US Woordfees 2018: Die feëkoningin, ’n resensie

  • 0

Die feëkoningin 3–5 Maart 2018, Spier Amfiteater, Kaapstad Opera in samewerking met Naspers en Universiteit Stellenbosch, Woordfees 2018


Henry Purcell se Die feëkoningin is ’n semi-opera, en soos Izak Grove se programnota vir Kaapstad Opera se nuwe produksie aandui, beteken die term presies wat dit sê: dit is ’n werk wat slegs ten dele uit konvensionele opera bestaan en wat, benewens die sang, uitgevoer word met dans- en spraakrolle, sowel as instrumentale items. Die feëkoningin behoort boonop tot die sogenaamde masque-genre, wat enersyds beteken dat die werk van gemaskerde metaforiese of allegoriese karakters, eerder as werklike karakters, gebruik maak en andersyds dat die narratief ’n sekondêre rol speel. Hierdie aspekte is die gegewe waarbinne die regisseur die werk op die planke moet bring. Alan Swerdlow noem in sy regisseursnota dat die stuk oorspronklik uitgevoer is saam met die grootste gedeelte van Shakespeare se A midsummer night’s dream. Só ’n produksie sou vyf uur duur en is, ook natuurlik vanweë koste, deesdae nie lewensvatbaar nie. ’n Nuwe libretto is gevolglik van Wessel Pretorius aangevra en dit is hierdie libretto wat die werk laat afspeel binne die beleerde drama- en musiekdepartemente van ’n Nzimande-era-universiteit in ’n Bolandse dorp wat bekend is vir sy eikebome.

Swerdlow se produksie is ’n lawwe mallemeule van kleur, oordaad en melodrama. Die sentrale intrige is die verhouding tussen die hoof van die dramadepartement, Piscator, en sy gewese vrou, Cadenza. Dié twee word deur die universiteit se burokrasie gedwing om saam te werk aan ’n maak-of-breek-produksie van Die feëkoningin wat aangebied word vir bepaalde Chinese besoekers aan die universiteit wat daarin belangstel om dit te koop en te omskep in ’n tegnologiese sentrum waar drama en musiek beslis nie ’n plek sal hê nie. Die gebeure speel af rondom en gedurende die finale kleedrepetisie. Ons het dus hier te make met die sogenaamde metadrama – die teater binne die teater, die verhoog op die verhoog en die gehoor op die verhoog. Die overte posisionering van die werk as ’n finale kleedrepetisie is ’n slim keuse wanneer studente en jong kunstenaars die grootste gedeelte van die rolverdeling beklee – dit beteken dat sekere toegewings by die gehoor vanuit die staanspoor moontlik is, omdat die aspek van repetisie twyfel by die toeskouer kan laat ontstaan aangaande die inskatting van die gehalte van die kunstenaarskap. Is die vals, onvaste note by die sangers opsetlik (as deel van die opvoering van ’n repetisie) of is dit die gevolg van rolvereistes wat ver bo die vuurmaakplek van die vertolker is? Ek het die gevoel gekry dat die repetisie-aspek nie die onbeholpe sang deur veral die sopraanrolle kon verskoon nie – daar is net te veel daarvan. Daar is egter wel uitsonderings op hierdie algemene indruk wat die sang aanbetref: Marina Pienaar wend ’n goeie poging aan in die naamrol, maar dit is die sang (én spel) van Keaton Manwaring as Winter wat mens bybly; so ook die vertolking van Lusibalwethu Sesanti in die Coridon-en-Mopsa-duet. Erik Dippenaar agter die klavesimbel verdien die hoogste lof, want dit is sy rotsvaste musikale leiding van die afgeronde “Camerata Tinta Barocca” wat verhoed dat die mallemeule heeltemal hand uitruk.

Wat die toneelspel aanbetref, waardeer mens die vlot, liriese Afrikaans van Wessel Pretorius se teks (met byskrifte in Engels), die behendige spel van die meeste van die studente-akteurs, en die uitsonderlike vertolking van Petrus du Preez as Barrymore. Die kostuums en ontwerp is interessant en Swerdlow se strategie wat die inkorporasie van die Chinese aspek van die masque aanbetref is briljant.

Hierdie produksie is ’n lofwaardige poging met ’n eerbare doel: om aan jong kunstenaars die onskatbare geleentheid van ’n volskaalse uitvoering te gee (soos Matthew Wild dit in sy nota oor samewerking stel). Flou sang is, vergeleke met hierdie oogmerk, ’n klein prys om te betaal as dit beteken dat die kunstenaars van môre die blootstelling kry wat van hulle meer ervare toekomstige ambassadeurs sal maak van ’n genre wat permanent onder beleg is en deur baie as dood beskou word.

In hulle boek oor die sogenaamde tweede dood van opera noem Slavoj Žižek en Mladen Dolar dat opera nog nooit in pas met die tyd was nie: “[F]rom its very beginnings, it was perceived as something ‘outdated’, as a retroactive solution of a certain inherent crisis in music, and as an ‘impure’ art. To put it in Hegelese, opera is ‘outdated’ in its very concept. How, then, can one not love it?” Dolar gaan in sy gedeelte van die boek voort en wys daarop dat opera, ten spyte van die sogenaamde dood daarvan, lustig voortleef en gedy. Vir Dolar kan die rede hiervoor bestaan in die feit dat opera geskiedkundig die bevoorregte plek vir die opvoering van die fantasie van die fabelagtige gemeenskap was. Wat mens veral opval van Swerdlow se Feëkoningin, is die mate van versoening, verdraagsaamheid, gemeensaamheid, vriendskap en beperkte konflik in die gemeenskap – op ’n baie herkenbare manier verbeeld Swerdlow hier die postapartheid gemeenskap in ideale gedaante. Vandag glo baie min mense nog in die fabelagtige, harmonieuse idee van die gemeenskap, maar die fassinasie met en geloof in ’n tyd waarin mense nog in die fabelagtige gemeenskap geglo het, oorleef. Dolar skryf: “[I]t is [in the opera] that our own weird rites, the mythical beginnings of our society [persist] ... it’s lost but still persistent ... origins are presented and re-enacted […] Opera thus retroactively recreates the mythical past that nobody believes in but yet is dearly needed and piously re-created.”

Die vraag is natuurlik hoekom hierdie mitiese verlede ons steeds fassineer. Swerdlow se antwoord, reken ek, is dat hierdie mitiese verlede eintlik net in die toekoms kan bestaan en dat die eintlike doel van opera daarop gemik is om ons oë op die toekoms te rig en ons te wys op ons betrokkenheid by en verantwoordelikheid vir daardie toekoms en sy onbeperkte moontlikhede (goed én sleg) – die toekoms is nooit volledig voorafbepaal nie. Om hierdie rede kan ’n semi-opera uit 1692 in 2018 by die Woordfees leef asof opera nooit gesterf het nie.

 

  • Jaco Barnard-Naudé is die Britse Akademie se Newton Gevorderde Genoot in die Fakulteit Sosiale en Geesteswetenskappe by die Westminster Universiteit in Londen. In ’n vorige lewe was hy ’n tjellis.
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top