US Woordfees 20 Jaar! Herinneringe aan die eerste fees

  • 4

Te gou breek die groot aand aan: 17 Maart 2000. Dis tyd vir die Woordfees se Nag van Passie! Die eerste nuwe fees van die nuwe millennium.

Die klinkreël is een van die bydraes van ’n oudstudent van die Departement Afrikaans en Nederlands. Dit was eers “Nag van passie en poësie”, maar Abraham H de Vries het wyslik gewaarsku: “Wat sal die studente met die deelteken doen?” ’n Pragtige plakkaat, feesbundelvoorblad en T-hemp is deur die kunstenaar Piet Grobler ontwerp.

Dit is ’n pragtige herfsaand: warm en windloos. Die parkeerterrein van die HB Thom-teater lyk soos ’n sprokieslandskap met die stalletjies en die buiteverhoog waar tot 01:00 ’n gratis program aangebied word vir studente en die gemeenskap deur kunstenaars soos Soli Philander, Tyrone Appollis, Loit Sôls, Ronnie Belcher, Gert Vlok Nel, Willem Fransman, Devin Persens, Con O'Shea, Mareth van Schalkwyk en die dramastudente.

Op die agtertrappe, met my student Niël Rademan as aanstigter, hou die dramastudente hulle eie deurnagfees rondom ’n klavier wat hulle uitgedra het.

Niël Rademan voor die klavier by een van die eerste Woordfeeste
Foto: Naomi Kranholdt, LitNet

Ek trippel, uitgevat en opgetooi om op my beste te lyk, die trappe op vir ’n onderhoud met kykNET net voor die tyd. Ook binne lyk alles goed. Ons wonderlike assistente, Naomi Bruwer, Retha Schoeman en Lizette Grobler, asook die dramastudente, is op hulle poste. My gawe kollegas Ronel Foster van die Departement Afrikaans en Nederlands en Marie Kruger, Johan Esterhuizen en Kobus Rossouw van die Departement Drama hou alles mooi op die regte spoor.

Op die trap word my spoed gebreek deur (nogal) ’n meneer Van Zyl, wat by voorbaat kom kla oor die luidrugtige aand in sy woonbuurt. “Dit is nie so ’n tipe fees nie,” antwoord ek. “Gee die man ’n gratis kaartjie dat hy self kan kom kyk.” Ek en ’n paar skrywers, soos Elias Nel, wat mooi woorde sê oor die nuwe Woordfees, praat lekker uit die vuis – daar was nie tyd om vooraf te dink oor wat ek sou sê nie.

Net na sewe-uur, na ’n kort insetsel met gedigte (“So is ek gebek”), stap ek op die verhoog as voorsitter van die eerste sessie om die mense te verwelkom. Die teater is gepak!

Ek is baie verlig, want in die saal sit ook Greetje van den Bergh, sekretaris van die Nederlandse Taalunie, wat toevallig in Suid-Afrika op besoek is. Dit was haar idee vir ’n fees met Afrikaanse en Nederlandse digters wat in 1994 die eerste saadjie in Utrecht, Nederland, geplant het vir die Woordfees.

Ek begin, soos dit tradisie sou word by die Woordfees, die aand met ’n  gedig – dié keer ’n uittreksel uit ’n vers deur Tyrone Appollis, wat hy spesiaal vir Nag van Passie geskryf het:

... my pen teken bloed op ’n blom
en my bokkie soen soetsuur
in die nag van passie.

My eerste toespraak was kort, maar het die baan geopen vir die altesaam 15 Woordfeeste tot my aftrede in 2014:

Die idee van ’n Woordfees kom van ver af. Waarom?

  • In die Wes-Kaap is die aanbod in musiek, kuns en toneel groot, maar die letterkunde figureer te min – al woon die grootste getal skrywers in die land hier.
  • Lesers, ook in Suid-Afrika, sien graag die skrywer agter sy boek uitklim. Poetry International in Rotterdam is al 30 jaar wêreldbekend en kaartjies vir Utrecht se jaarlikse “Nacht van de poëzie” reeds die afgelope 19 jaar vooraf uitverkoop.
  • Die bemarking van woorde laat die belangstelling in boeke groei. Ander Naspers- en kunstefeeste het al gewys hoe ’n hele nuwe dinamika só ontstaan. Letterkunde raak dan nog interessanter vir studente en voornemende studente.
  • Stellenbosch en sy Afrikaanse universiteit bied die ruimte vir ’n ware inklusiewe fees. Afrikaans is nie benoud, styf of beperkend nie. Die fees is ’n viering van die Afrikaanse woord binne sy konteks en in soveel vorme moontlik. Dit omarm ook Xhosa, Engels, Sotho en Nederlands, want Afrikaans beklee ’n besondere posisie: dis van Afrika, maar gee as brugtaal ook aan Europa toegang tot ons kontinent.

Juis ’n Nag van die Woord is interessant vir al die jonges en jongeres van gees. En die herfs, wanneer die jaar ryp word in akkerblare, in wingerd wat verbruin en witter lug, is dié tyd vir passie, poësie en prosa. Om van drama nie te praat nie. Hierdie kwaliteite maak die kollegas van Afrikaans en Nederlands en Drama natuurlike bondgenote.

Sedert Junie 1999 het die Woordfeeskomitee hard gewerk om mooi idees uit te timmer tot ’n werkbare fees. Gelukkig was ander persone en instansies ook entoesiasties: Ons universiteit het steeds aangemoedig en gehelp. Ons borge en skenkers het verhoed dat die idee ’n droom bly. Die skrywers wat ons bymekaar gesprokkel het se entoesiasme het die fees laat ontplof in ’n skittering van sterre. Hulle is ons eregaste.

Dit is ons eerste probeerslag (hopelik nie die laaste nie). Ons vra vooraf verskoning vir alles wat sál skeefloop met die enorme organisasie van so ’n alles-in-een happening. Berei u voor op chaos – dit is deel van die pret en onthou die gevleuelde woorde: Ook God het uit die chaos geskep.

Geniet dit, vertel van die fees en kom weer!

Die rektor, Andreas van Wyk, praat ’n paar woorde, asook die Departement Afrikaans en Nederlands se voorsitter, Louise Viljoen. Die rektor en die dekaan Lettere, Izak van der Merwe, het enkele maande vantevore met hulle aandrang op groter uitstraling vanaf ons departement die bal finaal aan die rol help sit om met die fees te begin.

Ek verduidelik kortliks hoe die aand sal verloop. Lina Spies, die vermaarde Nederlandse digter Gerrit Komrij en NS Zulu van die Departement Afrikatale is die eerste lesers. Dan besing ’n bloedjong imbongi in Xhosa die lof van geleerdheid. Die verskeidenheid en inklusiwiteit van die eerste sessie simboliseer hoe ons groepie feesorganiseerders die Woordfees sien.

In hierdie nag, van sewe-uur in die aand tot sewe-uur die volgende oggend, vind iets heeltemal nuuts in Suid-Afrika plaas: 60 skrywers en digters kom lees deurnag in ses uursessies, elk met ’n eie voorsitter. Van hulle is 21 van voorheen benadeelde gemeenskappe (soos dit destyds genoem is) en 20 vroue.

Dit vind plaas in die HB Thom-teater, in die Keller (kort dramas), Repetisielokaal 1, die Bewegingslokaal, die Ou Hoofgebou en op die buiteverhoog in ’n gratis straatfees. Buite is ook straatteater aangebied. Stalletjies het eetgoed en enkele produkte verkoop. Daar was ook ’n wyntuin, met ’n klavier waar tot in die vroeë oggendure musiek en pret gemaak is. Victoriastraat is gesluit vanaf Van Ryneveld- tot by Andringastraat.

Dit word afgewissel met ’n verskeidenheid musiek, stukkies drama en ander vermaak na elke drie voorlesings. Die eerste afdeling, vanaf 19:00 tot 24:00, heet Sprokkelster, op grond van ’n bundel deur Marlene van Niekerk, wat kort tevore as nuwe kollega aangesluit het by die Departement Afrikaans en Nederlands.

Dan moet almal uit die teater beweeg na die buiteverhoog, waar Soli Philander hulle vermaak. Dit gee sommer ook geleentheid vir die vroegslapers om stilweg te verdwyn en vir die talle stalletjies om vir oulaas iets te verkoop en op te pak.

Vanaf 01:00 tot 05:00 is daar eers ’n Bekgeveg (komiese digkompetisie) met Louis Esterhuizen, Marlise Joubert, Ronnie Belcher en Henning Pieterse. Dan weer interessante voorlesings deur bekendes soos Etienne van Heerden (02:15) en Joan Hambidge (03:20) wat avontuurlik genoeg was om in te stem. Dit is ook die tyd vir ietwat meer gewaagde stukkies drama om die deurnagters regop op hul stoele te help sit. Hierdie deel heet Latenstyd, vernoem na ’n bundel van Hennie Aucamp.

Vanaf 05:00, met Karel Boplaas (bynaam Hoender, omdat hy so vroeg opstaan) se gedigte, begin die mense wonderbaarlik weer instroom, totdat daar weer ’n mooi groep vroegopstaners is vir die res van die voorlesings en vir John Kannemeyer se kort slotpraatjie oor DJ Opperman se bundel Sonklong, ook die naam van hierdie afdeling. Opperman, mentor van heelwat van ons, was lank professor in die Departement Afrikaans en Nederlands.

Dorothea van Zyl en EKM Dido by een van die eerste Woordfeeste. Foto: Naomi Kranholdt, LitNet

Ons was gelukkig genoeg om op kort kennisgewing groot name te kon betrek, soos: André P Brink, Abraham H de Vries, Lina Spies, EKM Dido, Wilma Stockenström, Petra Müller, Elias Nel, Ingrid de Kock, Henning Pieterse, Ronnie Belcher, Philip de Vos, Marlene van Niekerk, Daniel Hugo, Marlise Joubert, Louis Esterhuizen, Johan de Lange, Etienne van Heerden, Joan Hambidge, Marzanne le Roux-van der Boon, en talle ander. Daar is selfs ’n bekende Nederlandse digter en ’n skrywer wat toevallig in Suid-Afrika was, naamlik Gerrit Komrij en skrywer Henk van Woerden.

Die voorsitters het name ingesluit soos Waldimar Pelser, Iris Bester, Eben Cruywagen en Anastasia de Vries, asook voorlesers soos EKM Dido, Abraham de Vries en Wium van Zyl.

Ons het ongeveer 300 mense verwag (die hoofteater kan 420 akkommodeer saam met die galery), maar daar was uiteindelik altesaam sowat 1 000 mense. Die kaartjiepryse was spotgoedkoop – R30 per kaartjie – want ons wou dit vir almal moontlik maak om te kom. Nogtans het ons die eerste jaar nog ’n mooi bedraggie van meer as R20 000 oorgehou.

In later jare het ons altyd goedig geskerts: Hoe weet ’n mens iemand was by die eerste Woordfees? Want hulle vertel dit vir jou! Dit is veral die groepie deurnagters, wat so tussen 03:00 en 04:00 afgeneem het tot ongeveer 37, wat graag vertel dat hulle die eerste ware Woordfeesters was!

Die Saterdagoggend om 7-uur, toe Louise Viljoen aan my ’n bos blomme oorhandig as eerste direkteur van die Woordfees, kry ek ’n onbeskryflike gevoel van euforie, omdat dit so goed gewerk het net soos ons dit beplan het – presies volgens die horlosie.

En ek weet: ek is ’n Woordfeesverslaafde! Ek sou inderdaad vir die volgende 15 jaar Woordfees eet, drink en slaap.

En hierdie eerste fees sou die eerste hoofstuk word van die wonderlike Woordfeesverhaal, gekenmerk deur duisende lojale Woordfeesgangers wat steeds jaarliks na die Woordfees stroom.

Adam Small en Dorothea van Zyl by Woordfees 2014
Foto: Izak de Vries

Dorothea van Zyl
Woordfeesdirekteur 2000 tot 2014

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Briljant. Die passie van Dorothea het tot die verwekking van die pragtige kind gelei, en sy het hom/haar mooi grootgemaak!

  • Heerlik om te lees! Neem my ver terug in tyd. Sou baie graag weer met Prof. Van Zyl wou gesels. 'n Stem uit die ver verlede - Patricia Smith (Afr Ndl in die mid-90's).

  • Johan Esterhuizen

    Ja, die eerste Woordfees: waar 'Passie' met passie vereenselwig is. Stunning aand en onder die talle herinneringe sal ek nooit die vroegoggend-optrede van Brasse vannie Kaap vergeet nie! Dankie, Dorethea, jy't die potjie skitterend aan die roer gesit.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top