
Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns (SAAWK) beplan om 9–10 November 2022 die derde Studentesimposium vir die Sosiale en Geesteswetenskappe aan te bied.
Nagraadse studente van regoor Suid-Afrika word genooi om hul navorsing, wat in Afrikaans vasgelê word, in die vorm van ’n referaat (20 minute) of plakkaat (5 minute) by die simposium aan te bied. Die 2022-simposium sal vanjaar weer virtueel aangebied word.
Die simposium onderskraag die oogmerke van die SAAWK deur akademiese denkleiers aan te moedig om hul bevindinge in die sosiale en geesteswetenskappe in Afrikaans met ’n breër gehoor te deel. Voorts moedig die SAAWK studente, wat hul navorsing in Afrikaans doen, aan om hul aanbiedings voor te lê. Studente wat hul navorsing in ander tale onderneem, word ook aangemoedig om hul bevindinge te vertaal vir ’n referaat of plakkaat wat in Afrikaans aangebied word. Op hierdie manier word Afrikaans ook as akademiese vaktaal bevorder en uitgebrei binne die veld van die sosiale- en geesteswetenskappe.
Tydens die tweede Studentesimposium vir Sosiale en Geesteswetenskappe in 2020 het 32 nagraadse studente van ses Suid-Afrikaanse universiteite, referate gelewer. Die referate het binne die vakgebiede geval van die antieke tale en kulture, drama, filosofie, geskiedenis, kuns, linguistiek en letterkunde, musiek, maatskaplike werk, opvoedkunde, regsgeleerdheid, sosiologie, spraakterapie en teologie.
Voornemende deelnemers kan hulle plakkate en referaatvoorstelle teen 16 Oktober 2022 by die volgende skakel indien: https://forms.gle/6HvUR1XXDEUrX3gN8.
Suksesvolle aansoekers sal teen 25 Oktober 2022 per e-pos verwittig word.
Vir verdere navrae, tree gerus per e-pos met die organiseerders in verbinding by linette.vandermerwe@up.ac.za.

