Uitnodiging: Moerdyk-gedenklesing op 20 Augustus 2026 by die Voortrekkermonument

  • 0

Jy word hartlik uitgenooi na die Erfenisstigting se Moerdyk-gedenklesing op Donderdag, 20 Augustus 2026 by die Voortrekkermonument. Alexander (Alex) Duffey neem die tema, Ons monumente: Quo vadis? onder die loep.

Datum: Donderdag 20 Augustus 2026
Tyd: 18:00 vir 18:30
Plek: Senotaafsaal, Voortrekkermonument
RSVPdupreez@kultuurtuiste.org.za

Met hierdie lesing ondersoek Alex Duffey die historiese, kulturele, estetiese en politieke rol van openbare monumente in Suid-Afrika. Monumente word bespreek as draers van kollektiewe geheue, identiteit en erfenis, terwyl hul vermoë om sowel te verenig as te verdeel in ’n multikulturele samelewing beklemtoon word.

Die lesing onderskei vier hoofkategorieë van monumente, met besondere aandag aan herdenkings- en gedenkmonumente waarin beeldhoukuns ’n sentrale rol speel. Die ontwikkeling van openbare standbeeldmonumente in Suid-Afrika word histories nagegaan, met verwysing na belangrike voorbeelde en hul artistieke waarde.

Daar word verder geargumenteer dat suksesvolle monumente afhanklik is van faktore soos terreinspesifisiteit, ruimtelike integrasie, emosionele aanklank en tydloosheid. Die lesing bespreek ook die estetiese beginsels van openbare beeldhoukuns en evalueer enkele uitstaande, asook minder geslaagde Suid-Afrikaanse monumente.

Ten slotte word die vernietiging, vervanging en vandalisering van monumente binne die konteks van politieke verandering, identiteit en sosiale konflik ontleed.

Duffey voer aan dat ’n inklusiewe benadering tot monumente, waarin verskillende historiese narratiewe naas mekaar erken word, noodsaaklik is vir erfenisbewaring, versoening en volhoubare sosiale samehorigheid in Suid-Afrika.

Bevestig u bywoning asseblief teen 7 Augustus 2026 by dupreez@kultuurtuiste.org.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top