US Woordfees 2018: Pieter en die wolf, gedagtes van ’n ma

  • 1

’n Mens moet sonder te veel verwagtinge by ’n partytjie opdaag. Verwagtinge veroorsaak spanning, plaas druk op menseverhoudings.

Maar partykeer is dit onvermydelik.

Prokofiev se Pieter en die wolf was oorspronklik ’n opdragwerk, bedoel om die kinders van 1936 deur middel van storie en musiek van die verskillende musiekinstrumente in ’n simfonieorkes te leer.

My verwagtinge van die produksie was dat ek my kinders die verskillende instrumente wou laat hoor en sien en dit aan die storie en die diere koppel. Selfs al ken hulle dit reeds. Ek het my kinders al Pieter en die wolf laat luister, maar ons het nog nie ’n lewende orkes die werk hoor uitvoer nie.

Die US Woordfees bied ’n besonderse platform vir hierdie produksie. Die hele Coetzenburgstadion is die gehoor se spasie. Hier kan letterlik ’n gehoor van duisende kinders kom luister vandag. Die produksie vorm deel van die Familiedag op Saterdag 3 Maart. En almal wat hier is, kan ook ’n uur of wat later luister na ander populêre musiekgroepe wat kom optree. Die Familiedag is beplan sodat daar musiek speel wat in almal se smaak sal val.

Dis ’n kunstefees en ’n universiteit hierdie wat ’n naweek vantevore ’n grootse produksie aangebied het om die inwoners van hierdie dorp aan mekaar voor te stel deur die produksie 100% Stellenbosch. Dis ’n fees wat moeite doen om geleenthede te skep.

Dit is waarom dit my hart breek om die opkoms te beleef. Dalk is dit omdat die stadion so groot is, maar die gehoor is so klein. Daar is regtig te min mense. Die son is wel daar in al sy glorie.

Philip de Vos is ook daar, ewe aanwesig as die son, en hy is in alle opsigte die ster van die vertoning. Sy manier om die storie van Pieter en die wolf te vertel is fantasties. Hy het die storie humoristies en treffend in Afrikaans oorgeskryf en hy dra dit aan die gehoor voor.

“Weet julle wie hierdie man is?” wil ek vir die kinders wat rondom my sit, vra. Besef julle dis geskiedkundig om hom te hoor voorlees? Sy werk vandag hier te kan beleef? Dis besonders. Hy is ’n woordkunstenaar. Hy is talentvol en dalk duik daar nooit weer so ’n geleentheid op nie. Waardéér hierdie oomblik.

Wat die musiek betref: krediet aan die orkes vir die spel. Erkenning aan elke individuele speler wat die instrument se kenmerkende wysie moes speel. Dit was professioneel, die uitvoering was van goeie gehalte.

Daar was groot skerms waarop die orkes en die dirigent geprojekteer is. Dit was moontlik om telkens die instrument wie se kenwysie gespeel is, aan die gehoor te vertoon. Ek dink nie dit sou die gehoor se algemene kennis onderskat het om te sê: “Dit is Pieter se instrument – die viool; so lyk dit en dit is hoe dit klink” nie. In plaas daarvan het die gehoor byvoorbeeld die vioolspel net (wel duidelik) gehoor, maar nie die instrument gesien vanaf die groot veld waar ons gesit het nie.

Dalk kon die betrokke instrumentalis opgestaan het om sy wysie op die instrument te speel, of sy instrument te vertoon?

Van verwagtinge gepraat. Agter die orkes, op ’n groot skerm, was daar ’n bewegende beeld geprojekteer. Daar was ’n animasiebeeld, asof die gehoor uit ’n trein se venster na ’n heining en ’n tuin met plante en skoenlappers kyk. Die trein ry en ry en die skoenlappers fladder.

Die beeld is mooi en dis werklik interessant saam met die orkes. Maar die visuele element skep die verwagting dat die karakters van die Pieter en die wolf-storie nou enige oomblik ook te voorskyn gaan kom.

In plaas daarvan hou die trein net aan met ry en ry. Dit kan seker wees dat die gedagte nie bedoel was om vir die kinders te interpreteer nie. Daar is sekerlik ruimte vir die verbeelding. Maar tog, in ’n verhaal soos hierdie is daar definitiewe karakters. Daar is ’n seun, daar is ’n wolf, en daar is jagters en ’n oupa en ’n eend en ’n kat. Waar is hulle, tussen die blomme en agter die heining? Die gehoor wag dat hulle hul opwagting maak.

’n Mooi helder beeld op ’n skerm verdien erkenning vir ’n kreatiewe kombinasie van musiek en beeld. Maar daardie mooi helder beeld moet saamhang met die musiek. Wat is die doel van hierdie bewegende animasie? Hoe versoen dit met die musiek?

Na afloop van Pieter en die wolf moet ons die terrein na ander afsprake verlaat.

Op ’n ander verhoog speel Georgetown, ’n groep uit Johannesburg met ’n folk-klank. Hulle eerste note laat my kinders vra of ons langer kan bly, maar ons moet daar weg, anders is ons laat. Ek berou die volgende afspraak. En hoor die hoofsanger van die groep vra: “Weet die mense daar is vandag ’n fees hier op Coetzenburg?”

Dis ’n hartverskeurende vraag om te vra.

Hier is die musiek. Waar is die mense? Is die lewe nou te duur?

Ten slotte: later die middag, by die huis, hoor ek steeds Pieter se vioolkenwysie in my kop draai. Na ’n rukkie besef ek dis nie net in my verbeelding nie. Dis my dogtertjie wat dit sing.

Ten spyte van al my volwassene-verwagtinge, het Pieter en sy musiek tog wel saam met my kind huis toe gekom.

  • 1

Kommentaar

  • Amanda le Roux
    Amanda le Roux

    Ek stem heelhartig saam met jou saam, Naomi! Ek het my kleindogter geneem nadat ek haar lank probeer voorberei het op die wonderlikheid. Ek hoop regtig dit kan herhaal word en dat jou aanbevelings ernstig opgeneem sal word - die "wys" van elke instrument en ook sinvolle benutting van projeksies op die skerm.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top