Die koninkryk van die diere: ’n teaterresensie

  • 0

Stian Bam (voor) en (agter) Dawid Minnaar, Tinarie van Wyk Loots, Joanie Combrinck en Ludwig Binge in Die koninkryk van die diere. Foto: Hans van der Veen.

Marthinus Basson bewys met Die koninkryk van die diere net weer eens waarom hy as een van Suid-Afrika se beste teaterregisseurs bekend staan. Hierdie toneelstuk is ’n vertaling van die bekroonde Duitse teaterregisseur en dramaturg Roland Schimmelpfennig se tweede deel van sy trilogie oor diere, Das Reich der Tiere – ’n satiriese toneelstuk oor die miserabele lewens van akteurs. Basson, tesame met Chris Pienaar as produksie- en verhoogbestuurder, se werk neem byna oombliklik ’n betowerende teenwoordigheid op die verhoog aan as die karakters reeds op die verhoog verskyn terwyl die gehoor nog besig is om hulle sitplekke in te neem.

Ses jaar lank al speel die karakters (vyf sukkelende akteurs) elke aand die rolle van vyf verskillende diere, naamlik die maraboe (Dawid Minnaar), die gemsbok (Tinarie Van Wyk-Loots), die leeu (Stian Bam), die muskeljaatkat (Joanie Combrink) en die sebra (Ludwig Binge). Die stuk wat hulle vertolk vertel die verhaal van hoe die slinkse leeu, pleks van die saggeaarde sebra, as die koning van die diere gekies word. Dit is egter ironies dat die diere enigsins ’n koning verkies, aangesien daar uit die hegte verhoudinge wat die diere as ’n groep verenig, blyk dat hulle gemaklik sonder ’n heerser sal kan klaarkom.

Die diere kom verwaarloos, afgesloof en besonder middelmatig voor. Die maraboe het byvoorbeeld ’n etterige seer in sy nek, omdat sy vere oor en oor uitgepluk en weer vasgeplak word. Hy struikel ook gereeld (opsetlik?) tydens die uitvoering van die diere-toneelstuk – grotendeels omdat hy die rol vertolk van ’n lomp ooievaar wat te swaar is vir sy bene. Ook die karakter wat die muskeljaatkat speel, doen ’n besering op wanneer sy haar toonnael verloor tydens een van die talle uitvoerings van hulle toneelstuk. Verder word die sebrakarakter ook aangesê dat hy eenvoudig “te vervelig” is, “te middelmatig” en “net nie goed genoeg nie”.

Onderwyl die karakters dag in en dag uit hierdie stuk opvoer, leer die kyker ook die karakters agter die skerms ken, waar hulle hul bekommernisse oor hulle toekoms in die teater aan mekaar in hulle kleedkamers (wat weerskante van die middelverhoog verskyn) uitspreek. Die stuk waarin die meeste van hulle al minstens vier jaar lank speel, gaan van die verhoog afgehaal word. Wanneer hulle egter met die personeellede van die teater hieroor wil praat, weet geeneen eens dat daar akteurs in die teater werk nie. Dit laat elkeen van die karakters met die angswekkende besef dat hulle deel vorm van die massas wat stelselmatig deur die vermaaklikheidswêreld verwerp gaan word. (Dit herinner nogal aan die bekende slotreëls van Ina Rousseau se “Kwatryne” in Die verlate tuin (1954): “Is ek van hierdie klug die held/ of teen die agterdoek ’n figurant?”)

Hierdie bekommernis oor die akteurs se toekoms in die teater blyk egter tevergeefs te wees wanneer elkeen van die karakters (behalwe een wat ’n rol oorsee gekry het) gekies word om teen die agtergrond van tegnoagtige musiek die rolle van ’n tamatiesousbottel, ’n sny roosterbrood, ’n gebakte eier en ’n pepermeul te vertolk in die onsinnige toneelstuk Die tuin van goeters. Dié stuk is geskryf deur ’n siniese, modieuse regisseur (Wessel Pretorius) wat ’n toekenning daarvoor gewen het, omdat die keurders volgens hom nie intelligent genoeg was om die betekenis van sy werk te begryp nie. Die koninkryk van die diere word uiteindelik afgesluit met die uitvoering van dié absurde, fiksionele Die tuin van goeters, wat rofweg oor dieselfde soort storielyn blyk te beskik as die verhaal van die diere.

Foto: Hans van der Veen

Terwyl daar in Basson se werk, soos in die geval van die oorspronklike Schimmelpfennig-stuk, beslis kommentaar gelewer word op die lewens van akteurs en die werklikhede van die bedryf, kan dit ook meer universeel gelees word. Akteurs is onderworpe aan die genade van diegene wat die mag het om lewensveranderende besluite om hulle onthalwe te neem – net soos wat die diere onderworpe is aan die leeu, of meer aktueel, soos wat werknemers onderworpe is aan werkgewers, of die samelewing onderworpe is aan die een of ander politieke bestel. Ons is dus eintlik almal slegs vervangbare akteurs wat die een of ander rol in ons eie werklikheid vertolk. En wat die sogenaamde werklikheid betref: dit bestaan net terwyl ons ’n aktiewe rol in die onderhoud daarvan speel. Sonder die “akteurs” beteken die verhoog van die lewe met ander woorde niks nie. Nogtans het dié spreekwoordelike verhoog die mag om ons te maak of breek.

Veral die eksistensiële vraag of ’n doelgerigte en suksesvolle lewe, waarvan die meeste mense so graag ’n deel wil hê, in die werklikheid regtig die moeite werd is, word in hierdie opvoering belig. As die leeu byvoorbeeld jag maak op die sebra en hulle albei eindelik in die sneeu op die berg verdwaal, en die sebra sterf, word die kyker bewus gemaak daarvan hoedat die gejaagde (dikwels sinlose) strewe na sukses ’n mens maklik verlore en magteloos kan laat. So ook wys die siniese regisseur se omstandighede die kyker op die sinloosheid van ’n strewe na sukses wanneer hy effens besope, haweloos en sonder ’n benul van sy pad vorentoe aan die gehoor bekendgestel word, nadat sy rugsak met sy selfoon, adresboek en dagbeplanner gesteel is.

Alhoewel daar deurgaans gefokus word op onderwerpe soos die sukkelende akteurslewe, of die vraag oor die rede vir ons bestaan, en temas soos die wanhopigheid van die mens en die verval van mag, word die toneelstuk lewendig en lig gehou deur middel van die humoristiese wyse waarop hierdie onderwerpe en temas aangepak word. Die akteurs het hulle veral in hierdie opsig goed van hulle taak gekwyt om die gehoor aan die lag te hou, aangesien selfs die klein foute wat hier en daar deurgeglip het, die gehoor vermaak het.

Schimmelpfennig se werk sou dalk selfs méér treffend kon wees voor ’n Suid-Afrikaanse gehoor indien daar meer konteksspesifieke gegewens by die vertaling daarvan ingesluit sou wees. Nietemin kry Basson dit reg om met hierdie toneelstuk (binne-in ’n toneelstuk) die gehoor te laat skaterlag, terwyl hy terselfdertyd op ’n skerpsinnige wyse kommentaar lewer op sowel die streng hiërargies-geordende samelewing van die verlede as die parallelle wat getrek kan word tussen die voorgenoemde en die sogenaamde meer liberale samelewing van die hedendaagse tyd.

Hierdie toneelstuk sou nie dieselfde trefkrag gehad het as dit nie vir die briljante stelontwerp was nie. Twee massiewe beweegbare houtpanele is op die verhoog geplaas en geskuif soos nodig. Die panele bestaan uit verskillende “bladsye” (reuse-, omblaaibare panele) wat verander word namate die konteks dit vereis – vir die vertoning van die diere is die agtergrond verander na ’n weerspieëling van die oerwoud, terwyl ’n blote swart agtergrond met “Das Reich der Tiere” daarop geverf, gebruik is wanneer die karakters hul in hulle kleedkamers bevind, en ’n wit en swart gestreepte agtergrond die sitkamer van Frankie (die karakter wat die rol van die sebra vertolk) verteenwoordig het.

Alhoewel Schimmelpfennig se oorspronklike teks alreeds ’n voortreflike stuk werk is, maak die Afrikaanse vertaling en vertolking daarvan nuwe moontlikhede vir die interpretasie van die stuk oop. Die karakters ontsnap uit die een skynbaar nimmereindigende dag-vir-dag-siklus, maar trap dan net weer in die strik van presies dieselfde daaropvolgende siklus. Of dit die kyker wys op die onvermydelike eentonigheid van ’n geroetineerde lewe (hetsy in die teater, in die algemene werkswêreld of in die breër konteks van die samelewing), of kommentaar lewer op die groter, universele geskiedkundig-politiese gegewens van ons tyd, laat ek eerder aan die verbeelding oor.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top