Toyota US Woordfees 2021 | Toyota Top-10: David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway

  • 1
...
Woordfees op TV. DStv-kanaal 150
...

’n Ongewone, gewone outjie het in die 80’s op die Afrikaanse musieklandskap verskyn met ’n goedkoop kitaar, middelpaadjie en veldskoene. David Kramer het op die oogaf ingepas in die wit, Afrikaner landskap van die tyd: Hy het oor rugbyhelde gesing, hy het fietsgery en met ’n kombi vakansie gaan hou. Dis met hierdie beeld van die ou wat jou buurman kon wees, wat hy mense, en ook meestal die sensuurraad, geflous het. Hy was nie net die posterboy vir Volkswagen nie, maar ook vir die gewone mens op straat. Hy was die stem van álmal. Veral die mense wat in daardie politieke landskap nie ’n stem gehad het of gehoor kon word nie.

...
Daar was, en is, niks gewoons aan David Kramer nie. Hy skryf oor gewone Suid-Afrikaners en sing in die spreektaal.
...

Daar was, en is, niks gewoons aan David Kramer nie. Hy skryf oor gewone Suid-Afrikaners en sing in die spreektaal. Hy het dit gewáág om Afrikaans en Engels in een liedjie, in een sin, te meng. Ongehoord vir daardie dae. Standaard Afrikaans? Watwou. “Hie’ si’ die manne!” “Kyk hier’ie hanne van my.” ’n Rugbylied oor ’n rugbyheld in Ingels? Hy het die norm uitgedaag en ongemaklike vrae gevra oor die politiek van die dag. Hy het oor onse mense geskryf wat in daardie stadium in Suid-Afrika heeltemal geïgnoreer is. Hy het oor onderwerpe gesing wat taboe was.

Hoe het hy (meestal) daarmee weggekom? Hy het jou laat dans en laat lag. En dan, net soos jy lekker saamneurie, flous hy jou met ’n opgeruimde liedjie: Die wysie wil jou laat dans, maar die woorde wil jou laat huil. Dis snydend en praat oor die onreg van ons land en haar mense wat seerkry, kritiseer die politici en beklemtoon die humanitêre tragedie wat hom elke dag voor ons afspeel. Hy beeld sy medemens met deernis en empatie uit.

...
Hy het jou laat dans en laat lag. En dan, net soos jy lekker saamneurie, flous hy jou met ’n opgeruimde liedjie: Die wysie wil jou laat dans, maar die woorde wil jou laat huil.
...

In die produksie Toyota Top-10: David Kramer-huldeblyk: Boland tot Broadway vier ons Kramer se 70ste verjaardag en meer as vier dekades in die Suid-Afrikaanse én internasionale musiekwêreld.

’n Groep uiters talentvolle kunstenaars is bymekaar gebring en onder die musikale regie van Schalk Joubert bring hulle hulde aan sy werk. Kramer se vriende, kollegas, studente, samesweerders en medewerkers is in die produksie byeengebring om hul mentor te huldig, stem te gee aan sy werk en die glas te lig op meer as vier dekades se werk. Dis nie net ’n viering van Kramer se musikale werk nie, dis ook ’n viering van sy rol as mentor in soveel musikante se lewens. Ek het al menige stories gehoor van hoe mense  hul voet in die deur gekry het omdat Kramer hulle ’n geleentheid gegee het. Hy sien die mens, die talent en dan gee hy jou vlerke. Hy sal help vere vasplak, as dit moet, hy sal vir jou die tak gee, en dan moet jy vlieg.

...
Die kunstenaars in die produksie is met die hand uitgesoek. Soos die broers, Loukmaan en Emo Adams: Hulle het letterlik voor Kramer grootgeword.
...

Die kunstenaars in die produksie is met die hand uitgesoek. Soos die broers, Loukmaan en Emo Adams: Hulle het letterlik voor Kramer grootgeword. Loukmaan was maar nege jaar oud toe hy voor Kramer en Taliep Peterson verskyn het in ’n oudisie vir District Six. Emo het later in sy broer se voetspore gevolg. Dis dan ook onder Loukmaan se spelleiding en Schalk Joubert se musiekregie en samestelling wat die produksie regtig ’n viering word van Kramer se bydrae tot die Suid-Afrikaanse musiekbedryf. Dis die sukses van die mense wat op die verhoog is, wat ook spreek van die tipe mens wat Kramer is en sy aandeel in baie van hulle se loopbane.

Natuurlik kan ’n mens nie Kramer eer sonder om sy en Taliep Peterson se vennootskap te huldig nie. Liedere uit produksies soos District Six, Cat & the Kings, Ghoema! word met energie en oorgawe uitgevoer. Die ensemble klink asof hulle al vir jare saam optree. (Baie van die kunstenaars hét al in talle van Kramer se produksies saam verskyn.) Die verwerkings is afgerond en energiek en vang die gees van sy werk vas selfs buite die konteks van die musiekblyspele waaruit dit kom. 

Dis regtig moeilik om een persoon in die groot ensemble uit te sonder vir hul uitsonderlike vertolkings, maar ek moet melding maak van Adelia Douw se kaalvoet vertolking van “Botteltjie Blou”. Dis hartverskeurend en wys hoe Kramer na die gewone mense op straat kan kyk en met ’n hawelose spiritsverslaafde empatie kan hê. Sy lirieke bring menswaardigheid aan almal.

In “Calvinia” vertel Kramer die verhaal van ons “ander” ma’s wat as surrogaatmoeders instaan vir gegoede families. Die misleidende melodie staan in kontras met die inhoud van die lied. Edith Plaatjies se vertolking het my vir dae lank laat ween oor die weggooima’s. Terry Fortune se weergawe van “Dancing on my own” bly my steeds by. Pietman Geldenhuys se vertolking van “Hanne” is rou. Die verwerking, harmonisering en sensitiwiteit waarmee dit uitgevoer is, uitmuntend. En natuurlik - geen huldiging is volkome sonder Oom Hannes Coetzee en sy unieke lepelspel nie.

Onderliggend aan al die verwerkings is die voortreflike saksofoonspel van Donveno Prins en die trompet van Muneeb Hermans. Hulle spel trek aan jou derms tot jou hoendervel seerraak. Die talent vloei mildelik op dié verhoog. Ander groot name op die verhoog is Anton Goosen, Nick Turner, Rushney Ferguson, Robin Auld, Kevin Gibson (dromme), Blake Hellaby (klavier), Albert Frost (elektriese guitar), Gammie Lakay (electric guitar),  Brett Marvin Edwards (tromboon), Ramon Alexander (klavier).

Een van die hoogtepunte van die produksie is Kramer wat self ’n draai op die verhoog maak en die storie van “Duiwel de Wet” vertel. Mens besef net weereens wat ’n ongelooflike storieverteller en vertolker Kramer is. Jy hang aan sy lippe, jy glo wat hy vir jou sê. Hy laat eksentrieke karakters lewe kry. Sy beskrywings is helder en duidelik.

Die beligting, stel en kinematografie van die produksie is sag en sensitief en komplementeer die inhoud. Elke lied kry konteks deur ’n teks wat op die skerm verskyn waarin Kramer die lied en agtergrond verduidelik. Die regie is behartig deur Geoffrey Butler. Saam met sy A-span vervaardigers, kinematograwe, kunsredakteurs is dit ’n produksie wat Kramer met smaak, respek en kreatiewe uitmuntendheid huldig en die glas lig op een van ons grootste kunstenaars in die bedryf.

Emo het eenkeer in ’n onderhoud gesê: “As ek ooit ’n tribute vir hom (Kramer) moet doen, dan wil ek dit góéd doen.”

Jy het. Julle het. Julle mentor bars seker van trots.

  • Fotografie: Pierre Rommelaere
  • 1

Kommentaar

  • Sakkie+Spangenberg

    Dit was voorwaar ’n mooi huldiging en, Marchelle, jou beskrywing daarvan ewe aangrypend. Ek wil sê: "Solank David Kramer sing, bly ons lief vir hierdie land en koester ons hoop."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top