Bibi Slippers het reeds die onmoontlike in die Afrikaanse letterkunde vermag – haar digbundel Fotostaatmasjien (2016) het reeds meer as 1 000 eksemplare verkoop en die gerugte het dit dat die boek in sy derde druk is, wat beteken die verkoopsyfer is eintlik nader aan 2 000. Dit is so tien keer meer as ’n ruimgeskatte gemiddeld vir Afrikaanse poësie. Boonop is dit ’n veelbekroonde bundel wat ook deur die oorweldigende meerderheid resensente gunstig ontvang is. Ek was een van daardie resensente wat ook nog daarop aangedring het dat daar veel meer – en ja, kom ons gebruik maar die “groot” woorde – filosofiese, psigoanalitiese diepte in Slippers se oënskynlik “maklike”, “pop”-gedigte opgesluit lê as wat sommige wou erken. Die gedigte in Fotostaatmasjien is allermins net spookasem, haasoortjies en stokkielekkers. Slippers het dus nie net ’n gewilde bundel geskryf nie, maar ook ’n goeie bundel, en dít is ’n haas onmoontlike prestasie wat slegs ’n handjievol digters regkry. In ’n wêreld waar kwaliteit al hoe meer voor kwantiteit swig, was Fotostaatmasjien dus ook ’n aangename verrassing.
Ek moet egter erken dat ek meer as effens skepties was toe ek onlangs verneem dat Fotostaatmasjien in ’n volskaalse toneelstuk onder regie van Wessel Pretorius omskep is en dat Slippers, om alles te kroon, self ook daarin speel. Eerstens het ek getwyfel oor die oordraagbaarheid van die digbundel as sodanig na die teater. Natuurlik is daar die versdrama en natuurlik is performance poetry springlewendig (vra maar vir Pieter Odendaal) en natuurlik lees veteraanaktrises gedigte by bekendstellings voor, maar die digbundel as volskaalse toneelstuk? Selfs as mens sou toegee dat ’n digbundel wel deur ’n behendige verwerking in ’n toneelstuk omskep kan word, het my verbeelding, tweedens, tekort geskiet wat betref Fotostaatmasjien as ’n toneelstuk. Derdens het ek nie geweet Slippers se repertoire sluit die toneelkuns in nie – sy is aan ons bekend as joernalis, TV-aanbieder en digter.
Wel, ek moes van beter geweet het. In die bundel Fotostaatmasjien het Slippers reeds vir ons gewys dat sy oor ’n uitsonderlike talent vir grensoorskryding binne die genre beskik, en nou wys sy in die teaterweergawe van Fotostaatmasjien dat sy ook ’n genre-oortreder van formaat is. Die trajek van Fotostaatmasjien as teks is eintlik ’n toonbeeld van die kreatiewe moontlikhede van ons post-postmoderne werklikheid waarin grensoorskrydings, genre-oorskrydings, uiterste vloeibaarheid, vernuwing en allerhande verrassings gedy. Trans- is die kode van die nuwe millennium en Bibi werk aan die kant van die aangename verrassings. Dit is asof sy haar kuns beoefen volgens Marilyn Monroe se woorde: “If I’d observed all the rules, I’d never have got anywhere.”
Die teks van Fotostaatmasjien vir die verhoog is die resultaat van ’n noue samewerking tussen Pretorius en Slippers. Die uitsonderlike aspek is dat hierdie teks nie net bykans in sy geheel uit die gedigte in Fotostaatmasjien bestaan nie, maar dat die teks byna die geheel van Fotostaatmasjien se gedigte in ’n produksie van net meer as 80 minute inkorporeer. Die narratiewe raam waarbinne die digbundel as toneelstuk gedaante kry, is die outobiografiese gegewe van die wel en wee (meestal die wee) van Slippers se vyf lang jare as meestersgraadstudent in kreatiewe skryfwerk aan die Universiteit Stellenbosch. Ek wil egter dadelik noem dat die tonele waarin Slippers as student alleen op ’n donker verhoog deur die streng stem van haar studieleier uit die niet aangespreek word, ’n herkenbare metaforiese inslag het. Mens kry die gevoel dat dit in hierdie tonele (ook) gaan om die individu se verantwoording van haar bestaan aan wie of wat dit ook al is wat groter as sy is. Wat dus hier op briljante wyse bygehaal word, is wat Judith Butler “giving an account of oneself” noem; die dimensie van die Groot Ander, die mens se verhouding met dit wat hy as gesag erken.
Een van Slippers se belangrikste antwoorde op die vraag oor hoe mens kreatief met tradisionele gesag omgaan sonder om van jou kop af te gaan is: met handevol sout. In hierdie opsig het Fotostaatmasjien my laat dink aan Hannah Arendt se beroemde woorde: “The greatest enemy of authority, therefore, is contempt, and the surest way to undermine it is laughter.” ’n Tweede belangrike antwoord is: deur jouself nie te ernstig op te neem nie, met ander woorde, deur ook gereeld vir jou eie gesag te lag, jouself te ironiseer.
Ek het lanklaas so lekker in ’n teaterproduksie gelag as wat ek in Fotostaatmasjien gelag het. Dit is alles die Dwarsrivier-spreekkoor se skuld. Moenie bang wees dat jy dalk nie deel is van die in groep en dus nie die humor gaan verstaan nie; daar is wel meer subtiele snaakse oomblikke, maar dis meestal net eenvoudig skreeusnaaks. Die rolverdeling is uit die boonste rakke: Schalk Bezuidenhout is die commedia dell’arte-karakter wat, onder andere, die rol speel van Bibi as aspirantdigter en beteuterde voordraer van swak gedigte tydens haar skooljare. Anna-Mart van der Merwe gee uiting aan die versugtinge van Bibi oor Harry Styles se hare. Dan is daar die vioolspelende, balletdansende Emma Kotze en Len-Barry Simons wat op ’n stadium met sy haardos die alpakka in die lewe roep. Die sesde speler is Kathleen Stephens. Bibi speel (natuurlik) ’n fotokopie van haarself en op ’n kol vertel sy die skeppingsverhaal met behulp van ’n goudgeverfde fotostaatmasjien. Bibi Slippers se derde antwoord op die vraag aangaande hoe mens kreatief met gesag omgaan, is dus: Nooit alleen nie. Jy het hulp nodig.
Fotostaatmasjien is bowenal ’n heerlike, menslike, lewenslustige produksie. Dit laat jou lag, maar dit laat jou ook wonder; dit konfronteer jou met vreemdheid en dit maak jou so ’n bietjie deurmekaar, soos die lewe self. Jy verlaat die ouditorium verfris, dankbaar vir goeie teater, en in ’n tyd van soveel malaise oor die mens se lot in die 21ste eeu is jy tog ook weer uitbundig bly dat jy in hierdie mengelmoes mag leef.
Jaco Barnard-Naudé is verbonde aan die Universiteit van Kaapstad se regsfakulteit en is die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe, Westminster Universiteit, Londen.