Uitnodiging: Breyten Breytenbach: woordenaar, woordnar – ’n persoonlike blik deur Francis Galloway by NALN op 13 Maart 2025

  • 0

Breyten Breytenbach: woordenaar, woordnar – ’n persoonlike blik deur Francis Galloway:
Kom kuier saam by NALN op 13 Maart 2025 om 18:00.

RSVP: annelien.naln@gmail.com

Dié gespreksgeleentheid word deur die Werkgemeenskap Vrystaat van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK), in samewerking met die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN) en die Vriende van NALN Vereniging aangebied.

Francis Galloway is ’n gebore en getoë Vrystater en het haar voorgraadse en nagraadse kwalifikasies aan die Universiteit van die Vrystaat behaal. Gedurende haar loopbaan was sy ’n dosent in Afrikaanse letterkunde (aan die eertydse Universiteit van die Noorde); navorser verbonde aan die RGN se Sentrum vir SA Letterkundenavorsing (SENSAL); akademiese uitgewer (by Van Schaik-Uitgewers) en senior dosent en hoof van die program Uitgewerswese aan die Universiteit van Pretoria. Die afgelope 15 jaar is sy die redakteur van die afdeling geesteswetenskappe van die geakkrediteerde aanlyn akademiese tydskrif LitNet Akademies.

Haar breër navorsingsbelangstelling is boekgeskiedenis en uitgewery-ondersoek en sy het verskeie tekste oor die plaaslike boeklandskap plaaslik en internasionaal gepubliseer. Sy spesialiseer in navorsing oor die loopbaan van Breyten Breytenbach as skrywer en openbare figuur. Naas talle artikels in akademiese tydskrifte en op aanlyn platforms is sy die skrywer van die boek Breyten Breytenbach as openbare figuur (HAUM-Literêr, 1990) en die samesteller van die huldigingsbundel, in die reeks van die SAAWK, Breyten Breytenbach: woordenaar, woordnar (Protea Boekhuis, 2019). Sy was ook die redakteur van ’n versameling van Breyten se toesprake/openbare uitsprake, Parool/Parole (Penguin, 2015). Sy en haar man woon sedert 2009 op Pringlebaai in die Wes-Kaap.

Breyten Breytenbach: woordenaar woordnar (Protea Boekhuis, 2019) sal te koop aangebied word tydens dié gespreksgeleentheid.

Die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum is geleë op die h/v President Brand- en Miriam Makebastraat, Bloemfontein. Parkering is beskikbaar voor die Ou Goewermentsgebou of op die teervlak langs die gebou vanuit Miriam Makebastraat. 

Sluit gerus aan by die Vriende van NALN Vereniging en voltooi sommer nou dié Google-vorm. Skenkings word verwelkom: 

Ons vier later vanjaar die 150ste bestaansjaar van die pragtige Ou Goewermentsgebou (NALN se tuiste), en die hoeksteenlegging op 25 Mei 1875. Dit is feestyd met Ou Goewermentsgebou 150, GRA 150 en Afrikaans 100.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top