FilosofieKafee
Tema:
“Jy is jou brein!”
“Jy is nie jou brein nie!”
Nie een van die twee nie?
Mens, wie is jy dan…
Spreker: Wilhelm Jordaan

Met die koms van neurowetenskap oor brein en bewussyn het die eeue oue, en steeds onopgeloste, liggaam-gees-probleem verdiep.
In hierdie gesprek gaan ek die reduksionistiese opvattings in die titel kortliks prakties (nie diep-filosofies nie!) bekyk en spekuleer oor ’n werkbare alternatief; ’n ander manier van wees. Daarmee saam kom belangrike, selfs opwindende, implikasies vir lewenswerklike dinge soos moraliteit en spiritualiteit.
Wilhelm Jordaan studeer voorgraads aan die Universiteit van die Vrystaat en nagraads aan die Universiteit van Stellenbosch en UNISA. Ná ’n aantal jare as joernalis by Volksblad in Bloemfontein, Welkom en Klerksdorp word hy in 1969 lektor in sielkunde aan UNISA waar hy later hoof van die departement sielkunde, visedekaan (Fakulteit Lettere) en lid van die Unisaraad was.
Waarmee hou hy hom tans besig
"Lank-lank gelede, byna soos in ’n sprokie, moes ek ’n intreerede by Unisa hou. My onderwerp was ’n Grammatika vir Menskunde. Dit het gegaan oor hoe die sielkunde kan baat deur interdissiplinêre samewerking, byvoorbeeld tussen sielkunde, teologie, letterkunde en filosofie. In my akademiese loopbaan was dié tema vooropgestel en die rubrieke wat ek sedert 1987 vir Afrikaanse koerante skryf, is ’n voortsetting daarvan. Die projek kom nie klaar nie. Jy kan maar sê ek werk nog steeds aan ’n onvoltooide én onvoltooibare grammatika vir menskunde.
Daarnaas hou ek van lees oor alles en nog wat, vuurmaak, vleisbraai, kyk na die sterre, tuinmaak, reis na stil beskutte plekke, gesels met my geliefde, wanneer ek kan klets met my kinders en kleinkinders en praatjies maak vir die vaak – soos vanaand."
Plek: Bôrdienghuis, Breytenbach Sentrum, Wellington
Datum: Vrydagaand 3 Mei 2024
Tyd: Vanaf 6nm
Toegang: R140 pp sluit ’n glasie wyn in!
Pizza, soetgoed en koffie is ekstra beskikbaar.
Bespreek asb by Lamé 0828951139 of oopgesprek@filosofiekafee.co.za en betaal met dié datum W03/05 en jou naam by hierdie portaal: http://pay.yoco.com/filosofiekafee


Kommentaar
Die professor wat seg dat mites vir die mens 'n anker in die lewe is (https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/wilhelm-jordaan-wetenskap-kan-dinge-verklaar-mites-anker-ons-20240327). En skynbaar dat dit goed so is en so hoort. Sou nogal graag 'n opsomming wou sien van wat hy te sê het. So 'n paragraaf of wat, maar nie veel meer nie. 'n Mens wil oopkop wees in die lewe, maar jy het ongelukkig jou vermoedens ... Natuurlik is ek geen kenner van die neurowetenskap nie, maar ek sien glad nie hoe die neurowetenskap die 'liggaam-gees-probleem verdiep' het nie. Die neurowetenskap het inteendeel groter klarigheid gebring deur te bevestig wat ander wetenskaplike bevindinge al baie jare lank op dui, en dit is dat die mens se bewussyn nie onafhanklik van die liggaam voortbestaan nie. En dat die onsterflike gees/siel in eie reg 'n totale mite is. Al probleem wat ek hierin sien, is die probleem dat die kerk steeds voortgaan met onwaarhede, dat die stapels en stapels 'navorsing' van die teologie uiteindelik maar 'n gejaag na wind was. Die ewige gepreek van kansels af. Die reusekerke wat opgerig is om die lof te besing van gode wat nie bestaan nie. Alles wyl die mens se brein afskakel wanneer ons tot sterwe kom. En natuurlik die grootste probleem: dat die finaliteit van die dood nie vir almal 'n gedagte is wat hulle sommer so sal aanvaar nie. Selfs nie in die aangesig van oordonderende bewyslas nie.