US Woordfees 2018: Grepe van Karin Hougaard se lewe en musiek

  • 0

Foto: Hans Mooren (https://www.pifworld.com/nl/nonprofits/CyjUsO1dTos/dreamcatcher-foundation-nederlan/about)

Hoe vertaal ’n mens die frase “a slice of life” in Afrikaans? Dis een manier om Karin Hougaard se Grepe by US Woordfees te beskryf. Dis waarskynlik die rede vir die produksie se naam.

Marí Borstlap, wat haarself in ’n ander onderhoud as teatermaker beskryf, is regisseur hiervan.

Dit was om praktiese redes uitdagend om voor te berei, vertel Marí vooraf. Karin woon in die VSA en hulle het maande voor die tyd daagliks aanlyn met mekaar gesels. Saam uitgepluis om die produksie aan mekaar te sit. Maar daar is tydsverskille, aan Marí se kant ’n klein dogtertjie wat vroegaand haar mamma se aandag benodig. Hulle het eers taamlik onlangs, vandat Karin in die land is, fisies saam begin oefen.

Niks hiervan is sigbaar tydens die vertoning nie. Almal wat hierby betrokke is, weet wat hulle doen. Wat sigbaar is, is professionaliteit. Drie kunstenaars wat mekaar aanvoel. Die derde sleutelfiguur van die produksie, is Jaconell Mouton. Sy bespeel die klawerbord met haar gebruiklike musikale aanvoeling wat sy in alle produksies aanwend waarby sy betrokke is — of dit nou ligte musiek is, of saam met simfonieorkeste.

Karin se musiek is deurentyd op die voorgrond. Dit is die polsslag, dit wat die konsert lewendig maak. Maar die ander elemente hierby – die lig, die musikale aanvoeling van die pianis – dit veroorsaak lewende teater.

Karin praat nie juis veel tydens die vertoning nie. Sy vertel haar lewensgrepe deur te sing.

Die Woordfeesprogram se beskrywing is akkuraat:

Karin Hougaard se US Woordfees-debuut Grepe wys waar sy vandag staan, as kunstenaar en as mens. Die program sluit treffers soos "Bly" en "Kruietuin" in, asook nuwe werk wat sy saam met Herman van Veen geskryf het. Hierdie vertoning is intiem, dinamies, spontaan en literêr.

Karin en Anne van Veen se komposisie “Bij Mij” (vanaf die CD Hartstukke) word in 2012 uitgesonder as een van die toptien Nederlandse kleinkunsliedere - sogenaamde Nieuwe Klassiekers - liedere met ewigheidswaarde. Hougaard se teks Kruietuin word voorgeskryf as poësie vir Afrikaansleerders in graad 11 (bron: Wikipedia). Karin sing Frans en Vlaams, Afrikaans en Engels. Sy sing liedere van die Kalahari. Sy sing in haar hartstale, oor al die lande wat tot haar spreek.

Grepe van haar lewe skyn deur die blare, ligspatsels soos die gloeilampe op die verhoog.

Marí voel die atmosfeer aan, en die beeldmateriaal op die verhoog se muur voeg waarde toe. Daar is projeksies van die hemelruim, van reën teen ’n vensterruit. Daar is lig in verskillende kleure en skakerings, dit hang saam met die musiek. Die klawerbord is nie sinteties nie, hoewel dit elektronies is. Ook die begeleiding voel die sang aan. Marí het die ontwerp van die hele produksie behartig: die stel, oudiovisuele elemente en die beligting. "Ek het maande gewerk aan hoe om die oudiovisuele soomloos met die musiek te laat meewerk," vertel Marí.

Die gehoor identifiseer met die grepe uit Karin Hougaard se musikale lewe. Die temas van vroeë liefde, verlies, mortaliteit en groot vrae oor elkeen se sin en bestaan, laat niemand onaangeraak nie.

Deur haar grepe te deel, verkry haar musiek ’n greep op jou hart.

Die enigste kritiek teen die vertoning is nie diegene wat hierby betrokke is, se skuld nie. Dis diegene wat glad nie betrokke is nie. Die kuierplekke langsaan kan dalk vir die duur van die Woordfees hulle musiek sagter sit sodat dit nie van tyd tot tyd hoorbaar tot binne-in die teater is nie?

Dit hinder as die atmosfeer versteur word, omdat die klank en lig en atmosfeer so effektief gesinchroniseerd is, so goed wérk.

Marí Borstlap, Jaconell Mouton, Karin Hougaard.

Heelwat talent, heelwat meer as net grepe. Almal het grepe van wie hulle is, by die gehoor agtergelaat om saam te neem huis toe.

Grepe, byeengebring.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top