bespreek. LitNet se Bibi Slippers stel vrae aan jong skrywers wat deur die meul is.
5 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Geloof in 'n postmoderne tyd
Aangebied deur Griffel Media
Die begrippe wat Christene gebruik as daar oor geloof praat en dink, kom uit 'n tyd lank gelede – ontleen uit geskrifte soos die Bybel en belydenisskrifte, wat ontstaan het lank voor die moderne wetenskap. Skrywer Ben du Toit vertel hoe mense hul geloof in God vertaal in hedendaagse terme.
5 Maart 16:00 | Boektent | 50min | Gratis

Treasures of the Getty Villa
Presented by US Discussion Forum for the Humanities and Social Sciences. With Samantha Masters from the Department of Ancient Studies
The Getty Villa in Malibu, California, is a realisation of J. Paul Getty’s dream to recreate the ancient Roman Villa dei Papiri from Herculaneum, destroyed by the eruption of Vesuvius in 79 CE. The Villa now houses one of the finest ancient art collections in the world, though it has been recently tainted with controversy around the illicit acquisition of certain artefacts. This visual lecture explores the fascinating Getty Villa and its treasures, as well as recent intrigues and court cases involving the museum.
5 March 16:00 | Erfurthuis | 50min | Free

Cas van Rensburg
Die prinses in elke vrou is die jongste boek deur Cas van Rensburg, bekende skrywer, kenner van die Jungiaanse sielkunde en droomanalise. Aan die hand van die Sneeuwitjie-sprokie en gegewens oor hedendaagse prinsesse lei hy jou tot die ontsluiting van jou innerlike potensiaal om die vervulde mens te word waarvoor ons almal bestem is.
6 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Die lewens van John Kannemeyer
Die monumentale woordwerker en gevierde literêre historikus John Kannemeyer is onlangs oorlede. In hierdie huldigingsgesprek praat Louise Viljoen oor sy vroeëre loopbaan, Wium van Zyl oor sy latere jare en Hermann Giliomee oor sy bydrae as biograaf. Dorothea van Zyl is die gespreksleier.
6 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R40

Lyk goed, luiaard!
Aangebied deur Griffel Media 
Lyk Goed, die lui gids vir ’n beter lyf, is ’n ongewone handleiding waarin Jan van Rensburg vanuit ’n luiaardsperspektief verduidelik hoe mans en dames hul liggame kan omvorm om op hulle heel beste te lyk met die minste moontlike moeite en opoffering, maar met blywende sukses. Die skrywer deel eerstehands wenke uit!
6 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Uit die mond van die leser
Met Wilna Adriaanse, Carina Diedericks-Hugo, Naomi Bruwer en Madri Victor
Koerantresensies raak dalk minder, maar sosiale netwerke, gesprekforums en blogs verander elke leser in ? kritikus en kuberresensent. Skrywers kry meer lesersterugvoer as ooit. Hoe belangrik ís die leser se oordeel? Kom luister wat sê ons uitgelese paneel.
6 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Politiek op papier
In samewerking met LitNet.  Desmond Painter gesels met SJ Naudé, Alexander Strachan en Helena Gunter
Hoe vind die tydsgees beslag in ons skrywers se werk? In hierdie gesprek word die skrywer se rol as sosiale en politieke kommentator bekyk aan die hand van uiteenlopende tekste.
6 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Is die gras groener anderkant?
In hierdie eenvrouvertoning vertel die geliefde Tossie Lochner van haar 40 jaar tussen Italiaanse kleinboere, vanwaar sy insetsels vir Monitor gedoen het. ? Dawidsbeeld, Pinocchio-marionet en ? skoonma uit die hel maak deel uit van hierdie meesleurende aanbieding. Italiaanse herinneringskuns is te koop.
6 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40

Slaphakskeentjies
Dine van Zyl en Willem Botha praat oor Boerekos – die gebruike, die tradisie en die herkoms van die woorde – en dit alles in die kwylbek klank van Afrikaans. Kry ? proeseltjie vooraf, sluk ? glasie en wen ? woordeboek of kosboek. ? Waarborg vir lag en lekkerkry, met ? titseltjie nostalgie daarby.
7 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Hier staan ek
Aangebied deur Griffel Media. Met Lina Spies, Annelize Vermaak, Jean Oosthuizen en Leon Atterbury
Al hoe meer mense vra kritiese vrae oor die geloof waarmee hulle groot geword het en vind alternatiewe maniere om die spirituele te beleef en te verwoord. In dié paneelbespreking voer sprekers 'n openhartige gesprek oor hul sienings en ervarings.
8 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40

Schreiner, kampvegter vir Afrikaans
In die dekade voor die Anglo-Boereoorlog het die skrywer en menseregte-aktivis Olive Schreiner ? pro-Boer-veldtog in die Kaapkolonie en in Engeland gevoer as teenvoeter vir die Engelse propaganda-aanslag teen Afrikaners landwyd. Martiens van Bart lig die sluier oor ? Schreiner wat onbekend is vir huidige generasies.
8 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Die groen in die gedig
Wat is ekokritiek? Hoe lyk ’n ekogedig? Wat het Darwin en DNA hiermee te doen? En hoe lyk ’n wurmtegniek? Digter en akademikus Susan Smith gesels oor die groen in die gedig aan die hand van enkele Afrikaanse en internasionale verse en ruim sommer ’n paar wanpersepsies uit die weg. ’n Móét vir alle poësie-aanhangers.
9 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Die Joy Aken-dossier
Aangebied deur Protea Boekhuis
Chris Marnewick wys waarheid is erger as fiksie. Die Joy Aken-dossier vertel die verhaal van Clarence Gordon van Buuren wat in 1957 skuldig bevind en tereggestel is na die moord op Joy Aken. Hy het tot op die einde skuld ontken. Daar was 'n seksuele verhouding en verminking van die lyk... Maar kom luister self wat die skrywer verklap oor al die tergende geheime.
9 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Pomp 12
Aangebied deur Griffel Media
Die welbekende Rudi Stroebel lei met groot élan en entoesiasme ’n paneelbespreking oor die nuwe en opwindende twaalfde uitgawe van Pomp. 'n Vrolike geleentheid waaraan verskeie Pomp-bydraers deelneem. Moenie dit misloop nie!
9 Maart 16:00 | Boektent | 80min | Gratis

Verkragting
Aangebied deur die US Gespreksforum vir die Geestes- en Sosiale Wetenskappe
Ten einde die hoë verkragtingsyfers in Suid-Afrika te probeer verstaan, werp Louise du Toit lig op hoe vroulike seksualiteit geobjektiveer word tot seksuele besitting. Die pogings teen verkragting word telkens gestuit deur hierdie grondliggende benadering, met slegte gevolge vir slagoffers. Sy ondersoek ook die nuwe Suid-Afrikaanse verkragtingswetgewing.
10 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Gwen Fagan
Gwen Fagan is ? skrywer oor rose, historiese geboue en tuine, maar as bobaas ranconteur ken sy ook die lewe op Stellenbosch en in die Swartland soos haar handpalm. As kenner van rose het sy haas geen gelyke nie. Kom luister na Amanda Botha se gesprek, oor onder andere rose, met dié inspirerende vrou wat die lewe omhels en nie stuit vir opofferings nie!
10 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Na die naaimasjien
Met Sandra Prinsloo, Rachelle Greeff, Hennie van Greunen en Leon de Kock
Met ? speelvak wat oor jare gestrek het, het Rachelle Greeff se bekroonde drama Die naaimasjien min gelyke. Dié suksesverhaal word voortgesit met ? Engelse vertaling wat vanjaar in Engeland opgevoer word. In dié bespreking vertel die dramaturg, vertaler, aktrise en regisseur van hul ervaringe met hierdie stuk.
10 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40






Keer terug na die program-indeksblad.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top