Uitstalling van kontemporêre bedrukte kuns

  • 0

At the table is ’n uitstalling van kontemporêre bedrukte kuns deur die Kaapse groep ThePrintingGirls.
Spin Street Gallery, Spinstraat 6, Kaapstad
17 April tot 8 Mei 2021
Maandag tot Vrydag: 10h00–16h00
Saterdae: 10h00-14h00
Gesluit op Sondae en openbare vakansiedae

Op 8 Mei gaan spesiale kunswerke gedruk word vanaf ’n druktafel wat gedurende die uitstalling kollektief deur ThePrintingGirls gekerf is. Dié druktafel is ’n ware tafel wat gekerf word tot druktafel.

Kunstenaars wat uitstal, van links na regs (agter): Noeleen Kleve, Neeske Alexander, Mariëtte Momberg, Lucy Stuart-Clark, Natasha Norman, Yolanda Warnich, Laurel Holmes. Links na regs (voor): Georgina Berens, Kristen McClarty, Marelise van Wyk, Emma Willemse. (Foto verskaf.)

Neeske, jy is tans deel van ’n uitstalling in die Spin Street Gallery, Spinstraat 6. Die kollektief met wie jy saamwerk is ThePrintingGirls. Ons kan dus verskillende drukvorme verwag, nie waar nie?

Ja, daar is baie verskillende maniere om bedrukte kuns te maak: reliëfdruk, stensildrukwerk, litografie (’n vlakdrukproses – dink aan hoe boeke gedruk word), monotipes, ligdruk (dink aan iets soos gelatiendrukke), ook selfs drukwerk op lap en keramiek.

Ek en jy het pret gehad met die vertaal van hierdie terme in Afrikaans, maar jou stensildrukwerk staan in Engels bekend as risographs en dit het iets met rys te doen?

Dit is ’n Japannese tegniek en gebruik stensils, amper soos sifdruk, wat weer in Engels as silkscreen bekendstaan. Die ink is gemaak van die afval in die rysverwerkingsproses. Die spesifieke helder pienk is ’n kenmerk, so ook die klein kolletjies waarvan die prent gemaak is.

Die seekat met drie drukblokke daarnaas.

Detail van 'n drukblok.

Die uitstalling se titel is At the table. Wat beteken dit?

At the table gebruik die simboliek van die tafel om temas soos tuisteskepping, geskiedenis, familie en die natuur te ondersoek. Elke individuele kunstenaar wat hier uitstal se werk het 'n “plek om die tafel” soos wat ons bymekaar kom, saam praat en werk en dink oor die fisiese, metaforiese, historiese en ekologiese ruimte wat bestaan om die voet van Tafelberg.

Die tafel is ’n meubelstuk, baie algemeen in die huis en werkplek. Dit is waar ons saamkom om te eet, gesels, werk en selfs om te bid. ’n Tafel wat ’n erfstuk is in ’n gesin, is gewoonlik van hout, dikwels vol karakter en in die houtgrein, met allerhande vlekke en krappe wat die tafel se storie vertel.

Tafelberg is dan ook ’n metafoor vir die tafel waarom alle Kapenaars sit. Wanneer mis op die berg lê, noem ons dit die tafeldoek, en dit is juis hierdie unieke weerverskynsel wat die ryk fynbosbioom moontlik maak.

Tafelberg is ook histories die baken vir skepe wat na ons kus toe geseil het. Die “Hoerikwagga” of “Berg in die see” is die geografiese samesmelting van kultuur,  gemerk deur ’n geskiedenis van onderdrukking, vryheid, toerisme en ekologie.

Die uitstalling fokus op die verskeie benaderings tot drukwerk en bedrukte kuns. Werkswinkels en demonstrasies sal gedurende die uitstalling aangebied word en ’n tafel sal deur al die kunstenaars gekerf word tot druktafel en dan gebruik word om drukstukke mee te maak op die laaste Saterdag van die uitstalling.

Hoe lank duur hierdie uitstalling nog voort?

Dit sal 8 Mei afsluit met die druk van kunswerke vanaf die druktafel.

Is die galery deel van First Thursdays?

Ja! Ons sien baie uit na daardie Donderdagaand (6 Mei vanaf 17:00).

ThePrintingGirls is ’n kollektief. Wat beteken #printlikeagirl vir jou en vir kunstenaars in die algemeen?

ThePrintingGirls is ’n kollektief van vrouedrukmakers (printmakers) met diverse belangstellings. At the table stal die werk uit van ThePrintingGirls wat in die Kaap woon. (Ander woon in ander stede.)

Die kollektief is gestig om vrouedrukmakers te ondersteun. Drukwerk is tradisioneel geassosieer met manlike kunstenaars, seker omdat dit baie fisieke en presiese werk is. Ons voel dat dit belangrik is om vrouedrukmakers se werk te bevorder en oor die afgelope paar jaar het ons ’n gemeenskap gevorm waarin ons almal by mekaar kan leer.

Jy het verlede jaar elke liewe dag ’n kunswerk gemaak. Dis baie harde werk. Waarom dié amper maniese poging?

Anton Kannemeyer het eenmaal vir my gesê dat as ek regtig ’n goeie kunstenaar wil wees, sal ek elke dag moet teken. Op 1 Januarie het ek sommer net gedink dalk moet ek kyk of ek elke dag iets kan teken met ’n tema van my keuse vir elke maand. Toe ek eers begin en my eie vordering sien, kon ek nie ophou nie. Ek het myself ook uitgedaag om onbekende mediums te gebruik, soos gouache en digitale illustrasie. Sommige dae se kunswerke was vir seker nie baie goed nie, maar ek het so baie geleer. As gevolg van al die teken het ek my gewrig beseer en moes ek vir 'n maand met my linkerhand verf. Ek hoop om al 366 kunswerke in die eerste twee weke van Junie in Kaapstad uit te stal.

Neeske Alexander

Om kuns te maak is ’n goeie ding tydens inperking. Hoe het die inperking jou behandel?

Die jaar was vir my swaar, soos vir almal, maar my daaglikse kunswerke (hoewel dit soms baie gekos het om tot 11 nm party aande te teken) het my gehelp om gekoppel te bly aan my ondersteuningsnetwerk (ek het elke dag op Instagram my kunswerk vir daardie dag gedeel). Ek sal die uitdaging vir enigiemand wat ernstig is oor hulle kuns aanbeveel (maar onthou om jou gewrigte op te warm!).

Neeske gee raad tydens 'n werkswinkel.

Jy bied gereeld werkswinkels aan – en ander lede van ThePrintingGirls doen dit ook. Wat kan iemand verwag as hulle deelneem aan so ’n werkswinkel?

My werkswinkels is interaktief en ek poog om die vaardighede wat ek oor die jare heen geleer het, te deel. In my linosneewerkswinkel sal deelnemers hul eie linosnee maak en druk. Daar is baie, klein geheimpies wat drukmakers ken wat hulle help om die onvoorspelbaarheid van drukwerk effens te beheer. In my werkswinkels verklap ek van hulle.

Hoe weet mense van die werkswinkels?

Ek adverteer op my Instagram: @neeskealexander.

Ek stel mense ook in kennis indien hulle op my e-poslys is (stuur gerus jou besonderhede na neeskealexander@gmail.com).

Ek het nog ’n Insta-rekening: @neeskeprints.

My webtuiste: www.neeske.com.

ThePrintingGirls se webtuiste: www.theprintinggirls.co.za.

Jy is meer as ’n drukkunstenaar. Ek sien deesdae ook olieverfwerk op Instagram ...?

As gevolg van laasjaar se daaglikse uitdaging kon ek nie die nuwe jaar ingaan sonder 'n nuwe uitdaging nie. Dus het ek besluit om hierdie jaar elke week 'n nuwe, oorspronklike kunswerk te maak en beskikbaar te stel op Instagram, elke Vrydag. Sover het ek met olieverf en waterverf geëksperimenteer, maar die moontlikhede is oneindig!

 

Fotografie: Izak de Vries, tensy anders vermeld

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top