US Woordfees 2019 Instagram-resensie: Tien duisend ton

  • 0

 

 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 

 

In "Tien Duisend Ton" kry die sublieme Cintaine Schutte en Albert Pretorius dit reg om met slegs 'n reghoekige stuk kunsgras tot hulle beskikking 'n hele, ryk verloop van 'n paartjie se verhouding op 'n geweldige intieme manier met die toeskouers (wat sit op stoele gepak rondom die stuk kunsgras) te deel. Die goed en die goor, die vertwyfeling, die pyn en al die slegte besluite kry alles gestalte deur Nico Scheepers se baie slim regie en die akteurs se uitstekende spel. Die toeskouers is hier baie naby aan die aksie. Dit versterk die intensiteit van die stuk veelvoudig en jy kan nie help om sweterig aan al die emosies mee te maak nie. Die paartjie, ongetroud en aan't stry oor die moontlikheid van kinders kry al dan nie, is konstant in vertwyfeling oor hulle eie goedheid en plek in die wêreld en dit voorspel van meet af moeilikheid. Die stuk neem egter 'n interessante en onvoorspelbare wending en hierin lê die trefkrag. Schutte en Pretorius maak volledig gebruik van die beperkte ruimte wat dien as hul leefwêreld en om in dié spasie 'n gehoor gevange te hou vir 80 minute, spreek van hope talent en vernuf aan die kant van die akteurs en die regisseur. "Tien Duisend Ton" gaan 'n baie lang rakleeftyd hê. NS. Die akteurs verdien beide 'n staande ovasie, 'n goue sertifikaat en 'n stywe drukkie na die beproewing wat hulle moes ervaar tydens die laaste vertoning. Met slegs 6 of 7 minute speeltyd oor het die krag op 'n kritiese oomblik uitgesny en het dit minute geneem om die probleem te herstel. Die akteurs het sonder om 'n oog te knip die oomblik en die spanning hervat, net om nog drie maal deur dieselfde nagmerrie te moes stoei. Daarbenewens het dit op 'n stadium geklink of 'n skare van 'n paar honderd 'n optog buite die venue hou, maar ook dit het hulle nie van stryk gebring nie. Minder gesoute akteurs sou dalk die pap op die grond laat val het, maar Schutte en Pretorius het skynbaar moeiteloos deurgedruk. Klas. Dis al. @cintaineschutte @albert_pret @nicoscheepers @woordfees #woordfees2019

A post shared by LitNet (@mylitnet) on

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top