US Woordfees 2019: Deon Maas wys sy eie weerloosheid

  • 0

Foto: Gerrit Rautenbach

Diegene wat die bespreking van Deon Maas se nuwe boek, Witboy in Berlyn, bygewoon het omdat daar ʼn waarskuwingsteken in die Woordfees se programboekie was dat dit vir oopkoppe en nie vir sensitiewe siele is nie, sou dalk teleurgesteld wees. Dit is geen skokboek nie. Sensitiewe siele sal die rebelse Maas se jongste boek net soveel geniet soos die oopkoppe wat sy loopbaan die afgelope jare gevolg het.

Reg aan die begin van sy gesprek met die digter Danie Marais het Maas prontuit verklaar hy is glad nie beïndruk met die etiket wat sommer so by voorbaat om sy nek gehang is nie.

Hoewel Maas bekend is vir sy omstrede standpunte, is hierdie boek van hom geensins iets wat konserwatiewe ouers vir hulle brose kindertjies hoef weg te steek nie. Dit is, in Maas se eie woorde, eerder ʼn reisboek oor iemand wat besig is om tuis te kom in ʼn nuwe land.

Soos wat sy voorouers, George en Katharina Maas, Berlyn in 1860 met ʼn eenrigtingkaartjie verlaat het om hulle in Suid-Afrika te vestig, het Deon Suid-Afrika onlangs verlaat om hom saam met sy vrou Veda permanent in Berlyn te vestig.

Maas het sy loopbaan begin in bemarking by Eerste Nasionale Bank. Hy het onder andere as joernalis vir You/Huisgenoot, Rooi Rose, Personality en Scope gewerk en was die redakteur van Youth-tydskrif. Tussen 1992 en 1998 het hy vir Tusk Musiek as musiekbestuurder gewerk en tussen 1998 en 2003 vir Gallo as bemarkings- en later hoofbestuurder. In 2006 was hy een van die beoordelaars van kykNET se Afrikaanse Idols.

Hy is ook die skrywer van die skreeusnaakse en uittartende boek Melk die heilige koeie, waarin hy niks en niemand ontsien nie. Daarin skryf hy onbeskaamd en doodeerlik oor allerlei eg Suid-Afrikaanse heilige koeie.

Afrikaans op kampusse, selfies, baarde, Banting, die Guptas en die sogenaamde Stellenbosch Mafia is van die heilige koeie wat daarin onder dié uitgesproke skrywer se skerp pen geslag word. Hy is blatant eerlik oor alles van mans se “menere” tot Julius Malema, gay-huwelike en NG dominees. Seker maar daarom dat die Woordfees se programopstellers dit goedgedink het om diegene by die Woordfees vooraf te waarsku nog voordat hulle sy jongste boek gelees het.

Dit was voortydig, want as witboy in Berlyn is Maas veel meer getemper as toe hy die heilige koeie geslag het.

In Duitsland is die naam Deon Maas onbekend. En dis vir hom lekker om hom homself in ʼn vreemde land te herontdek waar sy vrou ʼn suksesvolle beroepsvrou is en hy ʼn hondeloper wat daagliks met sy honde gaan stap in ʼn land waar hy totaal gesigloos is en mense geen oogkontak maak nie.

Dit is ver verwyder van die dae toe hy kort na sy eerste rubriek in Rapport gepubliseer is, afgedank is nadat 'n boikotveldtog per e-pos en SMS teen hom en Rapport van stapel gestuur is. Die veldtog het ontstaan na aanleiding van 'n stelling wat Maas gemaak het in sy rubriek waarin hy geskryf het oor satanisme as "’n godsdiens wat die reg het om beoefen te word". Min mense het gesnap wat hy daarmee bedoel toe hulle onregmatig die etiket van satansaanbidder om sy nek gehang het.

Foto: Gerrit Rautenbach

Sy afdanking as rubriekskrywer het beide positiewe en negatiewe reaksie uitgelok. Die hoogleraar in joernalistiek by die Universiteit van die Witwatersrand, Anton Harber, het destyds gesê dit is "hartseer om te sien ’n koerant swig voor sulke menings", terwyl die Freedom of Expression Institute gesê het dat Rapport sy "etiese waardes verraai het” deur voor die druk te swig.

'n Veldtog vir die heraanstelling van Maas is deur diegene wat Rapport se besluit teengestaan het, op Facebook begin, maar daar het niks van gekom nie.

Nou het Maas se lewe volsirkel geloop. Hy woon deesdae in dieselfde stad wat sy voorouers eeue gelede verlaat het omdat sy adellike grootjie nie wou gehad het sy bloubloeddogter moet met die seun van ʼn ystersmid trou nie. Sy “trougeskenk” aan hulle was ʼn eenrigtingkaartjie Suid-Afrika toe. Dis hoe Deon Maas ʼn geslag of wat later as kind van Afrika gebore is.

Toe sy vrou werk kry in Duitsland, het hy in ʼn oogwink besluit om Berlyn toe te trek, waar hulle ʼn woonstel betrek het in hierdie dekadente, uitdagende stad waar hy hom enersyds tuis voel en andersyds nie.

Dit is oor hierdie vreemde “tuiskoms” dat sy boek handel. Hy het nie uit Suid-Afrika padgegee omdat hy soos baie ekspats kwaad is vir die land en sy regering nie. Die Duitsers is nie heeltemal sy gunstelingmense nie. Maar Belyn is nie Duitsland nie en hy is heeltemal fine daarmee om ʼn x-tra te wees in ʼn wêreldstad waar die meeste mense eintlik soort van buitestanders is. Die anonimiteit van Berlyn is vir hom aanloklik en aantreklik, vertel hy.

Foto: Gerrit Rautenbach

En die rebelse Maas pas goed aan in Berlyn, waar die inwoners nog maar altyd, nes Maas, ʼn probleem gehad het met enige vorm van mag. In 1843 het die stadsvaders probeer om rook te verbied. Kort na die rookverbod het een van die stad se inwoners uitdagend voor ʼn polisieman gaan staan en die rook in sy gesig geblaas. Toe die geregsdienaar die rebelse man wou arresteer, het die Berlyners hulle die een na die ander by die roker geskaar en die rookverbod het soos mis voor die son verdwyn.

In 2015 is daar weer gepoog om rook in Berlyn te verbied, maar al wat kroegeienaar is, het saamgestaan en besluit om hulle nie aan die verbod te steur nie. Die rookverbod het misluk en Berlyners rook steeds dat die dampe staan.

Die mite dat alles in Duitsland perfek werk, word ook deur Maas die wind ingeslaan in sy boek. Hy verwonder hom aan hoe Duitsers hul sin vir orde opdwing aan almal en alles, maar sukkel om probleme op te los omdat alles so streng gereguleer is. Alles in die Eerste Wêreld is nie noodwendig so perfek soos wat Suid-Afrikaners dink nie.

Maas se gesprek in die Boektent tydens die Woordfees was, nes sy jongste boek, vol humor, maar weerspieël ook iets van sy weerloosheid – soos toe hy tydens die gesprek nie sy emosie kon keer toe hy oor die dood van sy pa gepraat het kort voordat hy Suid-Afrika verlaat het nie.

Soos wat daar tereg op sy boek se agterblad geskryf staan: “Hy probeer ook antwoorde vind op vrae oor verlies, identiteit en hoe om as wit immigrant uit Afrika sy voete in Europa te vind. Op papier is hy dalk iets van ʼn Duitser, maar in werklikheid is hy iemand heeltemal anders.”

Dis daardie iemand heeltemal anders wat lesers van sy boek beter leer ken. En as sy vrou in die toekoms ʼn werk in China sou kry – iets wat glad nie buite die kwessie is nie? “Dan skryf ek nóg ʼn boek: Witboy in China,” vertel die Johannesburgse wit boytjie wat nou genoeg tyd op hande het om voltyds te skryf en met sy honde kan gaan stap in ʼn vreemde land.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top