Uitnodiging: Poësie en die klimaatskrisis – hoe praat digters terug?

  • 0

Foto van Pieter Odendaal: Izak de Vries; boekomslae: NB-Uitgewers

Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Werkgemeenskap Vrystaat, in samewerking met die Oorlogsmuseum van die Boererepublieke, nooi alle belangstellendes hiermee hartlik uit na ’n byeenkoms wat in hibriede formaat met fisiese bywoning en daarmee saam aanlyn bywoning aangebied sal word.

Datum: Donderdag 26 Oktober 2023
Tyd: 18:00
Lokaal vir fisiese bywoning: Ouditorium van die Oorlogsmuseum (Monumentweg 25, Generaal De Wet), Bloemfontein
Spreker: Pieter Odendaal
Tema: Poësie en die klimaatskrisis – hoe praat digters terug?
Koste: Gratis. Verversings na afloop van die lesing

RSVP aan Liesl van As by vanasLL@ufs.ac.za soos volg:

  • Voor of op Maandag 16 Oktober 2023 indien u die funksie in persoon bywoon.
  • Teen Woensdag 23 Oktober 2023 indien u aanlyn bywoon.
Oor die afgelope paar jaar het die gevolge van die klimaatskrisis in so ’n mate toegeneem dat verlies en vervreemding deel van ons daaglikse ervaring van die meer-as-menslike wêreld geword het. Hoe kan digters op hierdie stormagtige tye reageer, die aarde op nuwe maniere verklank en die somtyds oorweldigende gevoelens verwoord van ’n tuiste wat ons besig is om skynbaar onafwendbaar te verniel? Dr Pieter Odendaal gaan hierdie indringende vrae, vanuit insigte uit sy PhD in Kreatiewe Skryfkuns, bespreek. Gedigte uit sy nuwe bundel, Ontaard, wat vanjaar by Tafelberg Uitgewers verskyn het, gaan ook voorgelees word.

 

Pieter Odendaal is ’n Suid-Afrikaanse digter, dramaturg, vertaler en samesteller. Sy debuutbundel Asof geen berge ooit hier gewoon het nie (Tafelberg), is met die 2019 Ingrid Jonker-prys bekroon. Sy gedigte het reeds in verskeie plaaslike en internasionale joernale verskyn en hy het al in Nederland, Nigerië, Engeland, Peru en Ecuador opgetree. Hy was vanaf 2015 tot 2019 die direkteur van InZync Poetry, ’n poësie-organisasie in die Departement Engels aan dieUniversiteit Stellenbosch, en hy is die medesamesteller van die vertaalbundels Many Tongues (2013) en ConVerse (2018).

Pieter het sy doktorsgraad in kreatiewe skryfkuns aan die Queensland University of Technology in Brisbane in 2020 behaal. Die titel van sy proefskrif is: “Sounding relations to grond and water: responding to social-ecological change through spoken word poetry”.

Sy teks Droomwerk het die 2021 ATKV Woordveertjie vir beste nuwe dramateks ontvang en het in Junie 2023 by die National Arts Festival gedebuteer, waarna speelvakke by Aardklop en Woordfees gevolg het.

Pieter se Afrikaanse vertaling van Gonçalo M Tavares se veelbeprese Portugese roman Jerusalem het onlangs byMinimal Press verskyn. Sy tweede digbundel, Ontaard, is in Julie 2023 deur Tafelberg Uitgewers gepubliseer.

Pieter is ’n senior dosent en vakgroepvoorsitter van Kreatiewe Skryfkuns aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroom-kampus.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top