Unruly: ’n teaterresensie

  • 0

Foto-erkenning: Retha Ferguson

Empatheatre, in samewerking met die Baxter, die Stockholm Resilience Centre en die Unruly Natures-navorsingsprojek, keer terug na die Baxter Studioteater met ’n vollengte seisoen van Unruly – op publieke aanvraag. Ek het gereis en sien dus die vertoning se vyfde laaste opvoering, spyt dat ek nie meer mense daarheen kan verwys nie.

Die gerekende teatermaker Neil Coppen is in die regisseurstoel en deur die oë van die karakter Rob Campbell word die uitgebreide, akademiese en kreatiewe navorsing van hoe die mens en stedelike bobbejane nie kan saamleef nie deur ’n storievertelling in die fiktiewe dorp Skemerbaai tot die lewe geroep. In die dorp is dit mens en dier én mens en mens wat as’t ware koppe stamp wanneer spanning hoog loop ná die geheimsinnige verdwyning van ’n bobbejaantrop se matriarg.

Unruly nooi gehore uit om betrokke te raak by die kompleksiteite van mens-dier-verhoudings, die Kaapse Skiereiland se gedeelde ekologie en die onvoorspelbare kragte van die natuur. Die stuk ondersoek hoe ons die kwessie vanuit verskeie perspektiewe kan verstaan – en skilder in die proses ’n ryk prentjie van die Kaapse Skiereiland se komplekse geskiedenis en gedeelde ekologie van berg-, oseaan-, stedelike en militêre omgewings, geneig tot veldbrande, see-opwellings en morsige mens/dier-verhoudings.

Unruly is deel van ’n langer iteratiewe navorsingsprojek wat probeer om baie aspekte en fasette van lewe in tye van krisis te verstaan, van klimaatsverandering, tot menslike en meer-as-menslike verwikkelinge, tot betekenisvolle reaksies op die spookagtige nalatenskappe van apartheid,” lui die program.

Ek lees ook dat Neil sê met hierdie onderwerp nou nog meer relevant en aktueel as voorheen, is dit baie belangrik dat Unruly as ’n ten volle ontwikkelde teaterwerk terugkeer na die Baxter.

“Ons het hierdie stuk ontwerp na aanleiding van navorsing oor inwoners se geleefde ervarings en uitdagings van saamleef met stedelike bobbejane op die Kaapse Skiereiland. Die terugvoer tydens ons besprekings na die vertoning was van onskatbare waarde om die vraag te ondersoek: Hoe moet ons, as mense, optree teenoor ’n natuur wat nie altyd optree soos ons verwag nie? Die debat duur voort om oplossings en begrip aan beide kante te verken,” sê hy.

Dylan McGarry, die medestigter van Empatheatre, sosioloog en kunstenaar, voeg by: “Ek het hierdie projek fassinerend gevind, aangesien dit onthul hoe mite en werklikheid ons interaksies met mekaar en met die natuurlike wêreld vorm. Om die verhoudings tussen mense/bobbejane wat in stedelike omgewings leef, te probeer verstaan het my baie geleer oor hoe ons as mense in dieselfde omgewings sukkel, en ek kan nie anders as om te dink dat hierdie deurmekaar verstrengelings ons leer hoe om op meer speelse en teer maniere na mekaar te luister en aandag te gee nie.”

Ek weet nie wat my oog eerste gevang het nie: die feit dat Neil Coppen die regisseur is; Andrew Buckland die akteur is; of die jazzmusikant Chantal Willie-Petersen op kontrabas op die verhoog gaan wees. Of miskien is dit die bobbejaanmasker wat hy op die plakkaat vashou, wat my fassineer.

Die vertoning het verlede jaar twee uitverkoopte toere oor die Kaapse Skiereiland voltooi en is opgevoer in buurte waar bobbejane deel van die daaglikse lewe is, sowel as by hoërskole, vir bobbejaanbewaarders, munisipale en bewaringsowerhede, NRO’s en burgerlike groepe. Ek was dus nuuskierig.

Hoe dit ook al sy: Unruly stel nie op een van dié drie genoemde fronte teleur nie, maar is ook veel meer as dit. Dis vir drie Fleur De Cap-teatertoekennings genomineer: beste teaterproduksie, beste solospel (Andrew Buckland) en beste klank/musiek (Chantal Willie-Petersen).

Teen die mure buite die teater is verskeie plakkate en inligtingstukke oor bobbejane in die Kaapse Skiereiland opgeplak en mense lees dit ywerig, maar ek besluit om dit tot ná die vertoning te los.

Ons stap in die Studioteater in. Die intieme teater waar tallose vertonings my weggevoer het, lyk heeltemal anders. Daar is geen verhoog nie, net stoele in ’n sirkel gepak en drie kante met teaterstoele, soos by ’n rugbywedstryd wat trapsgewys na agter gaan. Ons gaan klaarblyklik intiem deel wees, maar terselfdertyd ook inkykers bly.

In een stoel sit ’n vrou met ’n kontrabas by haar voete: Chantal sekerlik.

Die teater loop stadig vol; buite is mense nog aan’t lag en gesels oor ’n glas wyn. Hier binne speel die musiek van Nils Frahm oor die luidsprekers. Verskeie mense – ek ook – haal ons fone uit om die musiek deur aanlyn hulp te probeer identifiseer. Ander sit bloot met hul oë toe en gee hulle oor aan die sussende klanke wat ons in die skemerte omvou.

Ek dink aan my besoek aan die !Khwa ttu San-erfenissentrum buite Yzerfontein waar jy ook in sulke sirkels om ’n vuur sit om die stories van die voorvaders te hoor. Hier het ek die eerste maal van ǀKaggen, ’n volksheld van die San van Suider-Afrika, gehoor. Hy is ’n bedrieërgod wat van vorm kan verander, maar meestal in die vorm van ’n bidsprinkaan of ’n elandbul verskyn.

Maar dié sirkelsittery laat jou waarlik met die mense om die vlamme verbind. Jy sien die uitdrukkings op hul gesigte, hul emosies duidelik afgeëts in die dansende vlamme.

Rob vertel toe nie net ook die storie van ǀKaggen nie, maar moedig ons aan om na almal om ons te kyk; fone af te skakel; diep saam asem te haal; en te ontspan. Die sirkelstoele word ons kampvuur, maar ook ’n vergadering waar die primatoloog sy storie deel.

........
Rob vertel toe nie net ook die storie van ǀKaggen nie, maar moedig ons aan om na almal om ons te kyk; fone af te skakel; diep saam asem te haal; en te ontspan. Die sirkelstoele word ons kampvuur, maar ook ’n vergadering waar die primatoloog sy storie deel.
........

Hy speel verskillende rolle – soms sit hy in drie verskillende stoele in die sirkel; soms is die stoel in die middel van die stoele. Hy is so naby, jy kan aan hom vat. Geen beskerming van die gehoor nie.

Ek verstaan weldra die rede vir die diep asemhaal, want die onderwerp is ’n vlambare een: Mense is óf teen bobbejane óf vir hulle. Daar is min draadsitters. Elkeen daar ken iemand of is self die slagoffer van bobbejane se verwoesting in huise en tuine.

Daar is humor in die onderliggende hartseer verhaal, soos wanneer hy verduidelik dat wanneer wit mense uit protes probeer toyi-toyi, “dit eerder soos die can-can” lyk. Sy vertolking van ’n woke jong meisie wat deur haar pa Henk as “anders” beskryf word, laat ook die gehoor giggel. Haar woorde oor hoe ons die aarde opgemors het sny egter diep en dalk verduidelik dit ook die (senuweeagtige) giggels.

Sy beskrywing van buurman Henk, wat almal in Skemerbaai se huise bobbejaan-bestand maak en “oë in die lug het” as sekuriteitman, is aanvanklik snaaks, maar voel later oordrewe – asof daar nie genoeg geloof in die teks is om die boodskap die eerste maal oortuigend oor te dra nie. Asof die teksskrywers weerstand verwag en probeer om soveel moontlik ammunisie gereed te hê, maar uiteindelik bloot voorkom asof hulle dieselfde dooie perd wil slaan.

Hy vertel hoe mense onder die Groepsgebiedewet uit hul huise verwyder is en hoe duur landgoedere ontwikkel is “waar ryk mense in die natuur kom leef, maar nie saam met die natuur nie”. En later: “Verdriet kan jou wegruk van almal af, maar dit kan jou verbind met alles.”

Die storie omvou jou soos die verdriet die primatoloog omvou. Die swaarheid volg hom waar hy gaan, of hy nou spreekbuis word vir bobbejaanregte of probeer om met die bobbejaanleier te kommunikeer.

In een toneel, waar hy by ’n vergadering in die plaaslike saaltjie praat, vervleg die hoofkarakter ’n toneel van twee bobbejaanmannetjies wat baklei vir die posisie van tropleier, met die geskree en baklei van inwoners van Skemerbaai. Die diere se geveg verwoes sy huis en sny hul lywe, en die onaardse geluide wat uit hul liggame ruk, ruk jou tot in jou wese. Maar die onwilligheid om saam te stem en mekaar se standpunte in te sien tussen mense word ’n verlengstuk van die bobbejaangeveg.

Andrew Buckland op sy weerloosste, beste. My tone wil omkrul van teaterlekkerte. En af en toe is daar die klanke van Chantal se kontrabas en ’n hoë weeklaag wat rillings teen my ruggraat afstuur.

Die stuk eindig byna 90 minute later met ’n kort “preek” oor hoe mense meer verdraagsaam moet wees, en hier verloor ek die magie van die vertoning vir ’n wyle.

Ek hou nie daarvan dat teater vir my moet sê wat ek moet voel en dink en ervaar nie; laat my toe om dit self uit te pluis. Ek hou van die tob in die motor huis toe, die oordink en herdink, die ondersoek van my eie reaksies.

En toe ek buite kom, voel die plakkate en inligtingstukke teen die muur asof ek pas in ’n inligtingsessie was om my te oortuig dat ons as mens verkeerd met bobbejane omgaan; die vingerwys dat ons die aarde verniel het, amper soos ’n skerp lig wat in oë geskyn word wat lank in die duister was.

.........
Dit voel nie meer soos teater wat ek pas ervaar het nie.
..........

Dit voel nie meer soos teater wat ek pas ervaar het nie.

In die motor op pad huis toe voel my siel omgekrap. Maar omgekrap vir ander redes as die onderwerp van die toneelstuk. Ek hoor my geliefde deel baie van my sentimente. Daar is ’n paar plekke waar ons dink die teaterspan het geloof in hul teks verloor en met herhaling probeer om die boodskap tuis te bring. En inspirerende boodskappies oor dat ons net mekaar en ons verhoudinge met mekaar in die wêreld het, voel dweperig.

Is ek spyt ek het die toneelstuk gaan kyk? Beslis nie. Dit verdien elke nominasie en elke encore en elke vertoning. Ek hoop egter dat die span agter Unruly dalk nog een maal na die teks kyk en dit effe minder prekerig maak en toelaat dat die onderwerp en dialoog vir hulself praat.

Gehore is daar om uitgedaag én vermaak te word, maar los hulle om self besluite te neem oor die reg en verkeerd van mens in die natuur en mens deel van die natuur.

Unruly

Met: Andrew Buckland
Deur: Neil Coppen, Andrew Buckland en Dylan McGarry en geïnspireer deur die navorsing van Johan Enqvist (navorser en projekleier vir Unruly Natures-projek), Luke Metelerkamp (navorser vir Unruly Natures-projek) en Kinga Psiuk (junior navorser vir die Unruly Natures-projek).
Regie: Neil Coppen
Musikant: Chantal Willie-Petersen
Oorspronklike musiek: Braam du Toit en Chantal Willie-Petersen
Klankontwerp: Tristan Horton
Beligtingsontwerp: Tina le Roux
Stel en kostuums: Dylan McGarry
90 minute
Ouderdomsbeperking: Geen onder 14’s
Baxter Studioteater, Kaapstad
Unruly tot 2 Augustus, saans om 20:00 en Saterdag ook om 14:30
Kaartjies teen R260 deur Webtickets

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top