US Woordfees 2018: Tjieng Tjang Tjerries – ’n onderhoud met Jason Jacobs

  • 1

Jason Walter Jacobs (26) is ʼn trotse seun van Kharkams – én ʼn bekroonde teatermaker. Foto: Natalie Gabriel

Met die eerste ontmoeting tréf Jason Jacobs mens as ’n fyn, kreatiewe en doelgerigte jong man. Hy kyk jou ernstig en reguit in die oë, effens teruggetrokke, maar vriendelik. Sy glimlag is oop en beskeie. Hy praat sag in ’n mooi, gemoduleerde Afrikaans.

Jason se veelsydige talent en sonderlinge kultuurstem is verlede jaar met die KKNK se Kunste Onbeperk-toekenning vir sy eiesoortigheid bekroon. Dié teatermaker, skrywer, dramaturg, ontwerper, akteur, regisseur en dialoogafrigter vir kykNET se demografiese sepie Suidooster voeg ’n dinamiese en belangrike nuwe stem aan die Suid-Afrikaanse teaterbedryf toe.

Wanneer hy skep, wil en moet jy luister en kyk. Sy produksietrilogie – Kalahari Swaan, Stof Rooi en In wag van – het hom ook Kanna-toekenning as beste nuweling besorg.

Die elemente – water, sand en vuur – en die mites, die tradisies, die kultuur, die taal, die liedjies, die danse, die lyf- en gebaretaal – die siel – van die Khoi en die San herleef met ʼn brandende begeerte wat die gehoor ontroer, meevoer en tot nadenke stem.

Jason skryf oor die dinge waarvan hy weet; met eerlike, rou meevoeling. Baie oor sy kinder- en grootwordjare; oor die mense in die gemeenskappe wat hy leer ken het op Kharkams, Hondeklipbaai, Kamieskroon, Carolusberg en Vredendal. Hy het daar skoolgegaan en sy hoërskooldae was by Vredendal Senior Sekondêr. Wiskunde, rekenaarstudies en Engels was sy gunstelingvakke. Hy het in graad 10 by die skool se dramagroep aangesluit, en daar het dit alles begin.

Hy is dramaskool toe en het daarna as verhoogbestuurder begin werk en ’n dubbelrol – as seun en ma – gekry in Philip Rademeyer (Fiësta-wenner vir Ashes/As) gekry. Die res is opgeteken: veelsydig.

In kwalik drie jaar was Jason se stem gevestig. Kunstefeeste, benoemings en toekennings oral – van Grahamstad se Nasionale kunstefees tot die US Woordfees, Suidoosterfees en die KKNK. Hy is die wenner van die Theatre Arts Admin Collective-beurs vir jong opkomende teaterregisseurs, betrokke by die Magnet Theatre Early Years Company en die Mother-tongue Youth Arts Project in McGregor, die stigter en kreatiewe hoof van KleiSandProduksies, projekte vir onder meer ASSITEJ – Theatre for Children & Young People en die Desmond & Leah Tutu Legacy Foundation.

Dié omgeemens en gemeenskap-verryker glo aan teater van genesing.

Gretchen Ramsden en Rehane Abrahams in Dans van die Watermeid. Foto: Nardus Engelbrecht

Dans van die Watermeid

Jason is vanjaar by drie produksies by die Woordfees betrokke. Onder meer behartig hy die regie van Die dans van die Watermeid.

Dié stuk, wat in Willowmore in die Groot Karoo afspeel, takel sosiale kwessies soos die stryd wat hedendaagse jongmense voer, sonder die vooruitsig van werk of ’n beter lewe en die dinge wat gemeenskappe onder die mat invee. Dít alles onder die neus van die kerk. Intussen weerklink die ritme van die dans van die Watermeid wat die jong meisies kom verlos wanneer die reën kom. Die mense is gelowig en selfs meer bygelowig. Kyk mooi en jy sal die mitiese reddingsfiguur, Watermeid, sien: die een wat verlossing bring, die misvormde wese – half mens, half vis. Spook dit nog hier?

Womb of fire

Jason was ook betrokke by Womb of fire (met regie deur Sara Matchett), ’n drama waarin die verre verlede met ons ontstellende tye kommunikeer.

Die drama speel af teen die epiese agtergrond van die Indiese The Mahabharata en verweef die persoonlike narratiewe en eietydse werklikhede met die lewens van twee vroue in die stigtingsjare van die Kaapkolonie. Hulle integreer die “Womb of fire”, wat geboorte gegee het aan Suid-Afrika. Die drama volg Grote Katrijn van Pulicat se reis as slaaf van Indië deur Batavia na die Kaap. Die drama fokus ook kortliks op die wrede lewe van Zara, ’n Khoekhoen-dienskneg wat gewelddadig deur die VOC gestraf word weens moord.

Jason het die vertaling vir dié produksies gedoen, uit die oorspronklike teks deur Rehane Abrahams.

Gretchen Ramsden, Marlon Swarts en Celeste Matthews-Wannenburgh luister terwyl Jason Jacobs regisseer aan Tjieng Tjang Tjerries. Foto: verskaf

Gehore by die US Woordfees (en elders in die toekoms) word vanjaar met ’n splinternuwe opvoering deur Jason se maatskappy, KleiSandProduksies, vermaak. Dié werk, Tjieng Tjang Tjerries, is ’n verwerking uit die skrywer Jolyn Phillips se bekroonde kortverhaalbundel Tjieng Tjang Tjerries & other short stories, wat deur Modjaji Books gepubliseer is.

Die verhoogstuk volg op ’n eenvoudige manier die gekompliseerdheid van die gesinslewe op ’n fiktiewe vissersdorpie. Dit word ’n metafoor vir mense wat vergete is, mense wat besig is om meer as net hul stem te verloor. Uit desperaatheid soek hulle mekaar in die mistigheid van voorgeslagte en lang ure op skepe wat amper leeg huis toe kom. Maar daar is hoop en bure wat mekaar dra.

Jason gesels oor sy jongste kreatiewe skepping.

Hoe het jy met Jolyn Phillips se skryfwerk in aanraking gekom?

Gewoonlik skep ek my eie stories. As teatermaker is ek egter altyd op soek na vars idees en vernuwing. Daarom lees ek wyd. Ek het Jolyn Phillips se kortverhaalbundel gelees en was meegevoer met veral twee stories: “The photograph” en “Legend of Tjieng Tjang Tjerries”. Ek het haar genader om die werk vir die US Woordfees voor te stel. Sy was onmiddellik opgewonde oor die idee. Dié keer dra ek die verantwoordelikheid van iemand anders se stories in my hande – sónder om my eie artistieke kreatiwiteit en integriteit te verloor. 

Wat het jou van die tekste aangegryp?

Daar is ’n menswaardigheid omtrent die stories, karakters, en die landskappe waarin hulle woon en hulself bevind. Die ruimtes voel na aan dit wat ek ken, waarmee ek grootgeword het en die mense wie my inspireer om voort te gaan as kunstenaar. Dit is vir my belangrik om hierdie stories meer lewe te gee. 

Wie het die verhoogverwerking gedoen en wat was die uitdagings?

Dit was regtig ʼn uitdaging! Ek en Jolyn het saam aan die verhoogteks gewerk. Sy het die musiek – eenvoudig, maar kragtig met net kitaarbegeleiding – en die woorde daarvoor geskryf. Ek en die choreograaf Byron Klassen het die verwerkingproses vir verhoogmatigheid gesamentlik onderneem. Byron en die danser Dustin Beck het die opwindende, stemmings- en genregetroue choreografie behartig.

Het die oorspronklike skrywer ingemeng?

Jolyn maak alles ligter omdat sy ons visie ten volle vertrou. Dis pynlik as skrywers nie kan "oorgee" nie. Ons werk met poësie, dans en oorspronklike musiek en die groot uitdaging is die bymekaar vleg van dié elemente. Hoe vertel mens ’n volle kortverhaal in een danssolo? Hoe beskryf jy die gevoelens van ’n karakter en sy psige in ’n kort gedig – sónder om die hartklop van die kortverhaal te verloor? Dit is die tipe vrae waarmee ons in die repetisielokaal gekonfronteer is – en met graagte aangepak en opgelos het. Dit was uiters bevredigend om die regie van dié meervlakkige teaterproduksie te doen.

Hoe verskil die toneelteks van die oorspronklike werk, en/of hoe getrou is dit daaraan?

Daar is nie juis ’n verskil nie, maar wel ’n ontwikkeling. Karakters op papier – Senna, Lelik en Fisherman – word nou in aksie gesien en gehoor; as’t ware ’n reeks kleurryke foto’s in klank en beweging.

Waarom is dié produksie relevant?

Die verhale mimeer die natuurlike wanorde van die daaglikse lewe. Dit ontwyk alles wat staties en berekenbaar is en omhels eerder die aard van menslike eentonigheid, wispelturigheid en inkonsekwentheid. “The photograph” is ’n verhaal wat die innerlike stryd oor verlies as’ t ware fotografeer en dan moeiteloos verplaas. Die stuk wek empatie met die bitter glans van verdriet, uitgebeeld deur ’n treurige moeder wat net nie kan laat los nie en ’n afwesige vader wat sy lewensdoel verloor het.

“The legend of Tjieng Tjang Tjerries” word die lig wat die skaduwee van “The photograph” komplementeer; byna neurie-speels en humoristies. Hieruit spruit ʼn nuuskierigheid waaruit opgevoed word.

Die elemente speel altyd onontbeerlike ondersteunende en aanvullende rolle in KleiSandProduksies se kreatiewe benadering tot die stelinkleding. Dié keer ook?

Ons verweef die natuur en alledaagse gebruikmiddels in die eenvoud van die narratief. Die stel is gestroop; sielsoop – mét sand; die stof van lewe en dood.

Die kombuis personifieer ’n oop graf: van ’n ma wat haar seuns daagliks begrawe (nie letterlik nie) terwyl sy haar huis (én kruis) saam met haar op haar rug dra (letterlik).

Ander openbarende elemente in die produksie is ’n skottel met bietjies water, plastiek, seepbelle en ’n wit skoolhemp. Die ma probeer haar kind wég was, maar sy sukkel om hom op te hang. Sy sukkel om hom te laat droog raak.

Wat is die boodskap wat dié produksie wil oordra?

Die produksie ondersoek die impak van verlies, die mure wat dit rondom ons skep en hoe dit gesinne en gemeenskappe beïnvloed, verdeel en vervreem. Daar is nie net een spesifieke boodskap wat ons wil uitbeeld nie; dit is eerder ‘n uitlokking van emosies en gevoelens. Die ganse aanbieding – die beweging, die poësie, die klank en die inkleding – dra by tot die stories en die ménse se verhoudings. Gehore kry die geleentheid om daarvan te hou, daarmee te verskil of net te ervaar en te “voel”.

Jason se Woordfeesproduksies

Tjieng Tjang Tjerries

  • R120–R140 | R140–R160
  • KleiSandProduksies ondersteun deur die US Woordfees.
  • Regie en stelontwerp: Jason Jacobs
  • Teks: Jolyn Phillips en Jason Jacobs
  • Musiek: Jolyn Phillips
  • Choreografie: Byron Klassen en Dustin Beck
  • Met: Dustin Beck, Kaylin Coetzee, Marlon Swarts, Gershwin Mias, Celeste Matthews-Wannenburgh en Gretchen Ramsden.
  • Geen o/12
  • 70 min

5 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
8 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
10 Maart 18:30 Hoërskool Cloetesville
11 Maart 12:30 Hoërskool Cloetesville

Die dans van die Watermeid

  • ’n NATi/Baxter Teater-produksie
  • R100 | R120
  • Regie: Jason Jacobs
  • Teks: Amee Lekas
  • Choreografie: Deidre Jantjies
  • Stel- en kostuumontwerp: Birrie le Roux
  • Beligtingsontwerp: Patrick Curtis
  • Produksie-assistent: Enrico Hartzenberg
  • Verhoogbestuur: Marisa Steenkamp
  • Met: Abduragman Adams, Rehane Abrahams, Elton Landrew, Ephraim Gordon, Gretchen Ramsden en Celeste Matthews-Wannenburgh.
  • Geen o/10
  • 80 min

2 Maart 20:30 Hoërskool Cloetesville
3 Maart 10:00 Hoërskool Cloetesville
3 Maart 12:30 Hoërskool Cloetesville
4 Maart 20:30 Hoërskool Cloetesville
5 Maart, 20:30, Hoërskool Cloetesville

Womb of fire

  • The Mothertongue Project
  • Regie: Sara Matchett
  • Teks: Rehane Abrahams
  • Vertaling: Jason Jacobs
  • Stel- en beligtingontwerp: Craig Leo
  • Met: Rehane Abrahams en Lukhanyiso Skosana
  • Geen o/14
  • R90 | R100
  • 60 min

06 Maart 21:00 Hoërskool Cloetesville
08 Maart 18:00 Hoërskool Cloetesville

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top