US Woordfeesprogram 2012: Skrywersfees

  • 0
Skrywersfees

Ondersteun deur Naspers, tensy anders aangedui.

Baasspeurder Piet Byleveld
Aangebied deur Umuzi
Suid-Afrika se beroemdste speurder, Piet Byleveld, vertel van 'n leeftyd op die spoor van die land se berugste misdadigers. Spanningskrywer Mike Nicol open die dossiere in hierdie gesprek met die gewilde oudbrigadier en sy bekende biograaf, Hanlie Retief.
5 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R50

Bloed-wát?
Met Malene Breytenbach, Douwleen Bredenhann, Ilse Salzwedel en gespreksleier Karin Brynard
Bekroonde misdaadskrywer Karin Brynard gesels met Malene Breytenbach (Bloedgrond), Douwleen Bredenhann (Bloedwater) en Ilse Salzwedel (Bloedsusters) oor die rare toeval dat hulle in 2011 elk ’n eenwoordtitel wat met bloed begin, op die rakke het. Totaal uiteenlopende en oorvleuelende bloedbande word ontgin. En Karin kán bloed laat spat!
5 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Kop op ’n blok
Aangebied deur Protea Boekhuis
Die immergroen en immergewilde Philip de Vos begoël ons met ’n program vol foto’s, rympies, musiek en skinderpraatjies. Hy het oor die jare van die land se bekendste mense leer ken, en daaroor skryf hy. Tussenin is daar grappe, rympies, idees en vertellings oor enige een – van Gary Player tot Eugène Terre’Blanche...
5 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R50

Sanlam | LitNet Resensiekliniek
(Ondersteun deur Sanlam, in samewerking met LitNet) Met Marius Crous
Is jy 'n literêre snydokter wat graag in 'n gerekende publikasie wil laat hoor hoe jy voel oor jou gunsteling- (en minder gunsteling-) boeke? Voorskrifte is uit, maar kom leer die kuns van resensieskryf by Sanlam en LitNet se resensiekliniek. Kom diagnoseer wat maak die literêre bedryf gesond, wat werk, of nie, en hoekom – in ’n ontspanne atmosfeer en ’n klein groepie van 15 deelnemers. Kontak LitNet voor 20 Februarie vir besonderhede oor deelname: skryfskool@litnet.co.za. Middagete by De Vette Mossel ingesluit.
6 Maart 09:00 – 12:30 | De Hoek gastehuis | R200

Watter resensies kry die groen lig?
In samewerking met Sanlam en LitNet
Wat maak sommige resensies beter as ander, wat is die effek van resensies op die publiek, en wat is die stand van kritiek in ons koerante en aanlyn-publikasies? By dié middagete-praatjie gesels Marius Crous, Elmari Rautenbach en Kerneels Breytenbach oor resensies in Afrikaanse publikasies. Wat laat die rooi ligte flikker? Kom sluit aan vir antwoorde op dié vrae en smul aan 'n seekospot saam met ’n glasie Drostdy-Hof-wyn.
6 Maart 13:00 | De Vette Mossel | 60min | R80

Waarom misdaad?
Aangebied deur Lapa
Die aanvraag na misdaadfiksie neem wêreldwyd toe. Ook in Afrikaans kan lesers nie genoeg kry nie. Karin Brynard gesels met drie Afrikaanse misdaadskrywers: Chanette Paul, François Bloemhof en Deborah Steinmair oor dié verskynsel, en oor die ontlading wat spanning kan bring.
6 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40


Al skrywend aan J.M. Coetzee
Hannes van Zyl lig die sluier oor J.C. Kannemeyer se biografie van Nobelpryswenner J.M. Coetzee wat Kannemeyer voor sy dood voltooi het en wat later vanjaar verskyn. Fragmente uit die manuskrip word voorgelees deur Dorothea van Zyl, en Lucy Graham lewer ’n inleiding oor die werk van J.M. Coetzee.
7 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Inheems met Antjie Krog
'n Hoogtepunt op ons skrywersprogram! Die internasionaal-bekende Antjie Krog laat Afrikaanse tekste klink saam met inheemse sustertale: Kwedam, Xhosa en Sesotho. Voordragkunstenaars word gekomplementeer deur die klanke van inheemse instrumente.
7 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R60

Mongane Wally Serote
Presented by the US Discussion Forum for the Humanities and Social Sciences
Multi-award winning poet, novelist and essayist Mongane Wally Serote in conversation with Leon de Kock on a lifetime in the world of literature. Serote reflects on his life journey that stretches from the Black Consciousness Movement, his student days at Columbia University and his days as an Umkontho we Sizwe cadre in Botswana. Meet this living treasure with the deep voice and huge heart.
7 March 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Om die droogte groen te skryf
Aangebied deur Protea Boekhuis
Met Daniel Hugo, Louis Esterhuizen, Elias P. Nel, Melt Myburgh en Lené Malan
Die noordweste van ons land is ’n ongenaakbare, droë wêreld, maar dit lewer van Afrikaans se mooiste skryfwerk op. Hoekom? Daniel Hugo, self ’n samesteller van ’n digbundel oor die dorre Namibië, gesels hieroor met ’n paneel skrywers wat goed vertroud is met die konsep “droogte”.
8 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Ons is nuut hier!
Ronelda Kamfer en Margot Luyt stel vars nuwe talent voor wat hulle besig hou met 'n ou kunsvorm: die digkuns. Kom kyk watter groot groen eikebome groei uit klein akkertjies. Opkomende jong stemme soos Pieter Odendaal, Nathan Trantraal, Liesl Kruger en Hendrik van Niekerk demonstreer hoe hulle nuwe groeikrag aan die poësie gee. 'n Onvergeetlike ervaring!
8 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Tant Miem
Met Bettie Kemp, Petra Müller, Amanda Botha en KleinMiem Rothman
Ontmoet M.E.R. (1875 – 1975) oftewel Ta’ Miem Rothmann van Swellendam, uitnemende prosaïs en joernalis. Een van die grootste Afrikaners van die vorige eeu: pleitbesorger vir armes en eensames, vurige stryder vir vroue-bemagtiging. Ook die geliefde taMiem van haar “Kaapse kinders”: Alba Bouwer, Rykie van Reenen en Audrey Blignault. Die sprekers tree vir ’n rukkie terug in haar wêreld en dink na oor haar nalatenskap.
9 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R40

Groen van jaloesie
In samewerking met LitNet
Met Kees t' Hart, Jan van Tonder en Kirby van der Merwe
Wat maak 'n boek só goed of 'n sin só uitstekend dat dit die groenoog-monster onder ander skrywers laat kop uitsteek? Elna van der Merwe lei die gesprek met skrywers oor die boeke en woordkunstenaars wat hulle inspireer, motiveer en sommer pleinweg jaloers maak. 
9 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R40

Neerlandistiekdag
Ondersteun deur die Nederlandse Taalunie, Kaapse Forum vir Neerlandistiek, Van Ewijck-Stigting en Fonds Neerlandistiek
Ons maak Nederlands lewendig vir studente van ses verskillende universiteite deur insiggewende lesings deur dosente, en onderhoude met die Nederlandse skrywers en kunstenaars by die fees. Kom ontmoet die groot Vlaamse digter Leonard Nolens, die bekroonde Nederlandse skrywer Kees ‘t Hart, ‘Theater van de verloren tijd’ wat gedigte voordra op versoek, en die bekende Vlaamse orrelis Stijn Hanssens. Net ’n paar plekke vir belangstellendes – bespreek gou!
10 Maart 09:00 - 14:00 | Letteregebou: Lokaal 693 | 360min | R60 (ligte ete ingesluit)

Die tuiskoms van Wilhelmina Radebe
Aangebied deur Lapa
Steward van Wyk, Diana Ferrus en E.K.M. Dido bespreek Marinda van Zyl se roman Die tuiskoms van Wilhelmina Radebe kom tuis, waarin op deernisvolle wyse en met historiese korrektheid stem gegee word aan die onvertelde stories van Afrikaanse township-moeders. Aangrypend!
10 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Ons geliefde digters
Ondersteun deur Leserskring; in samewerking met RSG en By
Leserskring stel vyf van Afrikaans se gewildste digters voor by die Woordfees: Danie Marais, Ronelda Kamfer, Daniel Hugo, Diana Ferrus en Joan Hambidge. Dié woordkunstenaars lees verse voor wat bewys waarom hulle so bemind geraak het by die Suid-Afrikaanse publiek. As spesiale toegif sluit Leonard Nolens, die grootste lewende Vlaamse digter, by hulle aan.
10 Maart | 11:00 | Boektent | 80min | R50

En soe kap ôs an!
Ietsie ouds, ietsie nuuts en ietsie tussenin! 'n Aantal opkomende digters: Joanne Bate en die kletsrym-sensasie Kaapse Woordenaar kappit an saam met gevestigde woordkunstenaars Monty Isaacs en Willem Fransman Jnr. Maak jou reg vir 'n hutspot van humoristiese Kaapse en Xhosa-verse, asook 'n goeie konkoksie kletsrym.
10 Maart 12:00 | Sasol Kunsmuseum | 50min | Gratis

Oop mikrofoon
Valiant Swart is die gasheer vir opkomende, ongepubliseerde skrywers wat hul stemme wil laat hoor by die Woordfees. Elke deelnemer kry vyf minute om sy of haar staal te wys. Om deel te neem: stuur voor 1 Maart 2012 'n e-pos aan Melt Myburgh by woord@sun.ac.za. Wie weet, miskien is daar 'n uitgewer op die uitkyk vir groen koring op die land.
10 Maart 15:00 | Erfurthuis | 90min | Gratis

Roepman: Jan van Tonder
Die filmsukses van Jan van Tonder se Roepman het dié skrywer se loopbaan na nuwe wentelbane verplaas. Pasella-aanbieder Vicky Davis gesels met Jan oor Roepman se sukses as boek en film, asook oor sy jongste publikasie Anderkant Omdraai.
10 Maart 16:00 | Boektent | 50min | R40


Keer terug na die program-indeksblad.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top