US Woordfees 2013: kykNET Deurnag Teaterfees ’n "baanbreker-inisiatief"

  • 0

By 2013 se US Woordfees sal daar vir die eerste keer ’n marathon van vyf teaterstukke in een nag wees, aangebied as die kykNET Deurnag Teaterfees. Anneke Borman van kykNET en Saartjie Botha van die Woordfees beantwoord enkele vrae hieroor.

By vanjaar se Woordfees word die kykNet Deurnag Teaterfees vir die eerste maal aangebied. Waar het die inspirasie en die idee vir hierdie teaterfees vandaan gekom?

Ons is deur die Woordfees genader om as borg betrokke te raak vir hierdie Deurnag Teaterfees. kykNET belê graag in die uitvoerende kunste en iets soos hierdie inisiatief gee ons ’n verdere platform om dit te doen. Ons het reeds die kykNET Fiëstas, waar ons jaarliks hulde bring aan diegene wat uitblink tydens die kunstefeeste, dus is dit vir ons ’n natuurlike stap om by so ’n baanbreker-inisiatief betrokke te raak. Die kunste, en kunstefeeste, is die kreatiewe poel waar ons as TV-kanaal talent moet gaan soek, so ons ondersteun graag.

Hoe is daar te werk gegaan om te besluit watter toneelstukke by die fees aangebied sal word?

Ons het hoofsaaklik nuwe stukke gekies, behalwe in die geval van Hol van Nicola Hanekom vir bietjie energie in die moeilike ure van die nag. Uiteraard moes dit ook stukke wees wat redelik vinnig kan in en uit trek, sodat ons gehoor nie te lank sit en wag en dan vaak word nie.

Die spyskaart vir die verskillende vertonings wissel van vonkelwyn en soesji tot koffie en beskuit. Hoe is daar besluit watter geregte saam met die onderskeie toneelstukke bedien sal word - hou dit verband met die inhoud van die stuk, of is dit bloot so opgedeel vanweë die tydgleuwe?

Dit het meer met die tydgleuf te doen as met die inhoud van die stuk. Ons moet die bloedsuikervlakke bestuur om almal in goeie kondisie te hou.

Dit is inderdaad, soos beskryf word in die feesprogram, ’n "marathon" van vyf teaterstukke in een aand. Watter elemente van die fees sal die feesgangers laat voel hulle móét deurdruk vir die hele nag se program?

Ons toneelprogram is vanjaar besonder vol. Die marathon maak dit vir gehore moontlik om meer stukke in ’n korter periode ingepas te kry. Dit beloof ook om ’n aand van kuier en gesprek te wees, met baie afwisseling en baie nuwe jong talent.

1-2 Maart 22:30-05:00 | Klein Libertas Teater | R400 vir die hele pakket

Lees nog inligting oor die kykNET Deurnag Teaterfees.

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top