US Woordfees 2018: Korreltjie Kantel

  • 0

Daar is min liefdesverhoudings in die Afrikaner-kollektief wat so aangrypend is soos dié van Ingrid Jonker en André P Brink. Miskien is dit omdat dit ’n verbode liefde was, dalk omdat Jonker later selfdood gepleeg het of omdat Brink vir jare lank geweier het om oor dié affair te praat. Die misterie en nuuskierigheid oor wat presies tussen die twee afgespeel het, verdwyn eenvoudig nie. Die feit dat enigiemand wat belangstel hulself soos voyeurs kan gedra en Brink en Jonker se gepubliseerde liefdesbriewe aan mekaar in die gemak van hulle eie kooi kan lê en lees, verander ook niks aan die feit dat mense blykbaar nie genoeg van dié romanse kan kry nie.

Die musiekproduksie Korreltjie Kantel (oorspronklik ’n opdragwerk van RSG) ondersoek ook dié verhouding en vir ’n wyle is die skrywer en die digter weer lewendig. Vir 2018 se Woordfees trek Korreltjie, wat al ’n hele paar jaar by verskeie feeste en teaters regoor die land opgevoer word, ’n splinternuwe 60’s-geinspireerde toeknooptrui aan. Waar stemkunstenaars vantevore verantwoordelik was vir die dialoog tussen die liedjies, word die beeldskone Christine Truter en die talentvolle Wessel Pretorius ingespan om in ’n klein en intieme ruimte gestalte aan die vuurwarm verhouding te gee. Wat ’n plesier is dit nie om vir Truter weer ’n slag op die verhoog te sien nie! Sy smeul behoorlik wanneer sy moet en raak weerloos in die arms van haar geliefde. Die toevoeging van die akteurs verleen beslis ’n ekstra spesiale dinamika aan die stuk. Waar die musiek van die drie oorspronklike sterre van die produksie, Luna Paige, Nick Turner en Jamie Jupiter, die gehore onmiddellik bekoor, is die tussenspel van Pretorius en Truter soos die ekstra skeppie roomys waarop jy nie gebargain het nie. Dit maak van ’n reeds fantastiese musiekvertoning ’n absolute moet-sien ervaring.

Korreltjie Kantel is nog Donderdag en Vrydag om 12:30 by Weltevreden te sien. 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top