Uit Afrika

  • 1

Almal op aarde is migrante, ons voorsate het regoor die planeet getrek, oorleef en weer getrek. En wanneer jy regtig ernstig dink oor tyd, en die mensdom – al die beskawings voor ons – wonder jy of enige stukkie grond aan iemand behoort, en waar jy hoort, vra Elsabé Brits.

Waar kom jou voorsate vandaan? Waar was hulle blyplek? En wié was hulle – want ’n familienaam trek ook maar skeef na een kant toe. Wanneer jy voorvaders naspoor moet jy die voormoeders ook in die argiewe uitsnuffel. Tot op ’n punt kry jy inligting, maar hoeveel weet jy van die mense wie se bloed ook deur jou are bruis?

Derduisende mense verlaat glo Suid-Afrika om hulle heil elders te gaan soek. Maar waar is ons tuiste regtig? Het ander mense voor ons nie ook maar presies dieselfde gedoen nie – aanhoudend migreer? En weer migreer. Is ’n plek soos Nederland, Duitsland of Frankryk jou tuiste as jy jou gene dalk nie eens meer heeltemal kan identifiseer nie?

Die eerste genoomwye studie van wit Afrikaners se resulate het in Februarie gewys hulle het merkbare genetiese bydraes van Suid- en Oos-Asië, Khoi-San, en ’n bietjie van elders van Afrika.

Die spore van ’n slawerny-nalatenskap loop ook deur die Afrikaner se stamboom. In sy gene sit die mense van die destydse Java van Batavië; die Koromandelkus van Indië met plekke soos Bengale en Galle, die kus van Malabar, Soematra en die jagter-versamelaars van Afrika.

Die Europese bydrae tot die genetika was gemiddeld 95,2% – met die meeste mense wat hulle herkoms aan Nederland (34%–37%), Duitsland (27%–34%) en Frankryk (13%–26%) kan toeskryf.

Die res van die wit Afrikaner se genetika van 4,8% is afkomsting van: Khoi-San, Wes-Afrika, Indië, Indonesië, Maleisië, Japan, Borneo en die Filippyne. Dit is so verdeel: Khoi-San (1,3%), Suid-Asië (1,7%), Oos-Asië (0,9%) en Wes-Afrika (0,8%). Die grootste gedeelte is van slaweherkoms – met die totaal op 3,4%.

Die genetika van die Afrikaner loop dus min of meer op die spoor van die Oos-Indiese Kompanjie se slawehandel, en kontak met die Khoi-San. Net ses van die 77 mans, wat aan die studie deelgeneem het, het nie ’n Khoi-San-voorsaat gehad nie. Die resultate was merkwaardig; net een van die mans het nie sigbare genetiese vermenging getoon nie. Die res het 11 tot 13 generasies gelede – dit is ook hoe oud die Afrikanerbevolking is – dié diversiteit in hulle genepoel begin kry. Dit toetse strek dus ver terug.

Wat ons wel met sekerheid kan sê, is dat almal op aarde eintlik eens van Afrika was. Dit ís die Wieg van die Mensdom. Die eerste golf van migrasie uit Afrika was sowat twee miljoen jaar gelede toe Homo erectus die vasteland verlaat het.

Daarna het die voorsate van Neanderdalmense tussen 800 000 en 600 000 jaar gelede uit Afrika migreer. Die derde groep was Homo sapiens, met van die oudste fossiele wat in Israel gevind is, tussen 130 000 en 150 000 jaar gelede. Mense het Asië, Australië en heel laaste Amerika – oor die Beringseestraat – bevolk. Homo sapiens self het 300 000 jaar gelede oor die hele Afrika versprei – lank voordat die spesie nog uit Afrika beweeg het.

Die moderne mens het amper nie oorleef nie; kenners reken daar was so min as 10 000 mense (Homo sapiens) op een stadium, sowat 160 000 jaar gelede. Ander meen daar kon selfs minder gewees het. Ons is deur ’n genetiese bottelnek, want dit wys op die genetiese merkers.

Opgrawings wat al meer as tien jaar lank gedoen word by die grotte in Pinnacle Point, Mosselbaai, wys dat mense van 90 000 jaar gelede tot 50 000 jaar gelede aaneenlopend hier gebly en die effek van ’n supervulkaan oorleef het. Foto: Curtis Marean/ASU Institute of Human Origins

Een van die plekke waar mense binne Afrika oorleef het, was by Pinnacle Point by Mosselbaai, waar die seevlak destyds tot 90 km van die huidige kuslyn teruggetrek het. Dit is hier in Suid-Afrika waar dié klein groepies mense oorleef het, by Pinnacle Point, by Blombos in die Suid-Kaap, 300 km oos van Kaapstad, asook by die Klasiesriviergrotte in Tsitsikamma.

’n Mikroskopiese klein stukkie glas van ’n vulkaniese uitbarsting 74 000 jaar gelede wat in ’n grot in Vleesbaai gevind is, 9000 km ver van die vulkaan. Foto: Rachael Johnson

En toe, op ’n dag 74 000 jaar gelede, het dié mense by Pinnacle Point en nog ’n terrein in Vleesbaai, weer ’n groot oorlewingsuitdaging in die gesig gestaar. ’n Supervulkaan van die berg Tobo in die hedendaagse Indonesië het uitgebars en groot dele van die aarde in donkerte gehul.

Dit sou ’n wêreldwye katastrofe gewees het. Groot soogdiere sou baie maer geword en gevrek het, en min vet aan die roofdiere en mense kon voorsien. Plantegroei sou nie genoeg sonlig kon kry nie – die beraming is ’n vermindering in lig tussen 25% en 90% – afhangend van waar jy op aarde was.

Die mense hier aan die kus in Suid-Afrika het oorleef danksy die seekos wat hulle geëet het. Dit kan in die neerslae in die grotte gesien word. Stukkies glas van dié vulkaan is gevind op die terreine hier, wat deur die wind tot hier gedra is. Die invloed van die vulkaan sou dekades geduur het. Maar die sedimente vertel ’n verhaal van oorlewing.

Van die fyn lemmetjies wat deur mense gemaak is en gevind is by Pinnacle Point naby Mosselbaai. Foto: Simen Oestmo/ASU Institute of Human Origins

Dit is ons voorsate, mense wat hier was. Evolusie en aanpassing is gedryf deur klimaatsverandering en -gebeure.

Lê jou voorsate of geskiedenis in die gragte van Amsterdam? Die VOC het dalk hier anker neergegooi en die grondslag vir Afrikaans gelê, maar ons genetika in die land is ’n karmenaadjie. Of hunker jy na ’n geromantiseerde weergawe van ’n handvol Britse en Franse setlaars?

Is jou familienaam werklik Hollands? Is dit nie dalk Duits nie? Hier het 4000 Duitsers, meestal mans, gedurende die Hollandse tydperk in Suid-Afrika aangekom. Dit is baie vir ’n klein nedersetting. Of is jou agter-agter-oumagrootjie dalk ’n vrou van Suidoos-Asië? Of ’n Khoi?

Dit hang seker af hoe ver terug in die tyd jy wil dink. Want uiteindelik is ons almal ’n bietjie van mekaar en van Afrika.

 ’n Mens moet dit seker vir jouself sién, om dit regtig te waardeer. Die aarde vanuit die ruimte.

Blou, wit, groen en bruin in die dag en snags die liggies van ons besoedeling, die spore van tegnologie. Ruimtevaarders sal jou vertel, en hulle is nie emosionele mense nie, wanneer jy die Aarde vanuit die ruimte sien, besef jy hoe mensgemaakte grense eintlik geen waarde het nie, asook dat dit één blyplek is, vir almal en alles daarop.

So, van waar is jy, Gehasie?

Bronne: Nature:  https://www.nature.com/articles/nature25967; https://www.biorxiv.org/content/10.1101/542761v1

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Vlakvark van Genealogiehoogte

    Geagte Me. Brits,

    Soos altyd, baie dankie ook vir hierdie netjiese stuk skryfwerk gepak met pitkos vir nadenke. Ook vir die fokus op die opgrawings te Mosselbaai.

    Die vraag ontstaan by my: "Wie het wie se gronde in Suid-Afrika 'gesteel'?" Wie is die mens om koloniale grense en visumstelsels en immigrasiebeheer in te stel? Behoort elke mens nie die inherente reg te hê om sy dienste en produkte enige plek ter wêreld aan te bied ter oorlewing op 'n eerbare manier nie? Is ons nie almal eintlik een groot familie nie? Amen.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top