US reageer op Breyten Breytenbach se ope brief: Hersiening van die US-Taalbeleid

  • 5

Die ope brief van mnr Breyten Breytenbach aan prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), wat op 11 April 2016 deur LitNet gepubliseer is, asook die berig in Die Burger (Breyten lei nou drukgroep oor taal) van 14 April 2016 het betrekking.

Die US is midde-in ’n proses om sy huidige taalbeleid te hersien. Die proses het in Februarie vanjaar begin en die eerste konsep van ’n voorgestelde nuwe beleid is op 22 Maart vir kommentaar uitgereik. Hierdie konsepbeleid is deur die Taalhersieningswerkgroep saamgestel en is beskikbaar by http://www.sun.ac.za/taal.

Studente, personeellede en alumni is per e-pos genooi om algemene én/of spesifieke kommentaar te lewer. Dit staan enige individu of organisasie vry om ook insette in te stuur. Voorstelle hoef nie tot die konsep-beleid beperk te word nie. Alle voorstelle sal oorweeg word. Die sluitingsdatum vir insette is 22 April.

Ná hierdie rondte beraadslaging word ’n tweede konsep-beleid saamgestel wat by die fakulteitsrade voorgelê sal word.  Op grond van die insette en voorstelle wat hieruit voortspruit, sal ’n basisdokument by die Institusionele Forum en die Senaat ter tafel gelê word voordat ’n finale konsep op 22 Junie vir goedkeuring by die Universiteitsraad sal dien. Die Universiteit se Statuut bepaal dat die Raad met instemming van die Senaat die taalbeleid van die instelling bepaal.

Om hierdie prosesse hulle hul gang te laat gaan en nie enige uitkomste vooruit te loop nie, verkies die Universiteit om nie in hierdie stadium in ’n openbare debat betrokke te raak nie.

Mnr Breytenbach se skrywe sal deurgegee word aan die Taalhersieningswerkroep tesame met alle ander voorstelle wat ontvang word. Enigeen wat insette wil lewer kan ’n aanlynvorm op die webblad by www.sun.ac.za/taal voltooi, of kommentaar stuur na taal@sun.ac.za.

Susan van der Merwe
Afdeling Korporatiewe Kommunikasie
Universiteit Stellenbosch

  • 5

Kommentaar

  • Daars geen twyfel dat Prof de Villiers en sy handperde net 1 doelwit het, en dit is engels aa primêre onderrig taal ten alke koste. Die uitkoms was reeds op besluit en nou moet die proses gemanipuleer word om by hierdie uitkoms te kom.

  • Johannes Comestor

    Ampshalwe poog Susan van der Merwe om die taalhersieningsproses billik te laat klink. Die punt is egter dat Afrikaanslojaliste oorvloedig rede het om diegene te wantrou wat hierdie proses dryf en redes soek en vind om die taalbeleid te hersien. Die rektor, Wim de Villiers, het immers by verskeie geleenthede die wens uitgespreek dat Engels opgradeer en Afrikaans afgeskaal moet word. De Villiers en bv die etikus Anton van Niekerk verwerdig hulle egter nie om die etiese dimensies van hulle uitlatings en dade te regverdig nie. Jan Marais se stigtingskenking het die uitdruklike voorwaarde dat Afrikaans nie 'n mindere plek as Engels aan die US mag beklee nie. Daar word blykbaar geredeneer dat Marais 'n dooie wit man is en daarby 'n Afrikaner was en dat sy wense maar goedmoeds geignoreer kan word.

    • Sambok Viljoen

      Johannes, die Jannie Marais Trustakte bepaal die voordele wat toegeken word, al is hyself al lankal oorlede.
      Ek sou graag wil weet wat die administrateurs van die Trust nou gaan doen as Afrikaans afgeskaal word.

      • Johannes Comestor

        Daar is twee fondse. Het Jan Marais Fonds (HJMF) en Het Jan Marais Nationale Fonds (HJMNF). Eersgenoemde word op 'n ondeursigtige manier deur die US bestuur. Die vorige HJMNF-voorsitter, Andreas van Wyk, het verlede jaar bely dat hy nie eens weet wie die voorsitter van die HJMF is nie. Ek het verlede jaar in 'n artikel aanbeveel dat die HJMF uit die kloue van die US bevry en by die HJMNF geinkorporeer moet word. Ook dat aan die US geen Jan Marais-geld bewillig moet word as Afrikaans 'n mindere plek as Engels aan die US beklee nie; dus as Marais se stigtingsvoorwaarde nie nagekom word nie. Ek het verlede jaar en vanjaar by vier geleenthede aan die HJMNF geskryf maar nog geen reaksie hoegenaamd ontlok nie. Ek weet dat my e-posse wel daar uitgekom het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top