US Woordfees 2016: Small as struggle-ikoon vereer

  • 2

 

Adam Small is en bly een van die groot strugglekunstenaars in Afrikaans. Sy jarelange stilswye en die feit dat hy so opsetlik die bruin mense se perspektief bespreek het, het dalk daartoe bygedra dat hy nie so bekend is as wat hy moes wees nie.

Die feit dat die US Woordfees bereid was om hom te vereer, en meer nog, sy strugglekuns uit te lig, was fantasties. Kô laat ons sing was ’n kragtoer. Die musiek en die voordragte was puik.

Die grootste wonder van hierdie stuk is dat dit plaaswerkers is wat die ruggraat gevorm het van die vertoning. Ja, die koor en die orkes het bestaan uit handearbeiders, die meeste van Solms Delta wynlandgoed.

Op Solms Delta is Adriaan Brand, toenmalige trompetspeler vir die Springbok Nude Girls, in beheer van musiek. Solms Delta doen baie om aan hulle werkers opleiding te verskaf en om tradisionele, inheemse musiek op te teken en te bewaar.

Saam met die werkers van Solms Delta het ’n groep professionele musikante en akteurs opgetree. Wessel Pretorius, June van Merch, Frazer Barry, Sandy Gertse, Hemelbesem, Koos Kombuis en Zenobia Kloppers het gedigte voorgedra en gesing. Op tromme was Carlo Fabe, Nicholas Turner was op kitaar en Craig Potgieter het die baskitaar gespeel. Klik hier vir ’n aantal foto’s van die geleentheid.

Ek was bevoorreg om voor die fees ’n onderhoud met Sussana Malgas van Solms Delta te voer. Sy is deesdae aan die stuur van die musiekmuseum op Solms Delta, is die voorvatter van die Delta Soetstemme en is boonop die plaaslike ATKV-tak se voorsitter. Susanna is trots daarop dat sy en haar koor, asook die Solms Delta-blaasorkes, bekend as die Langbroeke, só goed is dat hulle twéé produksies na die US Woordfees kon neem en kon meeding met professionele musikante.

Die hoogtepunt van die aand was toe Adam Small self op die verhoog verskyn en ’n gedig voorgelees het. Die ganse amfiteater was op hulle voete.

Ek het so gewens ons kon elke student op Stellenbosch blootstel aan Small se struggle-literatuur in Afrikaans. Hoe lekker sou dit nie wees as die #OpenStellenbosch-beweging kon boogie op die Afrikaanse strugglemusiek nie?

Ek vrees egter dat dat ’n ander literêre teks ook ter sprake is. In Alan Paton se Cry the beloved country sê die wyse, swart priester oor die wit mense: “I have one great fear in my heart, that one day when they are turned to loving, they will find that we are turned to hating.”

Saartjie Botha en haar span het geweldig baie gedoen om die fees inklusief te maak. Die temas wat aangeraak is, kan ’n mens nie anders beskryf nie as uitdagend. Toneelstukke soos Buite blaf die honde swart en A Doll’s House was direk gerig om vrae te stel oor ons koloniale verlede en oor patriargie.

Die probleem is dalk: Die jongmense het reeds ander idees. Tydens ’n onlangse betoging by die universiteit is daar glo gesê Mandela het die jonger generasie gefaal

As Mandela nie meer goed genoeg is nie, dan sou ’n Afrikaanse struggle-ikon nouliks opwindend wees.

Dit is jammer.

Dan, juis te meer, is dit nodig om aan die (ouer) feesgangers te verduidelik hoe ver ons gekom het. Kô lat ons sing het dit gedoen.

Die woede in Small se gedigte is duidelik. Die vernedering van apartheid was aanvoelbaar. Dankie tog vir vertonings soos hierdie.

Lank lewe die werk van Adam Small. En baie geluk aan die Woordfees en Solms Delta wat hierdie stuk moontlik gemaak het.

Dit was goed om weer herinner te word aan ons struggleverlede. Dit is ook goed om te besef hoe ver ons gevorder het; veertig jaar gelede sou hierdie stuk beslis deur die veiligheidspolisie stopgesit gewees het.

  • 2

Kommentaar

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Waarom sou De Vries alle US-studente en Open Stellenbosch aan Small se politieke geskrifte wou blootstel? Om studie aan die US verder te ontwrig?

  • Avatar
    Sakkie Spangenberg

    Dankie vir hierdie vertelling oor die musiekuitvoering, Izak. Ek het dit bygewoon en was bly dat Adam Small gespaar was om te kon beleef dat Jerigo se mure uiteindelik geval het! Toe hy op die verhoog verskyn in sy klein nederige gestalte en sê: "Dankie. Ek het 'n vol lewe gehad," was ek bewoë.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top