US-taalbeleid: Kommentaar op die US se konsep-taalbeleidvoorstel deur Christo Viljoen

  • 6

Die ondergetekende was lid van ’n driepersoonkomitee wat namens die Gelyke Kanse-inisiatief omvattend kommentaar lewer op die konsep-taalbeleid van die US, en steun dit volmondig. Ek vind dit nogtans nodig om, in eie persoon, die volgende persoonlike kommentaar addisioneel voor te lê:

1. OORHOOFSE KOMMENTAAR

Die konsep-taalbeleid gaan mank op veral twee hoofterreine, nl:

  1. prosesmatig: die onregmatige en onaanvaarbare proses wat gevolg word vir die aanvaarding van die konsep-taalbeleid deur die US Raad;
  2. inhoudelik: die konsep-taalbeleid skend die taalklousules van die Grondwet (gelyke status, en onderrig in keusetaal), is vaag en sonder duidelike riglyne en waarborge, is vatbaar vir willekeurige interpretasie, wentel interpretasie en besluitnemingsbevoegdheid af na fakulteitsvlak, en is ’n eenrigtingstraat vir volledige verengelsing. Die gevaar lê nie wat in die konsep-taalbeleid staan nie; die gevaar lê wat nié in die konsep-taalbeleid staan nie.

2. PROSES IS ONREGMATIG

2.1 Die US-taalbeleid is ’n raadsbeleid waarvoor die US-raad statutêr verantwoordelik is, en gevolglik deur die US-raad bepaal en neergelê word; die rektor en alle US-personeel (en bepaald die rektor en RBS-lede, wat deur die US-raad aangestel word) is werknemers van die US-raad en het die plig om elke raadsbeleid toe te pas en uit te voer. Laasgenoemde maak nie beleid nie, hulle voer dit uit. Die ontwikkeling van enige raadbeleid is ’n bo-na-onder-proses, en nie (soos tans) onder na bo nie, en behoort (in die geval van die taalbeleid) deur ’n Raadstaalkomitee (onder voorsitterskap van ’n onpartydige persoon, en met insluiting van onder andere taalsosioloë en wye verteenwoordiging van belanghebbende instansies) ontwikkel te word. Wye oorlegpleging met belanghebbendes moet a priori deel wees van die ontwikkelingsproses. Die konsep-taalbeleid is egter deur ’n anonieme "werkgroep" wat deur die rektor aangewys is, opgestel. Die rektor en RBS (en bepaald die viserektor Leer en Onderrig, onder wie se toesig die toepassing van die taalbeleid ressorteer) het gevestigde belange by die taalbeleid en dit is ondenkbaar dat hulle hul eie beleid kan opstel en aan die US-raad voorlê vir goedkeuring en aanvaarding as raadsbeleid. Na my wete is geen formele besluit deur die US-raad geneem dat die US-taalbeleid tans hersien moet word nie, en kom dit voor asof die hersiening op eie inisiatief van die rektor onderneem word. Hierdeur het die US-raad sy plig versaak en die inisiatief stilswyend aan die RBS oorgelaat. Dit stel die US ongetwyfeld bloot aan verdere hofinterdikte, onder andere vir oortreding van die US-statuut.

2.2 Slegs oppervlakkige en selektiewe oorlegpleging met belangegroepe is gedoen, en volgens berigte slegs met die Studenteraad en Open Stellenbosch-beweging. Die rektor het self erken dat "konsensus bereik" is met Open Stellenbosch oor die voorgestelde taalbeleid, terwyl dit ’n organisasie is met minuskule ondersteuning, geen geïdentifiseerde bestuur nie, en wat nie by die SR geaffilieer is as studente-organisasie nie. Daarteenoor word die skikking van 12 Maart 2016 met AfriForum Jeug, nav laasgenoemde se aansoek om ’n hofinterdik, verbreek deurdat geen vooraf oorlegpleging met AfriForum Jeug gedoen is tydens die ontwikkeling van die konsep-taalbeleid nie. Dit het ’n verdere aansoek vir ’n hofinterdik deur AfriForum Jeug gepresipiteer, wat op 19 Mei verhoor word.

3. ONREGMATIGE INHOUD VAN DIE KONSEP-TAALBELEID

3.1 SKENDING VAN TAALKLOUSULES IN DIE GRONDWET

Die konsep-taalbeleid skend die grondwetlik verskanste taalregte op twee wyses, ten spyte daarvan dat dit hoog opgee oor die grondwetlike taalregte, onder andere deur die aanspraak in para 1, “Inleiding”, van die konsep-taalbeleid, wat soos volg lui:

Die Grondwet1 bepaal dat elkeen die reg het om in openbare onderwysinstellings onderwys te ontvang in die amptelike taal of tale van eie keuse, waar dit redeliker-wys doenlik is.”

Voetnota 1 van die konsep-taalbeleid lui soos volg:

“1 Die Taalbeleid hou rekening met die Grondwet en alle ander relevante wetgewing en verslae.”

In para 6, “Beleidsbeginsels”, van die konsep-taalbeleid word die Grondwetlike taalregte andermaal beklemtoon:

“(a) Die Universiteit erken en respekteer die kernwaardes wat in die Suid-Afrikaanse Grondwet vervat is; veral die waardes wat met onderwys verband hou.”

Ten spyte hiervan skend die konsep-taalbeleid die grondwetlike taalregte op die volgende twee wyses:

3.1.1 Die gelyke grondwetlike status van die elf amptelike tale word geskend deurdat Engels die voorkeurtaal aan die US word ingevolge die konsep-taalbeleid. Die gelyke status wat Afrikaans en Engels tot dusver in die US-Taalbeleid geniet het, word implisiet in die konsep-taalbeleid teruggetrek en verval dus.

3.1.2 Die konsep-taalbeleid ontneem studente die geleentheid om te studeer in die taal van hul keuse, soos deur die Grondwet voorsien, alhoewel dit vir bykans ‘n eeu doenlik en haalbaar was om in (aanvanklik) Nederlands en later Afrikaans aan die US te studeer. Die keuse wat US-studente tot dusver gehad het in hierdie opsig, word implisiet in die konsep-taalbeleid teruggetrek en verval dus.

Hierdie skending van die Grondwet stel die US bloot aan ’n klagte by die Grondwethof.

3.2 EENSYDIGE BEVOORDELING EN WAARBORG VAN ENGELS IN KONSEP-TAALBELEID

Voortspruitend uit die feit dat die gelyke status van die twee tale verval, word Engels as onderrig- en kommunikasietaal op twee wyses in die konsep-taalbeleid gewaarborg en verskans, terwyl geen ooreenkomstige waarborge vir Afrikaans voorsien word nie:

3.2.1 Para 7.1. (b)(ii) van die konsep-taalbeleid lui soos volg:

“(ii) In alle ander klasgroepe wat nie opgedeel is nie, word dubbelmediumonderrig (D) gebruik, waar alle inligting in Engels oorgedra word.”

Dieselfde klousule gaan voort deur die aanbied van Afrikaanse lesings voorwaardelik te maak, onderhewig aan arbitrêre oorwegings en voorwaardes:

“(ii) … Bykomende steun word in Afrikaans en/of Engels in die lesing en/of tydens die aanvullende, gefasiliteerde leergeleenthede voorsien om by te dra tot studente se begrip van die akademiese materiaal. Dit sal afhanklik wees van die vermoëns van die dosente en onderrigassistente. Intydse tolkdienste van sowel Engels na Afrikaans as Afrikaans na Engels kan aan studente gebied word – veral in die aanvanklike studiejare.”

Om te beweer dat hierdie voorwaardes aan albei tale gekoppel is, is oëverblindery en strydig met die waarborg dat alle inligting in Engels oorgedra word. Waarom tolking van Afrikaans na Engels aanbied as alle inligting in elk geval in Engels oorgedra word? Die konsep-taalbeleid wemel van sulke teenstrydighede, anomalieë en inkonsekwenthede.

Para 7(1)(c)(i) van dieselfde klousule in die konsep-taalbeleid is eweneens voorwaardelik en bied geen waarborg aan Afrikaans nie:

“(i) Een-tot-een-interaksie in tutoriale en mentorsessies kan in die student se voorkeurtaal geskied: Afrikaans, Engels en isiXhosa, waar die fakulteit se personeel die taalkundige vaardighede het om dit te kan doen.”

3.2.2 Para 7(1)(c)(iii) is insgelyks eensydig, met waarborge slegs tov Engels:

“(iii) Die verpligte leesstof (indien beskikbaar; gepubliseerde materiaal uitgesluit) is beskikbaar in Engels en, indien redelik uitvoerbaar,3 in Afrikaans.”

Voetnota 3 lui eensydig en voorwaardelike soos volg:

“(3) 3 Met inagname van, wanneer die materiaal a priori nie in Afrikaans beskikbaar is nie, die beskikbaarheid van en die hoeveelheid personeeltyd om Afrikaanse weergawes voor te berei, in verhouding tot die aantal studente wat sou baat vind by die Afrikaanse weergawes en die omvang van die voordeel wat hulle daaruit sou kry.”

Enige waarborge vir studente wat in Afrikaans onderrig verkies, in teenstelling met die waarborge vir studente wat in Engels onderrig verkies, skitter deur hul afwesigheid. Voornemende Engelstalige US studente (of andertaliges wat verkies om in Engels onderrig te word) weet vooraf wat onderrig in Engels betref en wat hulle kan verwag wanneer hulle inskryf as student; voornemende Afrikaanse US-studente weet glad nie wat om te verwag wanneer hulle aan die US inskryf met die verwagting om in Afrikaans onderrig te word nie.

3.3 Die konsep-taalbeleid ignoreer taaldemografiese realiteite en statistieke, en probeer om die dominante posisionering van Engels as voorkeurtaal te regverdig met onbewese stellings wat verwys na "internasionale taal", taal wat “almal verstaan”, “belangrikste onderrigtaal op skoolvlak”, ens, sonder enige bewys daarvan met amptelike statistieke en opnames. Afrikaans is die dominante huistaal in die westelike helfte van demografiese Suid-Afrika; dit is ondenkbaar dat vier eksklusief Engels-eentalige universiteite in dié streek uiteindelik sal kan bestaan sonder dat by selfs een universiteit Afrikaans op gelyke voet met Engels verkeer. (LW: daar word nie gevra vir ’n eksklusief Afrikaanse universiteit nie.) Die belangrikste voedingsgebied van studente vir die US is die Wes-Kaap, waar 49,6% van die bevolking Afrikaanssprekend, en slegs 20,3% Engelssprekend is (2012-sensus). Afrikaans is, naas Zulu en Xhosa, die derde grootste huistaal in Suid-Afrika (2012-sensus).

3.4 Die konsep-taalplan bevat geen gepaardgaande Taalbeleid wat ’n inherente deel is van die bestaande Taalbeleid en Taalplan van die US nie, en waarin duidelik uitgespel word hoe die toepassing van onderrigtale in die praktyk aan die US moet geskied nie. Dit laat die deur wyd oop vir willekeurige interpretasie van die vae beleidsbepalings en ontsnappingsklousules.

3.5 Wat parallelmediumonderrig betref, is die toepassing daarvan vaag en voorwaardelik in soverre dit Afrikaans aangaan, met geen vaste verdeelpunte op grond van klasgrootte nie. Toepassing van die P-opsie is onderhewig aan "waar dit redelik is (met betrekking tot inskrywing, hulpbronne en personeel) en waar dit pedagogies verantwoordbaar is …", wat op willekeurige wyse en met die geringste verskoning omseil kan word. Dit word voorgestel dat wanneer die inskrywingsgetal per module 100 oorskry, die groep in twee taalstrome verdeel word. Die konsepbeleid gaan dan voort om taal te gebruik vir maatskaplike manipulering ("social engineering") deur verpligte "geleenthede vir studente uit die twee taalgroepe te verskaf om te ontmoet en oor tale heen in akademiese situasies te kommunikeer". Taal word wêreldwyd nie misbruik om die maatskaplike orde te reguleer nie.

3.6 Die US-raad en RBS se gesag om te verseker dat die US-raad se taalbeleid toegepas word, word gedelegeer na dekane en fakulteitsraadsvlak, wat met die geringste verskoning tov die beskikbaarheid van hulpbronne, dosente, ens volmag het om slegs Engels as onderrigtaal te gebruik. Daarvoor hoef fakulteitsrade slegs hul taalimplementeringsplanne aan die Senaat te rapporteer, sonder enige remedie vir afwykings of, soos tans gebeur, wantoepassing. (Vergelyk die onwettige fakulteitsraadsbesluite van die Fakulteite Ingenieurswese en Regsgeleerdheid vroeër vanjaar, wat ooglopend deur en met volle bewustheid van die rektor en RBS toegelaat is).

3.7 Die dubbelmediumopsie is ’n wanbenaming en rookskerm wat voorgee dat Afrikaans tog ’n beduidende teenwoordigheid in D-opsie-modules het, aangesien “alle inligting in Engels oorgedra” word; ondersteuning vir Afrikaanssprekende studente is onder andere afhanklik van dosente, ens vir opsionele tolkdienste.

3.8 Die konsep-taalbeleid bevat allerlei tendensieuse bepalings ten gunste van Engels: een-tot-een-interaksie in tutoriale kan in die voorkeurtaal van die student geskied. Verpligte leesstof word verpligtend in Engels voorsien, en “indien redelik” ook in Afrikaans. Nagraadse kursusse kan in Afrikaans of Engels geskied, met dien verstande dat alle studente die taal verstaan. Die vraag is: Wat gebeur wanneer een student in ’n nagraadse klas nie Afrikaans verstaan nie, maar een ander student in dieselfde klas nie akademiese Engels verstaan nie? Mondelinge navrae word hanteer, waar haalbaar, in die taal van die versoek.

3.9 Geen gewaarborgde voorgraadse Afrikaanse aanbod bestaan skynbaar meer nie. Vanjaar (2016) moet die geweegde voorgraadse Afrikaanse en Engelse aanbod volgens ’n raadsbesluit ten minste 65% bedra, welke teiken teen 2020 moet toeneem tot 85%. Is dit steeds die voorskrif, en indien nie, wanneer het die US-raad dit afgeskaf, en wat is die minimum Afrikaanse voorgraadse aanbod voortaan?  

Die oorwoë indruk is dat die konsep-taalbeleid tot gevolg sal hê dat Afrikaans so vroeg as aanstaande jaar as onderrigtaal aan die US kan verdwyn, dat die US-raad sy plig en verantwoordelikheid versaak het en geabdikeer het wat die bepaling van die taalbeleid betref, en dat Engels as onderrig- en kommunikasietaal vir alle praktiese doeleindes geïnstitusionaliseer word. Gebeur dit, het die US sy ontstaansdoel versaak vir ideologiese, politieke en markaanvraag-oorwegings.

HC VILJOEN

Klik hier vir al die bydraes oor die US-taalbeleid.

  • 6

Kommentaar

  • Avatar
    Cilliers van Niekerk

    Gaaf, geldig en goed verwoord van voor tot agter, maar "persipieer"?

    U bedoel tog seker nie "perceive" of "apperceive" soos my ou Groot Woordeboek dit aangee nie? "Presipiteer" vir "precipitate", wat eintlik nader aan "verhaas" staan sou wel in die gebruiksverband bo werk, maar stellig nie beter as doodgewone Dietse "ontlok" nie.

    Met alle goedgesindheid en volle ondersteuning vir die saak gesê: Sorgvuldige redigering sou die moeite dubbel en dwars loon (ek het in ander dokumentasie van Gelyke Kanse soortgelyke hinderlikhede aangetref), en ongemaklike ironieë vermy. Dis ernstige sake, en dit gaan tog oor die Taal, né?

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Die outeur is iemand wat die binnewerking van die US verstaan, die dokument deeglik nagegaan en 'n goedberedeneerde kommentaar geskryf het. Hierna is die jongste taalinisiatief van die US-bestuur hopelik dood en begrawe. 'n Bonus kan wees dat die situasie vir die bestuurslede onhoudbaar word.

  • Hieronder volg 'n onlangse flagrante voorbeeld in die US se praktyk van wat Prof Viljoen hierbo verwys na as "Die konsep-taalbeleid ... is ’n eenrigtingstraat vir volledige verengelsing." En let wel, hierdie voorbeeld is streng gesproke nog voor die konsep-taalbeleid se implementering! Verwag veel meer na die implementering.
    Die voorbeeld is vervat in die volgende uittreksel van my terugvoer op die uitnodiging van die US om kommentaar te lewer op die konsep-taalbeleid by http://www.sun.ac.za/afrikaans/meer-oor/language .(Enige ander algemene terugvoer?):
    “Ek maak beswaar dat u Afrikaanse vorm vir terugvoer en voorstelle "Your answer" ipv "U antwoord" by elk van die items het. Ek maak ook beswaar daarteen dat u e-pos van 22 April begin met Engels gevolg deur Afrikaans. Dit hoort nie by 'n histories Afrikaanse universiteit nie. Die volgorde van tale in by verre die meeste van die universiteit se amptelike kommunikasies behoort, om dieselfde rede, te wees Afrikaans gevolg deur watter ander tale ook al.”
    Mens sou dink dat die US 'n mate van sensitiwiteit aan die dag sou lê ten minste waar hulle oa Afrikaanssprekendes nader om kommentaar te lewer oor die US se voorgestelde verengelsing van een van die laaste universiteite in Suid-Afrika waar Afrikaans nog probeer uithou vir net gelyke status met Engels en waar die skending van Suid-Afrika se grondwet ter sprake is. Maar nee, die naarstigtelikheid vir implementering van verengelsing is aanvoelbaar.

  • Baie dankbaar vir Mnr Viljoen en andere se moeite met hierdie saak. Met kinders wat eendag graag in Afrikaans verder wil studeer, waardeer ons die energie en visie van Gelyke Kanse.

  • Avatar
    Johannes Comestor

    Taalgetroue Afrikaanssprekendes is seker dankbaar vir die positiewe insette wat gelewer is. Wat opval, is dat Het Jan Marais Nationale Fonds nog nie van hom laat hoor het nie, terwyl dit 'n saak is wat hom wesenlik raak.
    Die Departement Afrikaans aan die US het kort voor die sperdatum 'n verklaring uitgereik. Dit is in Die Burger (23 deser, p 10) gepubliseer. Ek was onder die indruk dat ek dit eerste op LitNet gelees het, maar kan dit nie nou opspoor nie. Wat my hinder, is dat geen personeellid se naam genoem word nie. Maar ek verwelkom die verklaring omdat ek weet dat dit waarskynlik nie sonder interne teenstand gepubliseer is nie. Maar die pleidooi gaan nie net om Afrikaans nie. Op die spreekwoordelike "bakkie" is nie net Xhosa nie, maar sommer al die amptelike tale en ook veeltaligheid. Die gelyke erkenning van Afrikaans en Engels word bepleit, maar die pleidooi word myns insiens verwater omdat nie uitsluitlik of sterk op Afrikaans gefokus word nie. Omdat die Departement Afrikaans ook breër funksies vervul, was dit 'n gulde geleentheid om die anomalie uit te wys dat die US in twee tale onderrig aanbied en dat daar daarom met reg van sowel studente as dosente verwag kan word om albei baas te raak; anders is die US nie werklik op 'n voorbeeldige manier tweetalig nie, om van veeltalig nie te praat nie. Die aanleer van tale is 'n algemeen erkende akademiese verpligting wat ook aan die US aan studente en dosente opgelê behoort te word; pleks daarvan word daar gekerm oor die opdringing van Afrikaans en net Afrikaans.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top