US Woordfees 2016: Buite blaf die honde swart, Frankryk en Suid-Afrika

  • 0

 

Baie jare gelede het Jan Rabie ’n seminale kortverhaal geskryf met die titel “Droogte”. Daarin bou ’n wit man en ’n swart man saam aan ’n huis. Wanneer die swart man agterkom dat die wit man homself gaan toe bou en dus daar gaan sterf, probeer hy die wit man ompraat om uit die kom.

“Kaffer!” is die wit man se enigste kommentaar voor hy homself toespyker.

Ek moes hieraan dink terwyl ek Buite blaf die honde swart gekyk het.

Die ander interteks wat onwillekeurig by my opgekom het, is Mahala van Chris Barnard, want die drama speel in Afrika af. Die ruimte is ’n padkamp. Op die verhoog is die hoofingenieur. Wit. Europees. Hy word gekonfronteer met ’n swart man wat die lyk van sy broer soek.

Die hoofingenieur is vriendelik, maar erg patroniserend. ’n Mens voel ongemaklik om te hoor hoe neerhalend die kêrel is.

Kort daarna kom die enigste ander wit man in hierdie wêrelddeel daar aan. Hy is ’n vark. ’n Vark met vele grade, maar hy bly ’n vark wat blatante, rassistiese uitsprake maak.

Dit duur nie lank nie voor die gehoor uit die gesprek agterkom dat hierdie varklike man verantwoordelik is vir die dood van die swart man wie se lyk nou gesoek word nie.

In dieselfde gesprek laat die ouer man blyk dat hy vir hom ’n meisie ingevoer het uit Nederland. Die jonger man raak heeltemal oorhoops wanneer hy die vrou sien en onderwerp haar aan gewelddadige seksuele teistering.

Die meisie sien egter die swart man in die bos raak en probeer om met hom saam te gaan. In haar Europese ogies is hierdie man alles wat Europese vroue van droom: eksoties en, uit hoofde van sy velkleur, lus vir haar.

Ons sien dus drie vorme van rassisme op die verhoog: die gekultiveerde rassis, wat gemoedelik en selfs vriendelik omgaan met “die ander”, die vark, wat nie huiwer om sy haat uit te spreek en te moor nie, en dan die romantiese rassis, sy wat haar lyf bied aan Afrika, want die tweepotige “ander” moet ’n welkome alternatief bied tot haar vaalwit werklikheid.

Waarom?

Buite blaf die honde swart is ’n swaar stuk wat uit die Frans vertaal is deur Tertius Kapp. ’n Mens sou moet vra: Waarom ’n Franse stuk fees toe bring?

Die antwoord lê eenvoudig in die raakpunte tussen postkoloniale Frankryk en postapartheid Suid-Afrika.

Die stuk hou ’n spieël aan Suid-Afrika op. Wie van ons ken nie een, of al drie, van die stereotipes wat op hierdie verhoog uitgebeeld word nie? Die rassisme en seksisme wat op die verhoog uitgebeeld word, voel ongelukkig steeds baie hedendaags.

Protes

Reg aan die begin van die fees het ’n groep meisies teen verkragting betoog. Dit het die voorblaaie gehaal, maar hoekom het die meisies betoog? Hulle betoging was teen ’n patriargale orde waarin vroue nie na waarde geag word nie en voortdurend met seksuele geweld gedreig word.

Ek het Philida van de Delta gesien ’n uur ná die protes in die middedorp. Ook in hierdie stuk was ’n direkte protes teen ’n patriarg wat ’n vrou kan misbruik en dan verkoop. Die verkragtingstoneel in Philida was egter redelik mak teen die seksuele teistering wat uitgebeeld word in Buite blaf die honde swart.

Kuns wat uitdaag

Buite blaf die honde swart was nie maklik nie. Dit het die gehoor die hele tyd uitgedaag. Die ongemak was immer teenwoordig.

Kuns moet uitdaag. Kuns moet vrae vra.

Kuns mag ook vermaak. Philida van de Delta was baie goeie vermaak – so was dit bedoel. Sanna Malgas, van die ATKV-tak op Solms Delta, het gesê hulle wou soveel moontlik mense betrek, vandaar die keuse om nie ’n donker stuk aan te bied nie, al is die temas hoe donker. Onder die oppervlak was die protes egter deurgaans aanvoelbaar.

Buite blaf die honde swart se protes teen die samelewing was veel meer overt, want die spieël is nooit laat sak nie. Hierdie stuk beloof nie bloot vermaak nie; dit gee ook aan die ernstige teatergangers ’n baie goeie forum tot gesprek.

Die US Woordfees moet ’n pluimpie kry dat hulle soveel forums toelaat om vrae te vra.

Franse kolonialisme

Combat de nègre et de chiens is die oorspronklike titel van Bernard-Marie Koltès se drama. My Frans is beperk, maar ek sou dink dat dit iets beteken soos “oorlog met die swartes en die honde”. (Die titel van die Engelse vertaling van Koltès se stuk is Black battles with dogs.) Hierdie drama is reeds in 17 tale vertaal.

Hoekom?

Koltès is reeds in 1989 oorlede, voor die val van apartheid. Sy protes was egter duidelik teen die patriargie van kolonialisme en teen die Europeër se behandeling van die Afrikaan.

Die feit dat soveel tale dit reeds aan gehore beskikbaar gestel het, dui daarop daarop dat vele ander kulture ook hierdie spieël nodig gehad het.

Jan Rabie het ons probeer waarsku met “Droogte”.

Chris Barnard het ons gevra om die ander in onsself te ontdek met Mahala.

Buite blaf die honde swart sê: Julle het klaar alles opgeneuk. Erken dit nou.

Om skuld te erken is ’n belangrike deel van hierdie drama. By gebrek aan skulderkenning word mense in die rug gesteek.

Verkleurmannetjies

Tinarie van Wyk Loots is gewoon ’n fenomeen. Hier speel sy ’n werkersklasmeisie uit Nederland, ’n bimbo. Haar aksent was voortdurend puik. Die karakter praat geen Afrikaans nie, bloot ’n mengsel van Nederlands en Engels. In albei tale was sy absoluut oortuigend. Ek het haar al in soveel verskillende soorte rolle gesien en elke keer word sy ’n mens. Ek wil altyd glo sy is regtig so.

Dawid Minnaar was die boosheid self, maar op so ’n onderbeklemtoonde wyse dat sy karakter by tye amper simpatie kon wek.

Albert Pretorius speel die rol van die vark baie goed.

Owen Manamela-Mogane was vir lank net ’n stem uit die bos. ’n Mens was egter voortdurend bewus van hom. Later, toe sy karakter ’n meer aggressiewe houding begin inneem, was dit ook makliker om te takseer. Hy is beter bekend as danser, en meer onlangs as televisiepersoonlikheid, maar hier het hy ’n verhoog gedeel met van ons grootste verhoogakteurs en het homself te alle tye gehandhaaf. Dit wil gedoen wees.

Besonderhede

Bernard-Marie Koltès se teks is deur Tertius Kapp na Afrikaans vertaal as Buite blaf die honde swart. Regie was deur Jaco Bouwer en Pierre-Henri Wicomb het interessante musiek geskryf wat bygedra het tot die drukkende atmosfeer.

Dit is onbekend wie die stel ontwerp het, maar daardie persoon, of span, verdien melding. Dit was baie slim.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top