US Woordfees 2013: Van Anton tot Die Antwoord – "Ruimtes verander saam met tyd"

  • 1

Albert du Plessis neem by die Woordfees saam met Anton Goosen en Kerneels Breytenbach deel aan die gesprek Van Anton tot Die Antwoord. Hy beantwoord enkele vrae oor hierdie vooruitsig.

Jy neem by die Woordfees deel aan die gesprek Van Anton tot Die Antwoord oor veranderinge in die Afrikaanse musieklandskap oor die afgelope paar dekades. In jou rol as die leier van een van die belangrikste plaaslike platemaatskappye oor die afgelope tyd, hoe sou jy kortliks die waarde van die groei van Afrikaanse musiek en lirieke beskryf?

Dankie vir die kompliment, Henry. “Die waarde van die groei van Afrikaanse musiek en lirieke” (soos jy dit stel) is nogals ’n gelaaide mondvol – en dit impliseer baie. Kortom: As jy van die standpunt af uitgaan dat digters en sangers die gees van die tyd vergestalt in hulle musiek en lirieke, dan lê die waarde van die lirieke daarin dat dit dien as ’n soort monitor van die kollektiewe gedagtegang en status quo van die betrokke subkultuur of groepie namens wie, of vir wie, die digter/sanger sy ware uitstal. Die digter/sanger is ’n conduit vir die energie van sy of haar “fan base”, wat meestal verwar word met die muse. Dus is dit so ’n snapshot van die stuff wat in ’n kultuurgroepie se “spokespeople” se koppe raas op daardie plek en tyd in die heelal. Sosioloë, filosowe, kykNET en MK se sterrekykers, idoolbeheptes en buskers en moshpitters vind dit van groot waarde en spandeer ure daaraan om dit te ontrafel en te plunder en te luister en te braai en te dans en te lag en te huil en te verlang en die hof te maak daarop en daarmee.

Die gesprek handel oor veranderinge in die "musiek- en lirieklandskap". In watter mate is hierdie twee elemente noodwendig verbonde aan mekaar wat betref die skep van liedjies wat "bakens" in die Afrikaanse musiekgeskiedenis sou word?

“Musiek- en lirieklandskap” is die begrensende beskrywing van ’n ruimte. Ruimtes verander saam met tyd. Omdat dit in dieselfde ruimte gegiet is as tyd, is dit so verwant aan mekaar soos brannewyn en Coke, kettie en klip, got en duiwel.

Die befaamde liedjieskrywer Anton Goosen gee sy mening:

Jy neem by die Woordfees deel aan die gesprek Van Anton tot Die Antwoord oor veranderinge in die Afrikaanse musieklandskap oor die afgelope paar dekades. In jou rol as een van die mees gerespekteerde Afrikaanse liedjieskrywers oor die afgelope tyd, hoe sou jy kortliks die waarde van die groei van Afrikaanse musiek en lirieke beskryf?

Die vrae tydens die gesprek vind ná die liriekskryfskool plaas. Melt Myburgh is eintlik die man wat weet wat hier gaan gebeur. Soos ek verstaan, gaan Kerneels Breytenbach en Albert du Plessis die vrae aan jors troelie stel (dalk die publiek ook – ek weet nie).

Die gesprek handel oor veranderinge in die "musiek- en lirieklandskap". In watter mate dink jy is hierdie twee elemente noodwendig verbonde aan mekaar wat die skep van liedjies wat "bakens" in die Afrikaanse musiekgeskiedenis sou word?

1979 se Rubicon-skeidslyn in musiek het die era(s) ingeluit en ’n fondament daargelê waarvandaan Afrikaanse musiek in vele rigtings gegroei het, onder andere folk, protes, rock, kabaret,  ens. Ook seker doef-doef as ’n teenpool.

Die Voëlvry-beweging het veral etlike jare later grootliks protes gedoen met ’n rock ’n roll-baadjie aan. Teen die tyd van die Zoid-generasie het sy, Jan Blohm, Gian Groen, Fokofpolisiekar et al dit volwaardig gedoen. Maar ook hip-hop en rap is deel van ons hedendaagse Afrikaanse musiek, soos Tribal Echo, Brasse destyds, Churchill, Hemelbesem, asook byvoorbeeld “Lekker lekker dans” van Tidal Waves ens tot en met Jack Parow en Die Antwoord.

Afrikaanse musiek het sy wortels oor die hele genre-spektrum laat groei. Bakens in musiekgeskiedenis is sekerlik die liedjies wat die tyd deurstaan van watter genre ook al. Tog bly dit ’n subjektiewe veralgemeende en afhanklik van uit watter spektrum dit bekyk word. En sonder om neerhalend te wees, die mense in die drinkhole van Gansbaai gaan veel eerder "Baby Tjoklits" onthou as "Beaufort-Wes se beautiful woorde". Maar nie almal nie. En dis die kwessie van balans, want progressiewe Afrikaanse musiek kry hopeloos te min steun van die algemene media. Ter voorbeeld is programme soos Jukebox seker goed vir kykersyfers, maar waar is die teenpool – die anderkant van die sirkel? 

Met enige veranderinge is daar ongelukkig ’n veilige teenpool – die oorgekommersialiseerde "doef-doef" wat die media en die veilige mark aan die mediaan verkoop. Dis nou maar dit: daar is gelukkig ’n “Wonderwerker”, want daar sal altyd ’n “Pretville” wees.

5 March 13:00 | De Vette Mossel | 50min | R30 by die ingang (ete uitgesluit)

Lees nog inligting oor Van Anton tot Die Antwoord.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Jakkie Jordaan

    Ek sal ongelukkig nie by die fees kan wees nie, maar dit is jammer en ook veelseggend dat Die Antwoord nie daar gaan wees nie. Hulle is te besig om hul ding te doen, eerder as om enigsins daaroor te sit en besin. Hulle hoef nie te kweel en kla oor die gewildheid van gewilde Afrikaanse musiek nie, want hulle skop internasionaal gat, maar skep steeds in die proses 'n vorm van kuns.

    Baie mense sal gegrief voel oor so 'n opmerking, maar Die Antwoord doen vir Afrikaanse musiek wat Brel en Piaf destyds vir Franse musiek gedoen het.

    Ek dink dit is waarskynlik die probleem met Afrikaanse digkuns en selfs 'goeie' Afrikaanse musiek - dit is nie viriel genoeg om los te breek uit die tradisionele boksies nie.

    Uiteindelik moet almal seker maar net doen wat hulle doen en hoop dit werk.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top