Kom gesels saam met François Loots en Jeremy Vearey oor François se splinternuwe historiese roman, Twyfelbos, op 3 Junie by Strand Biblioteek.
’n Splinternuwe historiese roman van Human & Rousseau beloof om jou te betower met sy prentjiemooi voorblad en jou mee te sleur na die Overberge van die vroeë agtienhonderds.
Twyfelbos deur die fyn stilis en puik navorser François Loots is vanaf 30 Mei by alle goeie boekwinkels beskikbaar.
Meer oor die boek:
Dis 1829 in die Kaapkolonie. Sophia Truter is getroud met regter Johannes Truter. Maar dis Engelse tye en hy word nou as Sir John aangespreek.
Sophia het ’n afkeer van die Kaap se vertoonsug, en ná die dood van haar jongste seun besluit sy om weer te gaan boer. Dié keer begin sy klein, op ’n lap grond overberg anderkant die Kleinrivier – sonder slawe en voormans.
Kort ná haar aankoms daag Mandel op, ’n vryloper wat doer ver by Kicherer se sendingstasie Sakrivier gedoop is. En by jong vroue soos Sterretjie wat naby Gansgat tent opgeslaan het, kry Sophia malgasvere en ghwano vir haar groenteakkers.
Algaande vind Sophia haar voete, en ’n boervrou van oorkant die Akkedisberg kom ook inloer. Maar dan word iemand op die bokpad anderkant die berg vermoor. En Jan Tesselaar, die nuwe veldkornet, moet die skuldige opspoor.
’n Bekendstelling sal op 3 Junie by Strand Biblioteek plaasvind en Jeremy Vearey sal die gesprek lei.

