Uitbuiting van en geweld teenoor vroue tersaaklik: Spieëltjie, spieëltjie deur Jan Vermeulen, ’n resensie

  • 0

Titel: Spieëltjie, spieëltjie
Skrywer:
Jan Vermeulen
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639607689

Spieëltjie, spieëltjie is die vierde en finale roman in Jan Vermeulen se Olaf Demeyer-reeks. Die drie vorige romans in hierdie reeks is Die vyfde Aspoester (2018), Ondier (2019) en Nagjagter (2020). Die hoofkarakter is die forensiese profileerder dr Olaf Demeyer, wat direk by elke verhaal se moorde en intrige betrek word. Hy is ’n gefolterde karakter wie se ma voor hom vermoor is toe hy nog baie klein was. Ná ’n vierdubbele hartomleiding en met die trauma van vorige misdaadondersoeke wat hom nie wil los nie, het hy as forensiese profileerder van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) afgetree.

Spieëltjie, spieëltjie speel af gedurende die tyd van COVID-19. Dit word in vier verdeel en elke deel word ingelei deur ’n aanhaling wat die gebeure belig. Eerstens haal die skrywer aan uit Shakespeare se Julius Caesar: “And since you know you cannot see yourself, / so well as by reflection, I, your glass, / will modestly discover to yourself, that of yourself which you yet know not of.”

By die tweede deel haal hy WH Auden aan: “Every man carries with him through life a mirror, as unique and impossible to get rid of as his shadow.”

By die derde deel haal hy die broers Grimm aan: “Spieëltjie, spieëltjie aan die wand, wie is die mooiste in die land?”

Die aanhaling by deel 4 is uit 1 Korintiërs 13:12: “Nou kyk ons nog in ’n dowwe spieël en sien ’n raaiselagtige beeld.”

...
Die beheptheid met skoonheid en voorkoms, uitbuiting van en geweld teenoor vroue is tersaaklik, veral deesdae, wanneer dit so duidelik en openlik betreur word. Veral jong, onvolwasse meisies is weerloos en uitgelewer aan misbruik.
...

Demeyer het wel afgetree, maar dan vra Lucinda Winterbach van die Elegant Queens Academy, ’n skool vir skoonheid en modelwerk, sy hulp. Sy glo dat sy, haar skool en studente deur ’n moordenaar geteiken word.  Haar bekroonde wenners, almal bloedjonk, word dood onder in swembaddens in die omgewing gevind. In die nag is die swembaddens se oppervlakke donker, onheilspellende spieëls. Dan word nakende liggame daarin ontdek, hulle klere netjies langsaan opgevou. Die patoloog Anat dink hulle is met sianied vergiftig en die vraag is: Wie kan sianied in die hande kry?

Lucinda het ’n verhouding met Olaf se vriend Dieter van Big Bear Private Investigations en dit is hy wat Olaf aanbeveel. Olaf se geliefde, kaptein Beth Jordaan van die SAPD, word uitgeroep na die misdaadtonele. Die nuwe profileerder wat met haar saamwerk, is die enigmatiese en skynbaar hoogs bekwame Valencia Ingram, wat ook ’n kindersielkundige is. Olaf se seuntjie Cor het sielkundige probleme. Beth werk ook saam met adjudant Fritz Knouwds, ’n Mick Jagger-lookalike wat altyd swart dra, asof hy as ’n karakter met ’n skadukant voorgestel word. 

Olaf en Dieter werk saam om die moordenaar te soek en die klomp kinkels in dié kabel te help uitpluis. Dit loop parallel met Beth se polisie-ondersoek.

Lucinda se narsistiese seun, pastoor Luca Winterbach van die Nuwe Lewe Kerk, en sy intieme vriendin, die sensuele Catherine Jones, oftewel Cat, is die beoordelaars van die skoonheidskompetisies. Cat is ’n professionele masseuse en skoonheidskonsultant. Luca is gans te betrokke by die meisies, al is hy ’n kerkman. Sy ma is so skoonheidbehep dat sy vir hom en sy sussie Lucy van kleins af vir skoonheidswedstryde ingeskryf het. Sy is so gebotox dat sy skaars enige uitdrukking op haar gesig kry, al is sy ook ’n gefolterde karakter wat te veel drink. Hulle is mense vir wie voorkoms van te veel belang is.

Pastoor Peter en die kerkraad keur nie Luca se verhouding met Cat goed nie. ’n Pastoor moet trou en nie brand nie, glo hulle, en Luca is gans te losbandig vir sy beroep as geestelike. Dit blyk dat die konserwatiewe Peter se vrou sowaar die eienaar van Amalia’s Beautiful Bodies Gym is. Nóg ’n skoonheidbehepte met ’n mooi dogter.

Luca het ’n fobie vir verdrinking. Hy en sy tweelingsussie Lucy was elf  toe sy in die vlei naby hulle huis verdrink het, en haar liggaam is kwansuis nooit gevind nie. Hier is ’n onwaarskynlikheid wat krap. Iets onvoltooids en onopgelos, ’n los draad wat vasgeknoop moet word.

Hy kry ook berading by die sielkundige Valencia Ingram, tot wie hy fisiek aangetrokke is. Die fobie maak dat hy nie mense in die kerk wil grootdoop nie, al vra pastoor Peter se wulpse tienerdogter Shandré dat hy haar moet doop. 

Eugene Viljoen, Lucinda se hoof van sekuriteit, haar lyfwag en die oppasser van die Academy-meisies, is ook onder verdenking. Die eerste slagoffer, Zaydi Slagboom, en haar ma Fleur, het hom in die verlede vir teistering by Kinderbeskerming aangekla, maar niks het daarvan gekom nie. Zaydi en haar ma het agter in die erf van ’n Nigerian in ’n sinkhuisie gewoon. Wanneer Olaf Demeyer daarheen gaan, is die ma se vriend Gerome Titus uitermate vyandig.

Demeyer is veronderstel om te rus, maar hy word in so ’n mate by die moordondersoek ingetrek dat hy selfs hallusineer en geeste sien.

Die polisieprosedure is oortuigend en die spanning bou op, sodat mens voortlees om uit te vind wie die moordenaar kan wees. Daar is egter net te veel subintriges en boosdoeners. Die karakters is vervleg in ’n tapisserie van geweld en sielkundige afwykings. Die hoofkarakter se liefdeslewe is nogal aktief, al het hy by die dood omgedraai.

Die beheptheid met skoonheid en voorkoms, uitbuiting van en geweld teenoor vroue is tersaaklik, veral deesdae, wanneer dit so duidelik en openlik betreur word. Veral jong, onvolwasse meisies is weerloos en uitgelewer aan misbruik. Die skrywer het sy onderwerp goed gekies. Tog voel dit asof hy soms ’n bietjie te veel water trap, en hier en daar nie geloofwaardig genoeg is nie.

Dit is boeiende misdaadfiksie wat skok en verras. Tog is die slot nie heeltemal bevredigend nie. Dit voel geforseer, maar dit kelder darem nie die verhaal nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top