Universiteitsbestuur lewer akademie en Afrikaans uit aan die wolwe

  • 3

heinrichmattheeDie bestuurspan van Universiteit Stellenbosch se nuutste verklaring op 12 November sou as beleid Engels voortrek en Afrikaans, Xhosa en ander tot randtale verdoem. Dit word aangebied as bloot ’n besprekingsdokument, maar dit dra reeds die tekens van die bestuur se toekomstige beleid.

Universiteitsoutonomie opgegee voor politieke druk

 Hierdie verklaring is ’n strompelende terugval voor die politieke druk van die dag. Met beter opvoeding, navorsing en diens aan die omliggende gemeenskappe het dit min te doen.  

Suid-Afrika is deesdae ’n hibriede politieke orde, nog net deels demokraties na 21 jaar se een-party-oorheersde politiek.  Die politieke druk wissel: Soms is dit stellings deur president Jacob Zuma dat universiteite broeikaste moet word vir “patriotiese burgers”, soos in die China-model. Soms is dit stellings deur  die minister van hoër opvoeding en Kommunistepartyleier Blade Nzimande, dat opvoeders geskool moet word in die rewolusionêre teorie van stryd en onderwysleerplanne aangepas moet word.

Verskuilde en openlike intimidasie speel ook ’n rol. Onlangse straatprotes- en mediaveldtogte eis ’n demografiese en ideologiese gelykskakeling. Agter die skerms is daar begrotingsdruk. Daar was al dreigemente deur ANC-besluitnemers teen Afrikaanse privaatopvoedingsinstellings soos Akademia. Die Kabinet het ook pas ’n nuwe Wetsontwerp op Hoër Opvoeding goedgekeur wat ministeriële magte oor universiteite verder vergroot.

Universiteitsbesture sukkel om onder hierdie druk universiteitsoutonomie te behou. Maar hulle buigings voor politieke druk sal nie akademiese vryheid, uitnemendheid of diens aan hulle kerngemeenskappe bevorder nie. Juis die teenoorgestelde. Dit is tekenend dat bv die Universiteit van Pretoria se posisie op internasionale rangordes juis nie verbeter het sedert dit verengels het nie. 

Politieke diskriminasie

Volgens die sensus van 2011 is die moedertaal van 49,6% van die Wes-Kaap se inwoners Afrikaans, teenoor 24,7% isiXhosa moedertaalsprekers en slegs 20,2% Engelse moedertaaltaalsprekers. Studente wat in Engels wil studeer het drie eentalige Engelse kampusse om van te kies in die nabye omgewing.

Dit is opmerklik dat die Universiteit Stellenbosch se komende taalbeleid juis gemik is teen Afrikaanstalige gemeenskappe en burgers, waarvan die meeste oorwegend teen die ANC stem. Hulle belastings dra wel by tot die staatskas, en help finansier nou die kulturele en politieke diskriminasie teen hulle.

Die Afrikaanssprekende Afrikaner- en bruin gemeenskappe van die Wes-Kaap - oor eeue gewortel - het ’n eie inheemse taal en akademiese hoër funksies daarin ontwikkel. Met hierdie afrangering van Afrikaans by die Universiteit Stellenbosch word hulle in die hoek geskuif.

Vernietig kulturele ekostelsel

So 'n taalbeleid vernietig eintlik 'n hele kulturele ekosisteem wat oor dekades en eeue in die Wes-Kaap gegroei het. Hermann Giliomee noem tereg dat die grond net buite Kaapstad tot by Swellendam die kulturele bakermat van Afrikaners was. Dit geld ook die heterogene bruinmense en hulle gemeenskappe.

Die Wes-Kaap is die bakermat van Afrikaans. Met hierdie verengelsingsbeleid sal ’n kerninstelling vir Afrikaans in sy geboortestreek verdwyn.

Afrikaanssprekende kinders benadeel

So 'n beleid maak die pad dan toe vir Afrikaanssprekende skoolleerlinge in die Kaapse gemeenskappe. Onder andere die toevoerroete vanaf die beste Afrikaanse parallellmediumskole soos Paul Roos Gimnasium, waar Wim de Villiers self skoolgegaan het en prefek was, Paarl Gimnasium en Seuns Hoërskool, Jan van Riebeeck en andere in Kaapstad.

De Villiers se ambisie is selfhelp-breinchirurgie in Engels. Vir Afrikanerkinders en ander Afrikaanssprekende kinders in die Kaap.

Kragbron vernietig

Dit is ironies dat De Villiers hiermee die lang en sorgsaam-opgeboude akademiese erfenis in Afrikaans by Maties onthoof. Dit is 'n unieke kragbron wat tienduisende Afrikaanssprekendes, ook homself, in staat gestel het om nasionaal en internasionaal bomaats te presteer.

Marginalisering

De Villiers se pa, die hoogaangeskrewe regsdekaan AB de Villiers, het oor dekades sy beste werk in Afrikaans gelewer. Taal en die regswetenskap is dalk nog meer intiem verbonde as sommige ander wetenskappe.

Die marginalisering van Afrikaans by Maties deur Wim de Villiers is ’n aanslag op die lewenswerk van talle Afrikaanse akademici wat die Universiteit Stellenbosch oor jare opgebou het.

Uitnodiging vir verdere druk

As beleid sou hierdie voorstelle  gesien word vir wat dit is: oorgawe onder druk.  Die Universiteit Stellenbosch bly ’n belangrike teiken vir die ANC se denkpatrollies. Die universiteit is immers in die Wes-Kaap gevestig, die enigste provinsie waar ’n opposisieparty regeer.

Wanneer gaan Open Stellenbosch of ander drukgroepe aandring om ook alle Afrikaanse name en standbeelde op die kampus te verwyder? Belangriker: wat verhoed ’n universiteitsbestuur wat oor iets so belangrik soos moedertaalopvoeding oorgee om ook sy kursusinhoude te skik na die politieke mag van die dag?

Eie wanbeeld in die geskiedenis

Wim de Villiers-hulle hoop om hul beroepsvelle te red deur Afrikaans vir die wolwe te gooi. Hulself kan egter solank plek maak op die galery vir die ANC-wolwe wat hulle eendag moet opvolg. En regmaak vir hul gehawende rekord in die Afrikaanse geskiedenis.

Sosiale isolasie

As jy in die Wes-Kaap ou eikebome probeer ontwortel en die kulturele ekosisteem verniel, moet jy nie skeef opkyk as jy vir jouself sosiale isolasie onder Stellenbossers en Wes-Kapenaars op die hals haal nie.

Akademia

Die Afrikaanse publiek se invloed in die alledaagse lewe van Stellenbosch, Paarl en die wyer Wes-Kaap is nog steeds nie te onderskat nie. Hopelik laat hierdie gebeure ook hul steun aan instellings soos akademia toeneem.

 

  • 3

Kommentaar

  • Avatar
    Jacobus Pienaar

    En die mense wat die besluit neem, gaan in lorries vol geld aftree. Heel moontlik nog in die buiteland ook. Soos Breyten gesê het: Onder apartheid het hulle gat gekruip by 'n fascistiese owerheid en nou doen hulle dit weer.
    Nou word Afrikaans op Stellenbosch ook verkoop deur mense wat of nie die begin van 'n idee het wat 'n taal is nie of dit weet maar eerder hul eie mag en gierigheid verkies.
    Die probleem (vir hulle) is dat Afrikaanse mense hier is. En hier gaan bly. En Afrikaans gaan bly.
    En as jy mense op goed soos taal en kultuur en gepaardgaande identiteit-elemente aanval (en dis wat hier gebeur) volg hul onvermydelike weerstand heel moontlik 'n voorspelbare patroon.
    Kyk maar om die wêreld.

  • Old SU grad.English.No issue or problem with Afrikaans as medium in lectures. This is merely another Marxist advance. I sms-ed De Villiers on my sentiments. He has adopted the path of the peacemaker.These are the latter Days! Totsiens Matieland!

  • Dit is maar net die begin van hul grenslose eise. Die kommies wil alles oorneem en ons gee dit maar net om vrede te bewaar "Vrede"?? SA must fall??

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top