
Die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en die WikimediaZA Stigting vier die Afrikaanse Wikipedia se mondigwording op Woensdag 16 November om 18:00.
Die SA Akademie bied sedert Augustus vanjaar ’n sigbare tuiste vir die Afrikaanse Wikipedia. Dit is in reaksie op die sterk groei van hierdie Wikipedia, tans die grootste Wikipedia in Afrika, met 105 154 artikels wat dit in die 69ste plek op die wêreldranglys plaas. Boonop is daar maandeliks tussen 10 en 12 miljoen bladtrekke op die Wikipedia. Dit is voorwaar geen geringe prestasie nie! Hierdie groei is ’n funksie van die wêreldwye tendens met die demokratisering en digitalisering van inligting en selfgerigte leer deur middel van digitale platforms en tegnologie.
Hierdie statistieke is merkwaardig juis omdat die Afrikaanse Wikipedia deur vrywilligers bedryf en bestuur word. Dié Wikipedia is ’n belangrike hulpbron in die bevordering van Afrikaans as ’n wetenskapstaal.
Die direkteur van die Afrikaanse Wikipedia, Deon Steyn, sal by hierdie geleentheid die sluier lig op die Afrikaanse Wikipedia se planne vir die volgende vyf jaar.
Kom vier gerus die Afrikaanse Wikipedia se 21ste verjaarsdag op 16 November om 18:00 by die Akademiekantoor te Arcadia, Pretoria. Ligte versnaperings sal bedien word.
RSVP asseblief teen 14 November by sanita@akademie.co.za.


Kommentaar
Baie geluk met die 21e verjaardag.
Ek sal die viering daarvan nie in persoon kan bywoon nie, maar ek lees graag oor die verdere planne.