Titel: Tyd om te skaats
Skrywer: Jacolet van den Berg
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780639601984
Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.
Sy is vas tussen die boom se blare waar sy soms vir haar lewe wegkruip en per ongeluk vir Lua, die coolste meisie wat sy ken, afloer. Sy is vas tussen die soet geure van haar ma se koekskeppings en haar uitgewaste jeans. Vas deur haar pa se rugbesering terwyl hy plastiek-warlord speel en die wêreld vanuit sy studeerkamer probeer red. Vas in haar onvermoë om haarself te laat geld.
Sy is moeg vir wegkruip, moeg om die enigste agter-die-klip-tiener te wees en te vries wanneer sy moet vlieg.
Tot Lua onverwags vir Hannah ʼn paar ou rolskaatse gee en haar help om kelnerin by die akwarium se koffiewinkel te word. Hannah kom voor ʼn keuse te staan: Veg, vlug of vries? Sy kies! Sy kyk video’s oor hoe om bo te bly, want skaats gaan sy skaats. Die De Lange-broers kruis haar pad. Leo leer haar skaats, Ben wys haar die dolfyne en Hannah se vlerke kry vere. Sy vlieg, en wanneer sy land ... land sy op wiele![1]
Inleiding en fokus
Uit die staanspoor wil ek meld dat ek in hierdie dokument my persoonlike en professionele indrukke as lesergerigte kritiese leser bied. Gesien in die lig daarvan dat ek vir baie jare onderwysstudente wat gekies het om Afrikaans as vak te onderrig, opgelei het om voorbeelde van jeugletterkunde te kies en krities en kreatief te onderrig, het ek toenemend die behoefte gehad het om kriteria vir die onderrig van jeugletterkunde saam te stel. Mettertyd het ek ook ’n aanlyn leesjoernaal ontwerp waaraan hierdie onderwysstudente interaktief kon deelneem met betrekking tot die responsbenadering tot die onderrig van letterkunde (Resepsie-estetika).[2] Genoemde kriteria het in die proses ontwikkel om elemente te behels wat te make het met die bedoelde leser, die teks en die skrywer as deel van die letterkundige kommunikasieproses. Dit is dus my fokus in hierdie skrywe.
Tyd om te skaats het my ’n kritiese lees- en boekbesprekingsproses gebied wat vir my ’n groot voorreg en uitdaging was. ’n Voorreg omdat dit uitstekend is en ek baie min kritiek het. Ek is seker dat die adolessente leser deur die lees van hierdie jeugroman ’n liefde vir die boek en lees kan aankweek en dat die skrywer ’n (aktiewe) aandeel daaraan het. Dit was ook ’n uitdaging omdat die verhaal definitiewe literêre waarde het en selfs voorgeskryf sou kon word. Hierdie skrywe kan selfs onderwysers bemagtig – uiteraard het ek genoop gevoel om hieroor meer te kommunikeer en met eindnotas meer inligting te verskaf. Omdat die verhaal baie slim geskryf is, wil ek die skrywer salueer deur dit so deeglik as moontlik te bespreek.
Die skrywer
Jacolet van den Berg het in Bloemfontein grootgeword. Ná ’n draai in Johannesburg het sy en haar gesin in die Paarl nesgeskop waar sy, haar man en drie seuntjies saam met hul uitgebreide dierefamilie op ’n pragtige Bolandse plaas woon. Met drie besige seuns gebeur alles in haar lewe deeltyds – selfs om te slaap! Tyd vir skryf is telkens tot die middernagtelike ure beperk.
Vorige boeke en liefdesverhale van haar sluit die volgende in:
- Lied in jou hart (Romanza-boek en e-boek)
- Die geheime lewe van Gita (gewone en e-boek)
- Lente in ’n bottel (Romanza-boek en e-boek)
- “Soos hout en konfetti” in Strooisuikerliefde (Romanza-bundel met liefdesverhale)
Die teks
Tyd om te skaats is een van die boeke wat in die kortlys van LAPA se jeugromankompetisie van einde 2019 was. Alhoewel hierdie verhaal tipies is van romantiese fiksie – waaronder chicklit en Romanza-stories ressorteer – waar romantiese liefde een van die hooftemas is met ’n manlike en vroulike karakter wat mekaar heel vroeg in die verhaal leer ken en saam probleme teëkom en oorwin, is dit blykbaar die skrywer se eerste jeugroman. Tyd om te skaats kan saam met ’n menigte novelles in die chicklit-genre[3] (deur vroueskrywers soos Chanette Paul, Wilna Adriaanse, Kristel Loots en die Romanza-boeke in die laaste paar dekades in Afrikaanse ligte liefdesverhale) in dieselfde asem genoem word.
Die ekologiese of natuurtema in Tyd om te skaats maak dat dit ook netjies op dieselfde rak as jeug- en kinderliteratuur soos Kringe in ’n bos (Dalene Matthee), ’n Tuiste vir Bitis, Ken jy die Kierangbos, Swiera van die Waterkant, As jy kan fluit op hierdie maat (Freda Linde), Arboreta, die heks met die groen hare (Riana Scheepers) en Betower (Fanie Viljoen) kan staan.
As ingeligte leser bied ek hier my indrukke as ’n narratiewe interpretasie[4] wat onderwysers en jeugdige leerders kan begelei om narratiewe in literêre tekste te verstaan. Ek beweeg van algemene kriteria wat te make het met die eksterne waarde van jeugletterkunde as subgenre van literêre tekste na spesifieke interne teks- en literêre stylmiddele wat die betrokke jeugverhaal se genetwerkte fiktiewe wêreld ondersteun.
Lesergerigtheid
Om my as leser te lei om te bepaal of die jeugverhaal lesergerig is, koppel ek my indrukke aan die funksies van die jeugliteratuur-genre as onderafdeling van literêre werke.[5]
Eerstens kyk ek of die verhaal bydra tot die leser se psigologiese groei; daarna beskou ek die maatskaplike omgewing en sosiale verhoudings, en ook of dit kan lei tot uitbreiding van lesers se ervaringswerklikheid en nuwe inligting oordra. Uiteindelik is dit ook vir my belangrik om te bepaal of die verhaal ’n bydrae tot die multikulturele geletterdheid van die leser lewer.
Ten opsigte van die psigologiese funksie vind ek dit belangrik om ondersoek in te stel na die identifikasieproses waardeur die leser insig in haar eie gevoels- en ervaringswêreld verwerf. In hierdie verband is die verhaal beslis toepaslik vir die teikengroep van jeugdiges aan die einde van hulle skoolloopbaan. Die hoofkarakter (Hannah Verwey) skryf haar graad 11-eksamen en haar vriende Thadi Dindi en Emma is in dieselfde graad; Lua en Cleo is in graad 12, en al vyf is in Berea Hoërskool. Ben is Cleo se ouer broer. Die bedoelde lesers sal hiermee kan identifiseer, omdat hulle ervarings, behoeftes en belangstellings ooreenkom met dié van hierdie karakters en die ruimtelike beelding. Al die karakters wat in Morningside en Berea in Durban woon, is op een of ander manier betrokke by die akwarium, ’n koffiewinkel en (veral) die ekologiese aspekte van die omgewing.
Die karakters se belangstellings word meestal genoem en dit is elemente waarmee adolessente lesers sal kan identifiseer – dit kan deur die lees van die jeugverhaal hul verwagtingshorisonne uitbrei en hul verbeelding ontwikkel, omdat hulle in die fiktiewe teks meer inligting hieroor en deernis daarvoor kan vind. Voorbeelde hiervan is Hannah se ma (Nita) se kreatiewe koekversierings; Hanna en haar pa (Albert) wat skaak speel; Thadi wat artikels vir die skoolkoerant skryf en die redakteur aldaar is; Emma wat swak vaar in wiskunde, maar besig is met ’n kunsprojek; Lua en Cleo wat met rolskaatse by Ronny in sy koffiewinkel werk; Ben en Hannah wat met fietse na die strand ry; Hannah wat blootgestel word aan dolfyne by die akwarium waar Ben werk; Hannah wat uiteindelik saam met Ben en haar pa, en ook haar vriendinne en Kholwa, ’n herwinningstaptog by die strand organiseer om plastiekbesoedeling te bekamp.
Omdat die jeugdige gedurig met haarself besig is, neig sy tot selfkritiek, veral van haar eie uiterlike voorkoms. Dit word in Tyd om te skaats gemanifesteer in Hannah se siening van haarself: dat sy Hanna boomsitter is wat geneig is om te vlug of vries in plaas van veg – sy kruip aan die begin van die verhaal weg in haar huis in die witstinkhoutboom en in ’n terugflits besef sy daar “is sy nie deel van hierdie simpel gesukkel nie” (120). Aanvanklik – wanneer sy nie selfvertroue het nie – dra sy haar hare in ’n vervelige poniestert, maar soos wat sy innerlik groei, is dit ook vir haar makliker om haar hare droog te blaas en te besluit om dit los te dra. Dan voel haar hare “vreemd lig, so los oor haar skouers” (90). Haar toenemende selfaanvaarding bring begrip vir haarself en haar optrede – sy ontwikkel tot volwassenheid. Uiteindelik dink sy aan haarself as “Hannah-in-die-boom en [saam met Ben] Hanna-vry-op-die-strand” (135). Ook toon sy empatie met Felix die dolfyn, en sy kry ’n knop in haar keel as sy sien hoe swaar hy kry. Voortdurend sal lesers dit regkry om in Hannah se skoene te staan, en sodoende kan hulle empatie gewek word vir haar ouers, haar vriende, en ook die omgewing en besoedeling deur plastiek.
’n Ander kenmerk van die jeugfase is die tiener se rebelsheid. Sy word nie meer opgevoed deur woorde, verwagtings en regulasies alleen nie, maar is veral in opstand teen die mense in haar omgewing se voorbeeld. Maniere waarop Hannah haar verset, is haar eie wil en optrede teenoor haar ma se reël om nie alleen saans na donker in die straat te wees nie, waarvoor sy dan vir drie weke gehok word. Die gebruik van tienersleng[6] kan dalk ook gesien word as ’n verdere subtiele vorm van die hoofkarakter en haar vriende se rebelsheid.
In die adolessente fase ontwaak daar ’n verlange en behoefte na geesgenote. Omdat hierdie verlange dikwels idealisties is, word jongmense dikwels ontnugter (teleurgestel) in hulle vriendskappe, soos telkens blyk uit Hannah se aanhoor van Lua se waarskuwing dat Ben nie in meisies belangstel nie, want “net die dolfyne en sy studieplanne is vir hom belangrik” (139). Sy verlang om nader aan hom te kom soos wat hy haar pa se geesgenoot is en belangstellend uitvra oor sy kennis van plastiek en die oseane. Uiteindelik is dit dan haar vriendskap met Ben wat groei soos wat hulle meer saam doen – hy nooi haar vir tennis, vra haar om saam op die strand te stap, en hulle ry soontoe met hulle fietse. Hy vertel haar hoe hy in die akwarium begin werk het; sy sien dat hy die mooiste blou oë het. Saam met haar beplan hy aan die strandherwinningsessie en sê vir haar: “Jy is die interessantste meisie wat ek ken” (138). Haar hart spring telkens as Ben die los hare agter haar oor indruk, en aan die einde vat hy haar hand toe hy haar begelei om saam met Emily die dolfyn te swem.
Wat betref die maatskaplike funksie van jeugliteratuur – waar ek ondersoek instel na die mate waarin die tersaaklike jeugliterêre teks die leser begelei in terme van sosiale verhoudings en maatskaplike kwessies – word die leser in Tyd om te skaats bekendgestel aan heelwat volwassenes in Hannah se lewe. Behalwe haar ma en pa, is daar ook Ben en Leo se pa en ma (veeartse), die onderwysers, Ronny (vroeër stunt man met blades vir films, nou die bestuurder van Cakes & Blades), Kholwa die bestuurder van die akwarium, en El (Elizabeth), die rooikopvrou by die akwarium. Hannah se pa is semiverlam as gevolg van sy rugbesering en kan net met ’n loopraam loop. Hy is obsessief oor herwinning – Hannah noem hom ’n “plastiek-warlord” (57) en meen dat hy “plastiekbedinges” is (116). Haar pa se belangstelling daarin het gestalte gekry aan die einde van sy diensplig in die vloot, waar hy besorg opgemerk het hoe plastiek die oseane se ekologie vernietig.
Verder maak die leser kennis met die samelewing se vooroordele, gedragspatrone, waardes en norme – veral in terme van verskillende geslagte, beroepe, ryk en arm. Deur Hannah se lewe word die leser bygestaan in die proses van aanpassing en leer watter rolle sy in die samelewing moet en kan speel. Spesifiek kan verwys word na ontluikende tienerseksualiteit in die vorm van verliefdheid (tussen Hannah en Ben, Leo en Lua). Ook beleef die leser hoe Hannah volwaardig haar plek aktief in die samelewing inneem deur die herwinningstaptog op die strand en nie meer wegkruip in haar boom nie. Só vind kultuuroordrag plaas en die leser kan deur identifikasie met Hannah haar eie vryheid, regte en verpligtings leer ken.
Laasgenoemde hang ook saam die ontwikkeling van (inter-/multi-)kulturele geletterdheid en kontekstuele oriëntasie, veral in ’n diverse maatskaplike landskap en ’n besoedelde en ekologies bedreigde land soos Suid-Afrika. Tyd om te skaats voldoen as kulturele uiting van jeugliteratuur wel aan die kriteria/vereistes vir kulturele geletterheid.
Die uitbeelding van karakters vanuit ’n multikulturele wêreld vind gestalte in Thadi en Kholwa as karakters – hulle word gebalanseerd uitgebeeld en dit bied ’n menswaardige beeld van ander kultuurgroepe. Verder is die taalgebruik werklikheidsgetrou en nie kunsmatig of vol stereotiepe dialek (van anderstaliges) nie. Hannah groet die ontvangsdame by Leo en Ben se ma se veeartspraktyk en vir Kholwa in Zoeloe en sy is bly dat sy die taal op skool aanleer. Die tieners gebruik dikwels sleng[7] wat deesdae in jeugletterkundige (en selfs ander literêre) werke aanvaarbaar is.
Deel van kulturele geletterdheid behels dat die jeugverhaal aandag behoort te gee aan kontekstuele en omgewingskwessies. In Tyd om te skaats word dit gemanifesteer in Hannah se kontekstuele oriëntasie, waarmee sy bydra tot die oplossing van hulle finansiële situasie en betrokke raak by ’n omgewingskwessie met kennis wat sy amper op haar pa se knie leer ken het;
As ’n mens kyk na die informatiewe (intellektuele) funksie, blyk dit duidelik dat Hannah se verhouding met haarself, haar vriende, haar ouers en hulle almal se belangstellings en dienooreenkomstige optredes die hooftemas is – sy leer algaande om met rolskaatse te ry, die spyskaart wat sy moet memoriseer by Cakes & Blades, hoe om boek te hou van haar kliënte se betalings en haar fooitjies, oor die werk van Leo en Ben se ouers wat veeartse is; sy kry inligting oor dolfyne soos wat Ben met haar daaroor gesels en ervaar dit om saam met Emily (die dolfyn) te swem.
Verder dra die lees van jeugliteratuur ook spesifiek by tot taalverwerwing – in Tyd om te skaats is die leser bewus van verskillende soorte taalgebruik, en kognitiewe ontwikkeling vind in die algemeen plaas. By die lees van hierdie jeugverhaal is die leser bewus van verskillende spesifieke voorbeelde van tienersleng, die informele niestandaardvariante wat deur tieners gebruik word, alhoewel sleng nie net tot tieners beperk is nie.
Die adolessente leser se analitiese denke kan geoefen word omdat die lees van so ’n ongewone teks haar stimuleer om te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, siekte en dood (al is dit van ’n dolfyn), die optrede van verskillende karakters (sowel Hannah se vriende en Ben as ’n ander jong volwassene, ook die volwassenes in haar lewe – haar ma en pa, Ronny, Kholwa). Ook kan die leser se verbeelding aangewakker word deur die proses waarin sy haar inleef in die lewens van ander, asook die erkenning van motiewe (lewe, siekte, dood, finansies, besoedeling, die boom, strand, kat en dolfyne), die bekende en die onbekende omgewing en gebeure.
Jeugletterkunde het ook ’n estetiese funksie – dit kan die ander funksies transformeer deur ’n ewewig te skep en moralisering voorkom. Dit gebeur hier wanneer die tienerleser se aandag op die teks self gevestig word - die genre, narratiewe lyn, fokaliseerder, milieu, intrige en spanning wat geskep word – wat ek in die volgende afdeling onder die loep sal neem. Op hierdie manier word die tienerleser se verbeelding gestimuleer en só raak die leser bewus van die kreatiewe krag van taal. Voorbeelde hiervan is die volgende, waar Hannah se vergelykings en metafore verfrissend (nie clichés nie) is:
– As haar ma die klitser beetkry en begin klop, “sit sy enige gimnasiumbaba ore aan” (7).
– Gemmer (die kat) het “hoeka al een van die nege [lewensdraadjies] verloor” (19).
– Leo laat haar dink aan ’n “blikkie Coke wat uit bruis na dit geskud is. Vol energie en borrels” (40).
– Thadi se lewe is so ongekompliseerd en daar “hang nie ’n koek in ’n plastieksak bo haar kop nie” (95).
– Dit voel vir haar “of haar bloed in ysstukkies verander” (115).
– Maar “ineens is dit asof ’n stuk plastiek van haar brein gelig word en sy ’n oomblik van helderheid kry” (116).
– Sy is “boomsitter-Hannah en het ’n treehugger-pa en ’n koekbakker-ma” (131).
Wanneer daar na bogenoemde funksies van jeugletterkunde (as tekseksterne faktore) gekyk word, slaag hierdie boek uitstekend as jeugletterkundige teks.
Vervolgens sal ek aandag gee aan die literêre (teksinterne) elemente van die jeugnovelle en my persoonlike indrukke daarvan bied soos dit in die verhaal manifesteer.
Literêre teksgehalte
Intrige, konflik en spanning
Die verhaal handel oor Hannah se probleem oor finansies agv haar pa Albert, wat by die munisipaliteit gewerk het, se ongeluk met sy trok en dat hy nie meer ’n salaris kry nie en ook finansieel bedrieg is deur sy vennoot Sam, en haar ma nou versierde koeke moet bak om aan die lewe te bly. Daarteenoor is Hannah se nuwe vriende, Cleo en Ben, se ma en pa beide veeartse, Thadi se ma onderwyseres en haar pa ’n advokaat – almal is dus welvarend. Lua woon langs Hannah-hulle en sy bestuur haar ma se Rav – hulle woon in ’n dubbelverdiepinghuis en is dus ook ryk. Hierdie kontraste dra by tot die toenemende konflik en spanning in die verhaal.
Verder gaan dit ook oor Hannah se groei in belangstellings en vaardighede, haar vlerke wat ontwikkel wanneer sy saam met Lua en Leo by die koffiewinkel werk, ook op YouTube leer om roller blades te ry en om kelnerin te wees. Sy ontwikkel belangstelling in dolfyne en wil graag daar werk, en uiteindelik kry sy werk by die viskombuis by die akwarium. Nog ’n deel van die verhaal wat spanning skep, is die geheimsinnigheid rondom Jana se ongeluk en die ongemaklikheid tussen Lua en Ben daaroor.
Die basiese konflik van die verhaal vind ons soos wat ons as lesers vir Hannah, haar ma en pa en haar vriende leer ken. Hier maak ons veral kennis met die protagonis (Hannah, en saam met haar ook Ben), en dit is omgewingsbesoedeling en finansiële oorlewing wat die plek van ’n ruimtelike antagonis inneem. Die hoofkarakter is dus in konflik met die probleme in die omgewing en haar gesin se finansies. Hierdie konflik in die verhaal word geïntensiveer deur die feit dat beide te make het met tipiese rusies tussen meisies (Hannah en Lua, Hannah wat amper vervreemd raak van Thadi en Emma), en ook dat almal fone het behalwe Hannah. Aanvanklik het ek gedink dat Lua dalk ’n antagonis is omdat Hannah in die boom wegkruip en sy dink dat Lua nie van haar hou nie; tog help Lua haar om werk by die koffiewinkel te kry en leen sy haar ou roller blades vir Hannah. Ten spyte van ’n paar onderonsies het Hannah en Lea uiteindelik ’n vriendelike gesprek en Lua sê dat almal dit geniet om saam met Hannah te werk. Lua is dus nie ’n antagonis nie.
Die spanning is skitterend geskep deur die konflik in die verhaal wat intens gelaai is met emosies en waardes. Elemente van fisieke en emosionele spanning vind plaas wanneer gebeure veroorsaak dat Hannah aanvanklik nie haar eie oordeel kan vertrou nie, omdat sy in haar boom wegkruip van hierdie simpel gesukkel met geld. Tog volg sy toenemend haar intuïsie (om die omgewing te wil help skoonmaak en met dolfyne te werk) en haar eie waarheid nastreef wat lei tot die ontdekking van haar identiteit wanneer Ben organiseer dat sy by die akwarium kan werk en so Hannah se droom voltooi. “Sy draai om, kyk na die akwarium en hoor die geruis van die see. Sy asem diep in. Haar vlerke sprei weer, die wind gaan haar baie hoog lig” (194).
Daar is beide ’n emosionele en ’n fisiese klimaks in Tyd om te skaats. Die emosionele klimaks is wanneer Hannah by Ronny hoor dat sy nie sy verder by die koffiewinkel sal kan werk as Jana terugkom nie en haar “hart is gebreek” (173). Die fisiese klimaks vind plaas met die fisiese beplanning en uitvoering van Hannah se inisiatief om die strand skoon te maak saam met belangstellendes. Hierdie verhaalmoment is tegelyk ook die krisis, waar daar ’n keerpunt kom en dit die begin van oplossings vir Hanna is.
Die intrigelyne is tipies van die Aspoestertjie-plot – die verhaal begin op ’n laagtepunt met Hannah wat in die boom wegkruip, en styg tot ’n hoogtepunt: Sy kry werk by die koffiewinkel; “Die rollerblades pas haar perfek en sy verbeel haar dis hoe Aspoester gevoel het toe die glas skoen haar pas” (25), en haar lewe voel soos ’n sprokie. Dit val soms weer tot nuwe laagtepunte (haar pa val en beland in die hospitaal, sy verloor die werk omdat Jana terugkom), totdat dit weer styg tot ’n hoogtepunte met die herwinningsessie op die strand en wanneer Ben haar help dat sy saam met Emily die dolfyn kan swem, ’n nuwe werksaanbod het, verhoudings wat herstel en gegroei het.
Die sintaksis en dialoog (sowel as die interne gedagtegang van Hannah) in die teks word benut om die konflik te beklemtoon. Die dialoog is oral funksioneel en outentiek aangebied om by die onderskeie karakters te pas.
Karakterbeelding
Omdat ek in vorige afdelings gefokus het op die lesergerigtheid van die verhaal en ook elemente van die karakterbeelding aangeraak het, kyk ek hier meer spesifiek na ander algemene aspekte van die karakters.
Die karakters is gebalanseerd en het gelyke waarde – die verhaal bevat ‘ n oorvloed van uiteenlopende karakters, van verskillende maatskaplike agtergronde en geslagte (mbt ouderdom en seksualiteit). Elkeen van die karakters is goed uitgebeeld met meer en minder aangename lewens en uiteenlopende persoonlikhede. Alhoewel daar duidelike hoofkarakters en newekarakters is, is daar nie oorheersende stereotipes nie. Selfs daar waar ’n mens stereotipie verwag, word die stereotipe telkens deurbreek (soos met Lua wat lyk of sy alles kan regkry en die leser saam met Hannah agterkom dat daar ’n skaduwee van skuld oor Jana se ongeluk is). Ook waar El (Elizabeth) wat by die akwarium werk en blykbaar nie sommer reëls oortree nie (dus effens rigied is), vir Hannah bring om Felix die dolfyn te ontmoet.
Ruimtebeelding
Dit gaan in ’n jeugverhaal daarom dat die "vertel" van die lewenstorie gebeur, die transformasie van die inligting van ’n lewe in die vorm van ’n narratief: die skep van ’n narratiewe identiteit, ’n fiktiewe wêreld, al sou dit op die werklikheid gegrond wees. Die ruimte van die roman is per definisie ’n fiktiewe ruimte, al sou dit direk verwys na ’n lokaliteit wat in die werklikheid net so bestaan.
Tolkien[8] onderskei tussen die sekondêre wêreld van die verbeelding en fiksie en die gegewe realiteit wat hy die primêre wêreld noem. Alhoewel die sekondêre wêreld van die skrywer en die leser in Tyd om te skaats dieselfde aard het, is hulle nooit identies nie.
Epiese ruimte is ’n gepersonaliseerde ruimte, dus Tolkien se sekondêre wêreld. Plekke en objekte bestaan in Tyd om te skaats nie ter wille van hulleself nie, maar ter wille van die betekenis wat dit vir die karakters het. Plekke van handeling en die ruimtelike kenmerke daarvan vorm daarom epiese speelruimtes of belangeruimtes eerder as dat dit na blote lokaliteit verwys. Onder epiese ruimte kan ons, ter wille van die bespreking, praat van die fiktiewe plek (Durban) in hierdie jeugnovelle waarbinne die handelinge van die karakters op ’n bepaalde tyd gebeur.
Die epiese ruimte moet onderskei word van die werklike ruimte (primêre wêreld) waarop die fiktiewe ruimte gebaseer is. Daar is in hierdie novelle epiese ruimtes, met talle verwysings na werklike plekke in Morningside en Berea (Durban) wat met die karakters en gebeure te make het: die akwarium, koffiewinkel, skool en huise van Hannah en Emma (ook die nuwe huis nadat haar ma hertrou het), die veeartspraktyk van Ben en Leo se ouers. Dit kom ook voor in verband met die vriende (behalwe Hannah) wat text gebruik en vir mekaar WhatsApp-boodskappe stuur. Verder word daar baie melding gemaak van organisasies en besighede wat oor herwinning handel (Greenpeace, Natal Bottle Solutions, Florida Keys in Amerika) en Hannah se pa se National Geographic-tydskrif.
Ek het baie waardering vir die uitbeelding van oop en geslote ruimtes wat naas mekaar gestel word.[9] Inkluistering (“entrapment”) dui op fisiese of morele gevangenskap – soos wat dit uitgebeeld word in die boom waar Hannah wegkruip (sy voel soos ’n vasgekeerde apie); so ook haar pa wat eers aan sy loopraam en later die hospitaalbed gekluister is; die hospitaalgange wat koud is en die weerklank wat haar laat gril – “Die plek druk haar vas” (124); haar ma wat ’n “vasgekeerde skeppende wese” is – ’n “genie in ’n bottel” (113). Dit alles beperk fisiese, psigiese of sosiale beweegruimte vir genoemde karakters en skep spanning.
Narratief en intertekstualiteit (teks, subteks en metateks)
Tyd om te skaats kan gesien word as ’n jeugnovelle, veral omdat dit oorgangsliteratuur is.[10] In hierdie novelle is dit veral die werk wat Hannah by die koffiewinkel kry wat ’n ongewone gebeurtenis is (volgens Hannah se siening oor wat haar “simpel” lewe behels).
Ek is onseker of daar ’n subteks is, wat gewoonlik gevind word aan die begin van die verhaal. Aan die begin van Tyd om te skaats is ’n inskrywing, “Esra. Onbegrensd”, wat ek nie in terme van die teks kon uitmaak nie. Wat Google vir my wys, laat dalk die betekenis uitkom: Die naam Esra beteken “helper”, ” “travel at night” en “meer” of “vinnig”.
Daar is wel deeglik een parateks waarmee die skrywer die teks aan die leser medieer, dus ’n uitbreiding van die primêre teks wat bydra tot betekenisvorming.[11] Dit is naamlik waar die skrywer aan die einde van die verhaal (as ’n soort epiloog sonder om dit so te noem) nuttige inligting en verwysingsbronne verskaf oor die besoedelende en vernietigende effek van plastiek. Ook is daar baie bronne ook oor die werk met en eienskappe van dolfyne. Verder is daar dankerkennings vir hulp en inspirasie. Al hierdie notas word verskaf onder die opskrifte “Skrywersnota” en “Bronnelys” (195–9).
Ek wil die uitgewer gelukwens met die visuele wyse waarop die vertelling aangebied is. Op die voorblad speel die illustreerder (Linki Brand) met kleure van liggroen en effens donker seegroen (beide simbolies van groei), pienk tussenin en rolskaatse wat tasbaar glinster en gloei, dan ook helder pienk op die agterblad. Die titel is in skerp kontras, met wit letters in tienerhandskrif. Verder laat dit die leser vermoed dat hier sprake gaan wees van die bene van ’n meisie “wat lyk asof sy ʼn hoenderdans doen” (26). Ook is die kern van die storie in wit letters op die pienk aan die agterkant: “Sy vlieg en wanneer sy land ... land sy op wiele!”
Verteller en fokalisering
In Tyd om te skaats is ’n element van interne karaktergebonde fokalisasie as die eerstepersoonsverteller se fokalisering wissel van Hannah na die newekarakters (en ook vanuit Hannah se oogpunt) en dit die leser ’n goeie beeld gee van die oorsake van die konflik tussen die verskillende karakters.
Ten opsigte van die karakterisering kan gemeld word dat die fokalisering nie ekstern is omdat dit ’n derdepersoonsverteller is nie; dit is intern omdat daar van vrye indirekte rede gebruikgemaak is, omdat dit dinamies (deur Hannah se fokus) beweeg tussen karakters (Hannah, haar ma en pa en vriende) en dinamies verskuif van buite (gebeure) na binne Hannah se eie gedagte- en gevoelslewe.
Wanneer die fasette van ruimtelike fokalisering in ag geneem word, is dit duidelik dat die perseptuele (sintuiglike) faset veral aan die orde kom wanneer die ruimte of atmosfeer uitgebeeld word. Hannah se ervaring van die ruimte versterk dikwels die fokalisering van haar gemoedstoestand of situasie, terwyl haar waarneming van ander karakters en die ruimte dien as beklemtoning van haar verwarring en konflik oor watter waardes sy in haarself kan integreer om sodoende haar identiteit te bevestig. Dit het my laat voel dat ek ook daar is – ’n mens kan saam met haar hoor, sien, ruik, voel. Voorbeelde van Hannah se sintuiglike gewaarwordings is die volgende:
- Hannah sien toenemend haar ma as ’n kunstenaar, ’n raakvatter. “Dit lyk behoorlik of sy met fladderende hande voor die koek dans” (113).
- In die hospitaal gee die “ligte, die reuk en personeel wat heen en weer skwiek-skwiek” haar die creeps (124).
- Aan die einde klim sy weer in haar boom “en net die volgende oomblik het die wind haar in die wolke opgelig” (162).
- By die strandstappie laat die opgewondenheid “haar voel asof die atmosfeer elektries is ... die geesdriftige gesels, die dreunende branders en die vars oggendlug soos dit net langs die see kan wees” (165–6).
- As sy een aand op haar eie gaan oefen op die parkeerarea met die roller blades, grits die wiele “oor die weerstand van die teer” (60).
Wat die psigologiese faset van fokalisering betref (en wat saamhang met bogenoemde funksie van jeugletterkunde), word die karakters se optrede, voorkoms en woorde deur Hannah se gedagtes en emosies gefokaliseer. Dit is in die vertelling vanuit Hannah se perspektief interessant om te sien dat veral die momente van spanning en konflik intense emosionele en ideologiese ladings dra (aangaande haar vriende, Lua, Leo, veral Ben en haar pa se kontekstuele oriëntasie tov plastiekbesoedeling en herwinning en Hannah se waarneming en interpretasie daarvan). Die perspektief van die verteller (Hannah) is betroubaar en haar innerlike monoloog is verstaanbaar omdat sy dikwels onseker is of twyfel en nie al haar gedagtes kan deel met die ander karakters nie – die jeugdige leser word genooi om soos Hannah verder te kyk as haar omstandighede om liefde, aanvaarding, hoop en vrede te vind.
Die (alwetende) verteller het verkies om die sentrale konflik – meer spesifiek die reeds genoemde Aspoestertjie-plot – op ’n Grieks-dramatiese wyse aan te bied. Die verhaal begin met die begin en loop na die einde, terwyl daar wel enkele terugflitse is; die sintaksis en dialoog (sowel as die interne gedagtegang van Hannah) word benut om die konflik te beklemtoon.
Ten slotte is die epiese doelstelling van die skrywer primêr dié van oplossing van finansiële probleme en plastiekbesoedeling (sekondêr ook versoening tussen Hannah en haar ma), waarin die konflik opgelos word (wat gebeur as Hannah en haar vriende deelneem aan ’n herwinningsveldtog op die strand). Die beweging tussen die begin, die einde en sentrale gebeure veroorsaak nie net spanning nie; hiermee word die hoofhandeling in die rigting van die moment van rus en vrede gestuur.
Universele temas
Die ideologiese fokalisering van norme en waardes waarvolgens die gebeure en karakters uitgebeeld word, is sowel implisiet (wat betref die fokalisering van karakters) as eksplisiet (soos gefokaliseer deur die karakters en wat na vore kom in hulle dialoog). In hierdie Afrikaanse jeugteks se ideologiese konteks dra Hannah se narratiewe stem waardes oor sonder dat die leser die gevoel kry dat daar gepreek word, of dat politieke propaganda verkondig word.
Tyd om te skaats lig universele waarhede uit – samewerking, oplossing van probleme, die karakters se soeke na eie identiteit. ’n Dinamiese voorbeeld hiervan is Hannah wat nie eintlik baie van haarself dink nie en tog uiteindelik met inisiatief vir die herwinningsveldtog op die strand planne maak om haar pa se belangstelling uit te leef – sy gaan werk in ’n koffiewinkel om haarself en haar ma uit haar finansiële verknorsing te red, en groei na volwassenheid.
Hannah se kreatiewe taalgebruik deur middel van (reeds genoemde) vars vergelykings en metafore in beskrywing van haar gedagtes en gevoelens kan die leser se verbeelding stimuleer om só opnuut bewus te raak van die kreatiewe krag van taal en hoe dit ’n ewewig skep en moralisering voorkom.
Adolessente lesers se eie analitiese denke kan geoefen word omdat die lees van so ’n ongewone teks hulle kan stimuleer het om saam met Hannah te soek na die samehang of logiese opeenvolging van gebeurtenisse – lewe, siekte en dood (al is dit van ’n dolfyn), die optrede van verskillende karakters (sowel Hannah se vriende en Ben as ’n ander jong volwassene, en ook die volwassenes in haar lewe – haar ma en pa, Ronny, Kholwa). Verder ook die werk wat Hannah kry by die koffiewinkel, wat ’n ongewone gebeurtenis is (volgens Hannah se siening oor wat haar “simpel” lewe behels).
Slotopmerkings
Dit is vir my duidelik dat die skrywer van hierdie teks ’n ryk sekondêre werklikheid geskep het met fiktiewe karakters wat die primêre werklikheid bevolk. Die kreatiewe vergelykings en metafore, ook die outentieke taalgebruik, die gebruik van Hannah se innerlike monoloog, die digverweefdheid van karakters en gebeure was uitsonderlik.
Hierdie jeugroman lewer ’n skitterende bydrae tot vernuwing in ekologiese jeugliteratuur in Afrikaans.
Gelukwense aan die skrywer en voorspoed vir jou as fiksieskrywer. Die lees van hierdie jeugverhaal was ’n verfrissende en uitdagende avontuur.
Eindnotas as verwysingsbronne
[1] https://lapa.co.za/tyd-om-te-skaats
[2] Rosenblatt, L. 1995. Literature as exploration. 5de uitgawe. New York: Modern Language Association.
[3] Kapp, Sophia. 2010. Chic lit. In Riana Scheepers en Leti Kleyn (2010). Die Afrikaanse skryfgids. Johannesburg: Penguin Books.
[4] Burger, W. 2018. Die wêreld van die storie. Pretoria: Van Schaik Uitgewers.
[5] Ghesquiere, Rita. 1993. Het verschijnsel jeugdliteratuur. Amersfoort: Acco Leuven.
[6] Marais, S. 2005. Afrikaanse tienertaal. MA-verhandeling, Universiteit van Johannesburg.
[7] Die HAT (2000:1038) definieer sleng/slang as “Opsetlik gemeensame, ondeftige, ietwat plat taal, stands- of beroepstaal; groep(s)taal”.
[8] Combrink, L. 1990. Die rol van die leser in die literêre kommunikasiesituasie. Die Unie, 86(7–9).
[9] Du Plessis, H. 2013. Die skep van ruimte in ’n roman, met verwysing na die drie koepelromans van Hans du Plessis. LitNet Akademies, 10(3):341–61.
[10] Steenberg, E. 2013. Jeugliteratuur. In Cloete, TT. Literêre terme en teorieë. Pretoria: Haum Literêr.
[11] Greyling, F. 2009. Die skepping van die fiksionele wêreld in kinder- en jeugliteratuur deur middel van die kreatiewe gebruik van paratekstuele elemente. Mousaion, 27(2):2009–26.