Uitnodiging | Lesing 4: Die werkwyse van die Taalkommissie | 14 Mei om 16:00 (virtuele aanbieding)

  • 0
Lesing 4: Die werkwyse van die Taalkommissie
Datum: 14 Mei 2024 | Tyd: 16:00 – 18:00

 

Dit het gebruiklik geword om in elke voorwoord van elke nuwe uitgawe van die AWS duidelik te maak wat die sienings en werkwyse van die Taalkommissies (TK) van elke uitgawe van die AWS was. In die tweede laaste lesing in die TK se eerste lesingreeks kom hierdie aspekte prakties aan bod.

In die grootste gedeelte van die lesing gaan Monique Rabé ’n blik gee op die huidige TK se binnewerkings wanneer die AWS bygewerk word. Die lesing begin met ’n inleiding tot die redaksionele beleid van die AWS, gevolg deur ’n kort bespreking oor die distinktiewe aard van die AWS wat uiteindelik die werkwyse onderlê. Daarna word daar gekyk na die opname- en elimineringskriteria vir woordelysinskrywings, asook hoe elke woordelysinskrywing saamgestel word. Hierdie gedeelte van die lesing word dan afgesluit met ’n kort bespreking van hoe die TK tans te werk gaan aan die bywerkings vir die twaalfde uitgawe van die AWS.

Die lesing word afgesluit met ’n kort bespreking oor die woordeboekmaakproses deur gesoute leksikograaf Jana Luther, om die raakpunte en verskille tussen die AWS en ander standaard verklarende woordeboeke te verhelder.

Alle lesings vind virtueel plaas.

Belanstellendes kan RSVP vir lesing 4 tot Dinsdag 14 Mei teen  12:00. Stuur gerus ’n e-pos aan Sanita Meyer by akademie@akademie.co.za.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top