Uitnodiging: Lesings deur Jerzy Koch en Orsolya Réthelyi

  • 0

Jy word vriendelik uitgenooi na twee lesings op Maandag 13 Maart 2023 om 11:00 tot 14:00 wat aangebied word deur die SA Akademie se Werkgemeenskap Pretoria. Dit vind plaas in die Kunslokaal, SA Akademiegebou, Ziervogelstraat 574, Arcadia, Pretoria.

Prof Jerzy Koch (SA Akademielid) en Prof Orsolya Réthelyi besoek Suid-Afrika op uitnodiging van die Suider-Afrikaanse Vereniging vir Neerlandistiek (SAVN), en met steun van die Noordelike Kennisnetwerk vir Neerlandistiek (NKN), om elkeen een lesing aan te bied op vier verskillende plekke in Suid-Afrika: Stellenbosch, Pretoria, Potchefstroom en Bloemfontein. Hulle besoek val in die kader van die akademiese vakbeoefening van die Neerlandistiek, maar sal ook interessant en toeganklik wees vir enigiemand met ’n breë belangstelling in Nederlands, die letterkunde, literatuurwetenskap, literatuurgeskiedskrywing en vertaling. Albei is afkomstig van Oos-Europa (onderskeidelik Pole en Hongarye), wat reeds geruime tyd lank ’n besonder sterk groeipunt in die internasionale Neerlandistiek verteenwoordig. 

Die onderwerp van elkeen se lesing is soos volg:

Jerzy Koch: Over het nut en de belangrijkheid der literaire geschiedschrijving.

Orsolya Réthelyi: Literatuur in gebruik of gebruiksliteratuur? Engagement en de internationale verspreiding van Nederlandse fictie [engagement = betrokkenheid].

Daar sal aan elke spreker se lesing een uur toegestaan word. Albei die lesings word in Nederlands aangebied, maar vrae kan ook in Afrikaans of Engels gestel en beantwoord word.

RSVP: Linda Brink by linda@akademie.co.za voor of op 10 Maart 2023

Verversings sal na afloop van die lesings aangebied word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top