US Woordfees 2018: Joernalistiek tussen demokrasie en disaster

  • 0

Die gedrukte media is op sy sterfbed. Die vraag is nie meer óf gedrukte media gaan verdwyn nie, maar wanneer. Dit is net ’n kwessie van tyd voordat gedrukte koerante vir alle praktiese doeleindes van die toneel sal verdwyn. Dit was die boodskap van Media24 se uitvoerende hoof, Esmaré Weideman, tydens ’n Woordfees-gesprek oor die toekoms van gedrukte media versus digitale media in die elektroniese era waarin ons leef.

Die tema van die gesprek was joernalistiek tussen demokrasie en disaster.

Weideman was deel van ’n paneel joernaliste wat by die Woordfees gepraat het ter viering van die Universiteit Stellenbosch se 40-jarige herdenking van die Departement van Joernalistiek.

Dit kan korter of langer duur maar die toekoms van joernalistiek is nie meer die gedrukte media nie. Sy sê Media24 het vroeër al gereken die gedrukte media het nog net vier of vyf jaar oor, maar dit kan dalk langer duur.

Die einde van die gedrukte media beteken nie die einde van joernalistiek nie. Die behoefte aan goeie joernalistiek is vandag groter as ooit.

Die paneel van sewe joernaliste was dit eens dat ’n vrye media een van die pilare is wat gehelp verhoed het dat Suid-Afrika se demokrasie die afgelope stormagtige paar jaar van die land se politiek, in ’n ramp verander het.

Die hoof van die departement Joernalistiek aan die US, Lizette Rabe, het gesê ondanks die agteruitgang van die gedrukte media bied die joernalistiek steeds vele uitdagings. Sy is optimisties oor die nuuskantore van die toekoms.

Lizette Rabe

Die noodsaaklikheid van goeie joernalistiek is vandag groter as ooit, het Rabe gesê. Gewone joernalistiek soos wat dit in die ou dae bedryf is, se dae is getel. Die beroep verg vandag talle nuwe vaardighede. Joernaliste moet ook na die publiek luister en het ’n verantwoordelikheid om met hulle lesers in gesprek te tree.

Rabe het gesê joernaliste moet hulself altyd afvra of hulle hul werk goed doen met die minste skade, die grootste mate van onafhanklikheid en of dit wat hulle skryf verantwoordbaar is.

Tim du Plessis het Rabe se standpunt beaam. Hy sê die basis van joernalistiek in Suid-Afrika is stewig. Die rol wat die joernalistiek die afgelope paar jaar gespeel het om korrupsie oop te vlek het dit bewys. Du Plessis het die howe, die media en die burgerlike samelewing uitgesonder as die drie pilare wat die land se demokrasie gedurende die afgelope paar jaar staande gehou het. Hy sê Suid-Afrika kan trots wees oor die stand van joernalistiek in die land.

Tim du Plessis

“Dit is belangrik dat joernaliste nie hulle waaksaamheid sal verslap net omdat daar van Zuma ontslae geraak is nie. Dit is die media se plig om seker te maak die waardes wat die land se grondwet ons bied word ten alle koste beskerm, ongeag wie die land se president is.”

Die res van die paneel het saamgestem mens hoef nie pessimisties te wees oor die toekoms van joernalistiek net omdat die gedrukte media op pad uit is nie. Die digitale era bied nuwe uitdagings aan joernaliste.

Dit bly egter van kardinale belang dat joernaliste moet seker maak die inligting wat hulle met die lesers deel is betroubaar en geverifieer.

Foeta Krige gesels met George Claassen.

Media24 se ombudsman, George Claassen, het gesê die media het die bal laat val tydens Kaapstad se waterkrisis. Daar is te min joernaliste met die nodige wetenskaplike kennis om verantwoordbaar te berig oor sake van wetenskaplike aard. Daar is onder meer gesê daar was te lank toegelaat dat die stadsraad van Kaapstad aan die media dikteer wat die publiek moet weet. Die uitdaging vorentoe is om waaksaam te wees en nie toe te laat dat politici, amptenare of belangegroepe aan die media vertel slegs wat hulle wil hê die publiek moet weet nie.

Claassen het ook gesê daar moet meer verdraagsaamheid wees in die media. Die dilemma is egter om verdraagsaamheid uit te balanseer met die magdom stemme wat dikwels geen bydrae tot die gespek lewer nie soos blyk uit baie van die kommentare onder aan koerante se webwerwe.

Martie Retief-Meiring en Jean Oosthuizen

Die SABC as openbare uitsaaier het ook tydens die bespreking ter sprake gekom. Die paneel sowel as die gehoor was skerp krities oor die manier hoe die openbare uitsaaier misbruik kan word. Een van die sogenaamde SAUK-agt, Foeta Krige, was ook in die gehoor. Hy het gesê die feit dat daar van Hlaudi Motsoneng ontslae geraak is, beteken nie al die openbare uitsaaier se probleme is skielik opgelos nie. Baie van Motsoneng se senior aanstellings is steeds by die SABC werksaam. Joernaliste wat vir die organisasie werk moet waaksaam bly en op hulle hoede wees dat hulle nie misbruik word vir spesifieke agendas nie.

Isabeau Botha, Marita van der Vyver en Jomarie Dick.

Foto's: Gerrit Rautenbach

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top