US Woordfees 2018: Vlerke vir almal

  • 1

Amanda Todd, ’n Kanadese tiener, het op 10 Oktober 2012 selfdood gepleeg. Voor dit het sy egter met behulp van flitskaarte, die storie van haar vernedering, afpersing en die boeliegedrag teen haar verfilm en op YouTube gelaai. Skokkend en roerend. Hartverskeurend. Hierdie storie, vertel die skrywer, Marion Erskine, tesame met sy eie slegte ervaringe op skool, het hom genoop om boelies aan te vat in sy boek, Vlerke vir almal. Dié boek, gemik op jongmense en tieners, vertel die verhaal van Dewald wat skielik ’n spraakgebrek ontwikkel na ’n traumatiese gebeurtenis wat sy hele wêreld omverwerp. Daarmee saam gaan hy ook na ’n nuwe skool, waar hy die teiken word van ’n genadelose boelie.

Die boek is deur Vicky Davis vir die verhoog verwerk en sy het ook die regie behartig. Saam met die gesoute akteurs Leanna Dreyer en Leon Kruger, wat die rolle van Dewald se ouers vertolk, en ’n handvol jong talent (die beste tienerakteurs wat by die Nasionale Toneelspelkompetisie geïdentifiseer is), kry hierdie belangrike verhaal gestalte. Tienerakteurs is op die beste van tye nie altyd ’n plesier vir ’n volwasse gehoor nie, maar Davis temper hierdie klomp se spel tot op ’n vlak van uiterse kykbaarheid en genot. Die stuk is gritty genoeg om nie corny te wees nie, en net mooi corny genoeg om nié mateloos pretensieus te wees nie. Vlerke se teks is skerp, die tema kontensieus en die uiteinde, soos dit hoort, ’n goeie een. Mens hoop amper ’n filmregisseur besluit om die storie grootskerm toe te vat, want Erskine se verhaal oor hoe om met boelies te werk te gaan, verdien beslis ’n groter gehoor.

Vlerke vir almal is nog op Vrydag 9 Maart om 17:30 en vir ’n laaste vertoning op Saterdag 10 Maart om 16:00 by kykNET Hoërskool Stellenbosch te sien.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top