"Deborah Steinmair is 'n onkonvensionele skrywer."
Haar uitgewer Marga Stoffer het dit op 10 Maart 2015 tydens die bekendstelling van Moestas by die US Woordfees aangekondig. Dié opmerking het Deborah nie verbaas nie. Sy het in haar gesprek met Jonathan Amid in Erfurthuis gesê dat sy, van al die karakters in haar drie boeke wat 'n verskeidenheid van gesigskenmerke as titel bevat (Die Neus, Wenkbrou en Moestas), die meeste soos Aga is.
"So bedoel jy om aweregs te wees?"
"Nee, juis nie. Die teenoorgestelde."
"En om aweregs te skryf?"
"Nee. Ek het bedoel om eerder misdaadfiksie te skryf, amper iets soos Deon Meyer. Maar dit het nie so uitgewerk nie."
Deborah se gesprek is gekenmerk deur haar spitsvondigheid en keurige taalgebruik. Sy het doelbewus die onderwerp van kindermolestering, wat sentraal tot Moestas staan, versigtig hanteer. Eerder humor aangewend as om swaarmoedig te raak.
"Skryf is tog nie soos mandjies vleg nie," het sy opgemerk. "'n Mens kan 'n boek ook nie as jou sielkundige gebruik nie. Teen die tyd dat mens oor 'n onderwerp naby aan jou skryf, moes jy dit reeds self verwerk het."
Haar dogter Simone het twee van haar foto's van die geleentheid met LitNet gedeel.



