Uitnodiging: FilosofieKafee – Oorlog in ’n tegnologiese era

  • 0

Tema: Oorlog in ’n tegnologiese era
Spreker: Pieter Duvenage
Medereder: Mariana Kruger 

Die geskiedenis van oorlog strek so ver terug soos die menslike samelewing self. Tog het die aard, omvang en morele implikasies van oorlog in ons hedendaagse tegnologiese tydsgewrig ingrypend verander. Oorlog is nie meer bloot ’n saak van fisieke konfrontasie tussen soldate op slagvelde nie, maar sluit nou ook kubermag, hommeltuigaanvalle, satellietkommunikasie en selfs kunsmatige intelligensie in. Hierdie ontwikkelinge roep dringende vrae op: Wat beteken dit vir ons morele oordeel oor oorlog? En: Hoe kan klassieke sowel as moderne filosofiese denke ons help om oorlog in hierdie nuwe konteks te verstaan en te beoordeel?

Die gesprek bestaan uit vier dele:

  1. ’n Kort oorsig oor die regverdige-oorlogsteorie (“just war theory”)
  2. ’n Verkenning van hoe Hegel en Heidegger oorlog as ’n moment van geskiedenis en menslike bestaan beskou
  3. ’n Ontleding van Habermas se postkonfliktuele etiek, geskoei op kommunikasie en regmatigheid
  4. ’n Slotbesinning oor die vraag of ons nie vandag verby die Westerse tradisie oor oorlog moet dink nie.

Pieter Duvenage is ’n akademikus, filosoof en politieke kommentator. Ná vele jare in die voltydse akademie is hy tans ’n buitengewone professor in filosofie aan die Noordwes-Universiteit en deeltyds verbonde aan die Hugenote Kollege in Wellington. Hy woon op Stellenbosch en publiseer later vanjaar ’n boek oor bewegende denke en praktiese wysheid.

Datum: Vrydag 4 Julie 2025
Tyd: 18:00–21:00
Plek: ATKV Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington
Bespreek asb by Lamé +27828951139 / oopgesprek@filosofiekafee.co.za.
Toegang: R150 pp (sluit ’n verwelkomingsdrankie in)

Betaal asb met die datum W04/07 en jou naam by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee.

Iedereen is welkom!
Besoek https://filosofiekafee.blogspot.com vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top