US Woordfees 2019 Instagram-resensie: Huishou

  • 0
 
 
 
 
 
View this post on Instagram
 
 
 
 
 
 
 
 
 

Verhoudings is moeilik. Of jy nou gay, straight, bi of wat ook al is. Voeg daarby 'n ouderdomsverskil, 'n identiteitskrisis, white guilt en ‘n obsessiewe hunkering na ‘n kind, en jy kry “Huishou”. Dirkie (Nadia Valvekens) en Hester (Cintaine Schutte) is getroud. Na jare saam is dit duidelik dat sekere vlamme in die verhouding besig is om gesmoor te word. Daar is liefde, ja, maar van die oorspronklike vuur is geblus. Gebrekkige kommunikasie, agterdog en Dirkie se one-track mindedness om ‘n kind aan te neem, huis te hou en huis vól te maak, laat die verhouding lostorring op al die belangrike plekke. Mens het deernis vir beide karakters se innerlike konflik, dog voel dit of Philip Rademeyer in ‘n paar geykte strikke trap. Hoewel dit uiteraard goeie nuus is om ‘n Afrikaanse drama eksklusief oor ‘n lesbiese verhouding te sien (al het sekere tannies hoorbaar na hulle asems gesnak toe die akteurs mekaar soen), is dit slegte nuus dat sekere tiperings oor selfdegeslagverhoudings steeds op die voorgrond gegooi word. Nie alle gay mense haat hulle families nie. Nie alle gay mense is potensiële verneukers nie. Nie alle lesbiese verhoudings eindig in ‘n puinhoop nie. (Kan iemand om hemelsnaam ‘n storie skryf waar daar ‘n gelukkig einde is vir ‘n lesbiese paartjie?) Dit als gesê kan mens nie help om van die produksie te hou nie. Nico Scheepers (regie) en Rademeyer het hulself al lankal bewys as ‘n gedugte span. Rademeyer kán skryf. Sy humor en subtiliteite is vlymskerp en hy weet hoe om gemaklik met die tydsgees om te gaan. Voeg daarby Scheepers se bewese regisseurshand, ‘n elegante stel en uitstaande spel deur die akteurs en jy verstaan hoekom “Huishou” al soveel toekennings en nominasies ingepalm het, die kyker se reservations ten spyt. Cintaine Schutte as Hester is ‘n volledige vreugde. Haar loskop, loslittigheid laat jou lag en huil en sy maak die behoefte in jou wakker om haar te druk en te troos. Valvekens is waarskynlik elke dag dankbaar dat sy besluit het om haar loopbaan as sepie-aktrise te laat vaar en om haar substansiële talent aan ‘n breër mark bloot te stel. Albei akteurs is vir Fiëstas benoem en albei kon ewe gemaklik gewen het. Want albei verdien dit.

A post shared by LitNet (@mylitnet) on

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top