US Woordfeesprogram 2012: NB-fees

  • 0
NB-fees

Die rolbalspeler
Elize Parkergesels met Zain Eckleton oor sy debuutroman Die rolbalspeler, 'n ontroerende verhaal van 'n jong man wat vir die eerste keer in sy lewe sy voete vind. Sy gesiggestremdheid is dalk 'n hindernis, maar niks skeel met sy verstand en met sy hart nie. Maak kennis met ? skrywer wie se werk jou uitsig op die lewe sal verander.
6 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Theo Kemp en Carina Stander
Twee talentvolle skrywers saam op een verhoog! Theo Kemp (voorheen Woordfeesprojekbestuurder) se Skool ondersoek die krisis wat heers in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel. In Carina Stander se Wildvreemd laat agt ek-vertellers hul skuld én broosheid blyk. Kom luister hoe praat dié jong woordkunstenaars oor hul ambag.
6 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Van Vellerif tot Lammersbaai
Met E. Kotze en Hermione Suttner
Twee Weskus-skrywers ontmoet! Sussie Kotze (E. Kotze) is die veteraan van hoogstaande kortverhaalbundels soos Halfkrone vir die Nagmaal en romans soos Toring se baai en Hoogty. Hermione Suttner is die nuweling met Bitter heuning. Hulle vertel meesleurend oor die see, die veld en “Vêllerif”, soos die Weskussers van die prentjiemooi rivierdorp praat. Suzette Kotzé-Myburgh en Linda Rode lei die gesprek.
6 Maart 16:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Marzanne Leroux-Van der Boon
In samewerking met Leef met hart en siel-tydskrif
Lux Verbi stel die vyfde roman in Marzanne Leroux-Van der Boon se Israel-reeks, Go'El Yisra'el, bekend. Geliefde karakters soos Marc en Rivkah keer terug – lesers sal hulself opnuut verdiep in hul lief en leed. Die bekroonde skrywer vertel meer van die boeiende roman en van haar reise na Israel om die reeks getrou en geloofwaardig aan te pak.
7 Maart 11:00 | Boektent | 50min | Gratis

Pirouette
In Aniel Botha se debuutdigbundel Pirouette word balletterminologie en die hospitaal-milieu van eetversteurings saamgebind in ’n helder besinning oor gebrokenheid, verwonding en psigiese kwelling. Joan Hambidge gesels met die digter oor dié bundel waarmee ’n bevrydende sprong na heling gegee word.
7 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Joan Hambidge: Lot se vrou
Uitgewer Etienne Bloemhof gesels met Joan Hambidge, een van die bekendste literêre figure in Afrikaans. Lot se vrou is ? bundel ‘woordverse’ waarin die idee nie ondergeskik gestel word aan die woord nie. Selde nog het Hambidge die ‘gevaarlike woord’ so onverskrokke gehanteer soos in hierdie bundel, wat beskou word as van haar rykste werk tot op hede.
7 Maart 16:00 | Boektent | 50min | Gratis

Werkswinkel: Sanlam-Prys vir jeuglektuur
In Oktober 2012 word die wenners van die 2011-kompetisie bekroon en die boeke landswyd bekendgestel. Tafelberg bied hierdie slypskool aan om voornemende skrywers toe te rus met wenke en riglyne vir die skryf van ’n wenboek. Derick van der Walt, voorheen bekroon vir Lien se lankstaanskoene en Willem Poprok,is aan die woord saam metSusan Samuel, een van die vorige beoordelaars.
7 Maart 16:00 | Erfurthuis | 120min | R60

Nuwe stemme 5
Die inskrywings vir Nuwe stemme 5 sluit binnekort. Kom luister na digters wat in dié bekende Tafelberg-reeks gedebuteer het, soos Melt Myburgh, Fourie Botha, Danie Marais, Toast Coetzer en Bibi Slippers. Heilna du Plooy en Loftus Marais, die samestellers van die nuwe bloemlesing, gesels ook oor die opwindende projek wat voorlê.
7 Maart 18:00 | Boektent | 50min | Gratis

Die water wat verby is
“Met die water wat verby is sal jou meule nooit weer maal,” het Langenhoven gesê. Wat verby is, is verby.
Maar die verlede is nie onherroeplik nie. Die literatuur kan dit tot lewe wek en nuwe betekenis daaraan gee. Bekende Stellenbossers Johan en Ria Smuts gesels met Kerneels Breytenbach oor hul kortverhaalbundel Die water wat verby is.
8 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Getuienisverhale
Aangebied deur Lux Verbi
Die kuns om 'n getuienisverhaal geloofwaardig te skryf: Benescke Janse van Rensburg, skrywer van Ontdek God in die stories van mense en Wysheid - 31 oordenkings uit Spreuke, en Helana Olivier, skrywer van Ware verhale van geloof en Ware verhale van hoop, ruil gedagtes uit hoe om mense se geloofstories en geloofspaadjies getrou uit te beeld en hoe om met die sensitiewe gegewens te werk sodat dit aangrypend vir lesers oorvertel kan word.
8 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Derick, Fanie, Francois en Maya!
Johan Anker tree in gesprek met jeugskrywers van Human & Rousseau en Tafelberg oor hul jongste boeke: Derick van der Walt, Fanie Viljoen, François Bloemhof en Maya Fowler. Nuwe tendense in die Afrikaanse jeuglektuur, en die verskille en ooreenkomste tussen die skryf van jeug- en volwasse fiksie, word bespreek.
8 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40

Sirkusboere
Sonja Loots se roman is die verhaal van oud-Boerestryders se deelname aan Fillis se sirkus – enersyds die verhaal van mense wat van hul ergste trauma ’n sirkus gemaak het; andersyds die verhaal van iemand wat weet hoe om die mens se aptyt vir skouspelagtige geweld uit te buit. Piet Croucamp gesels met die skrywer oor haar tweede roman.
8 Maart 16:00 | Boektent | 50min | Gratis

Kaapstad Karma-Polisie
Louis de Villiers se adrenaliengedrewe, onthutsende debuutroman is vol drama, humor, satire, aksie en nogmaals aksie uit die boonste rakke, maar wees gewaarsku: Dié boek het ’n skop soos ’n omgesukkelde muil en is beslis nie vir sensitiewe lesers geskik nie. Pieter Redelinghuys gesels met dié rugbyjoernalis wat sy buiging as fiksieskrywer maak.
8 Maart 18:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Soetgoed
Bekende kosskrywer en kosredakteur van Huisgenoot en You, Carmen Niehaus, gesels met Marlene van der Westhuizen oor haar jongste boek Soetgoed. Marlene is ook die skrywer van die topverkopers Delectable and Sumptuous. In Soetgoed bring sy bekende Kaapse staatmakers en heerlike ouwêreldse smake uit die Franse platteland bymekaar. Kom geniet koffie, tee en ’n kolwyntjie saam met Marlene.
9 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R40

SA se eerste erfridder
Albert Grundlingh gesels met die skrywer Ebbe Dommisse en Sir David Graaff, die kleinseun van Sir David Pieter de Villiers Graaff, oor dié invloedryke politikus wat ’n hoogs suksesvolle sakeman was, asook ’n entrepreneur wat as die pionier van koelbewaring in Suid-Afrika 'n fortuin uit bevrore vleis en voedsel opgebou het.
9 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Die oorsprong en uiteinde van alles?
By dié bekendstelling van God? Gesprekke oor die oorsprong en uiteinde van alles gesels Elna Boesak met die samestellers George Claassen, ’n uitgesproke ongelowige, en Frits Gaum, ’n oortuigde Christen, oor die kontroversiële vraag of God bestaan of nie, en wonder oor die sin van ons lewe op aarde. Bydraers Dave Pepler en Cecile Cilliers lewer ook ? bydrae tot die bespreking.
9 Maart 16:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

Die formidabele Bakkes-broers
Die avonturier-skrywers en wêreldreisigers Christiaan en Johan Bakkes stel hul jongste boeke bekend. Christiaan se nuutste in die Stoffel-reeks, Stoffel op safari, omvat weer ’n veelheid fasette van sy lewe in die wildernis van die Kaokoveld en Damaraland. Oepse daisy van Johan is oudergewoonte heerlike, avontuurlustige vertellings oor ver én naby reise – propvol humor, maar nooit sonder deernis vir die medemens nie.
9 Maart 18:00 | Boektent | 50min | R40

Mankepank en ander verse
Met Antjie Krog en Diek Grobler
Hierdie allermooiste Tafelberg-produk is ’n keur van nuwe, sowel as voorheen gepubliseerde verse deur Antjie Krog. Sy vertel die storie van Mankepank, die pad wat die gedigte van 1985 tot nou geloop het, en lees verse voor. Soos net sy kan! Diek Grobler se illustrasies vir die boek word vertoon. Hy gesels oor sy benadering tot die projek, die uitdagings daaraan verbonde en die kunsvorme wat hy gebruik het.
10 Maart 17:00 | Boektent | 50min | R40

Gedigte rondom die gedagte van geel
Petra Müller, een van die voorste Afrikaanse digters, se nuwe ongewone bundel is gewy aan die son, wat in die verskillende gele van aarde en hemel besing word as die bron van lewe. Aan die een kant skakeer die geel na wit – hoofsaaklik van die maan – en aan die ander kant na die rooi van vuur, lawa, orkane en tsoenami’s. Moenie dié grootse talent misloop nie!
10 Maart 18:00 | Erfurthuis | 50min | Gratis

 




Keer terug na die program-indeksblad.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top