Twiets vir Afrika: Aktualiteit en potensialiteit in Die biblioteek aan die einde van die wêreld 

  • 1

Hierdie essay is uit eie beweging deur Hans Pienaar aan LitNet gestuur.

Titel: Die biblioteek aan die einde van die wêreld
Skrywer: Etienne van Heerden
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624089216

Etienne van Heerden beskryf sy boek Die biblioteek aan die einde van die wêreld as ’n ideëroman, en daar kom inderdaad ’n magdom idees aan bod. Tog is daar geen idee wat ’n mens werklik bybly nie – en dis geen kritiek op die skrywer nie, eerder ’n kompliment, want die roman is so goed geskryf, alles is so vaardig ingebed in karakter, dialoog en intrige dat die narratiewe vaart en die plesierskeppende wendinge die leser vir 600 bladsye meesleur. In terme van die bekende binêr van “wys” en “vertel”: Soos dit hoort, is daar te min vertelling vir die idees om die trefkrag van die romanmatige elemente te oorkom.

’n Beter beskrywing sou wees aktualiteitsroman, maar wat my aangespoor het tot die lesing wat hier volg, is hoe die idee van aktualiteit soos dit in die filosofie voorkom, sig uitspeel en lig werp op wat ’n bedrewe en dinamiese roman wel in die openbare debat kan doen. Dit is nie ’n nuwe ding vir Van Heerden nie – daar was sy hoogs vermaaklike (en geringgeskatte) Casspirs en Campari’s in die 1980’s, wat kritici in die terme van die tyd ’n "betrokke" roman genoem het. Dit het ’n bepaalde standpunt ingeneem wat binne die politiek van die dag geresoneer het, en help lyf gee het aan ’n breë anti-apartheid-afvalligheid onder Afrikaners.

Betrokkenheid, of littérature engagée, is ’n begrip wat so in onbruik verval het dat dit, of die feit dat felle debatte daaromheen geheers het,  skaars onthou word. Die beperkinge daarvan was gou duidelik: Die resonansies het dikwels geboemerang wanneer daar van skrywers verwag is om hulle aan ’n politieke program te onderwerp, of wanneer die skrywers se betrokkenheid by die hier en nou werk gelewer het wat lyk of dit die politieke dogma van die dag weerspreek het, omdat dogma noodwendig selektief met die hier en nou omgaan. Daar was ’n paradoks: Ten einde die trefkrag te behou wat hom/haar in die eerste plek die platform gegee het om betrokke te raak, moet die skrywer by sekere beginsels van sy/haar ambag hou, soos om volronde karakters te skep, wat beteken dat praktyke en situasies onthul word wat nie kan voldoen aan ideologiese abstraksies en verwagtinge nie.

Aktualiteitsroman kan dan in die eerste plek dien om die politieke benoudheid van daardie tye te ontduik, of bloot net die uitgediendheid van die diskoers, maar die woord aktualiteit het sy eie problematiek. Dit sien ’n mens reeds in die vreemdheid daarvan – aktualiteit kom nie in die volksmond voor nie. Ons praat eenvoudig nie van “(die) aktualiteit” nie – die naaste wat ons daaraan kom, is “die politiek” of “die nuus” of selfs “sake van die dag”, hoewel laasgenoemde onmiddellik ’n geur van propaganda vir ’n ouer geslag het. Voorts is dit dalk meer in ’n wêreldtalige Engelse etimologie as in ’n Nederlandse een gewortel. Hoewel actuality ook nie deur die Brit op straat gebruik word nie, is ’n woord soos actually so volop dat dit betekenis verloor het en in die meeste gevalle net as ’n soort vuller of ’n retoriese wending in ’n gesprek gebruik word.

As jy in Afrikaans sê: “Actually wil ek liewer huis toe gaan”, sein dit wat jy “regtig” wil doen, en die gebruik byna as sleng wil ’n soort verontskuldigende trivialisering van jou verandering van plan sein. ’n Meer formele eintlik is ewe korrek, maar ook meer daadwerklik, ’n uitdrukking van ’n meer dring-daarop-aan-heid. In albei gevalle is die verwysing na ’n potensiële “eintlikheid”. Sou ’n mens dus ’n meer Afrikaanse woord soos eintlikheidsroman kon skep, ’n bietjie beter as regtigheidsroman? Waarskynlik nie – daar is ’n verlies aan daardie betrokkenheidsaspek, van die onderliggende dinamiese diskoers.

Anders as ander soorte romans, wat hul eie wêrelde skep wat nie noodwendig getrou is aan die werklike tye soos hulle besig is om te ontvou nie, en gehoor gee aan die skrywer se konsepsie van daardie wêreld, speel die aktualiteitsroman af in die hier en nou, en verlaat hy hom op ’n wêreld geskep deur ’n magdom ander faktore buite die skrywer se beheer.

Aktualiteit en potensialiteit is twee Dawid-en-Jonathan-begrippe wat wyd in die filosofie voorkom, van Aristoteles se dae af tot by Heidegger, Adorno, Deleuze en Agamben, om maar enkeles te noem. Inderdaad sou ’n mens die twee sien as altyd gebonde aan mekaar, open die beskrywing aktualiteitsroman ’n heel nuwe veld en postuleer dit ’n onafhanklike politieke rol wat uniek is aan die roman, en selfs dat enige roman daardeur onwillekeurig minstens politieke momente het – ’n rol waarvoor ’n mens nie ’n onvaspenbare onderbou soos die “politieke onderbewuste” hoef uit te werk nie. Dit is naamlik dat die skrywer, bloot deur ’n verhaal met karakters op ’n romanmatige manier te vertel, ’n wêreld van potensialiteit skep wat met sy eksperimentering ’n aktualiteit daarstel wat politieke arbeid kan verrig.

Die vindingryke skrywer met dekades se ondervinding, een soos Van Heerden, sou dan eenvoudig ’n stel karakters hoef te omlyn en hulle binne ’n bepaalde aktualiteit plaas, en kyk wat gebeur. Selfs as ’n skrywer streng planmatig te werk gaan, met die intrige vooraf uitgewerk, sal daar altyd ’n potensialiteit aanwesig wees, net soos dit ingebou is in ons daaglikse handel en wandel. Die uitdaging aan die skrywer bly om hierdie wederkerende spanninge oortuigend te laat oorkom, met die kriteria van oortuigendheid nie dié van die politiek of filosofie nie, maar die konvensies van die roman.

Van Heerden was besonder goed geplaas binne die aktualiteit van een van die seminale reeks gebeure van ons tyd, naamlik die #FeesMustFall studente-opstande. As professor aan die Universiteit van Kaapstad was hy dikwels in die middel van die kampus waar die mees impakvolle woelinge plaasgevind het en het hy intieme kennis van studente en die studentelewe. As hoof van LitNet en goed op hoogte met die jongste golwe van die inligtingsrevolusie beide as praktisyn en as navorser daaroor, was hy onmiddellik ingerig om die nuwe gebruike van sosiale media en tegnologie indringend te bepriem. En as Afrikaansspreker kon hy toegang kry tot twee breë minderhede wie se marginalisering, nadat alles bedaar het, groter was as voor die opstande.

Foto: LitNet

Vergelyk ’n mens so ’n skrywerskonteks met dié van enige joernalis, sou die joernalis maar net haar hande in professionele afguns kon saamslaan. Die vergelyking is pertinent, omdat die joernalis by uitstek die figuur is wat binne enige aktualiteit werk, die vertolker van die sake van die dag (sien die Frans jour), en die persoon wat veronderstel is om uit die frontlinies, “the scene of the crime”, in die middel van die storm verslag te lewer. En dit is alombekend dat die media, en spesifiek die gedrukte joernalistiek, onder groot druk van finansiële magte is, ’n apokaliptiese situasie in ’n “twilight industry” waarin “aktualiteit” iets gans anders, ’n bedreiging, geword het.

Die vonk van die intrige in Biblioteek is ’n twiet wat een van die twee hoofkarakters, Ian Brand, sonder om mooi te dink, uitstuur die kosmos in, en binne ’n paar uur word sy eie wêreld onherroeplik omgekeer. Die episode toon sekere oppervlakkige ooreenkomste met die berugte “kolonialisme”-twiet deur die voormalige hoof van die Demokratiese Alliansie, Helen Zille – die felle reaksie daarop het haar, ten spyte van haar (vir baie waarnemers) oortuigende protestasies, gebrandmerk as “unrepentant apologist for colonialism”. Net so word Ian bekend as die “twietBoer”. Albei voorvalle gebeur by ’n lughawe, en is reaksies op swak dienslewering, iets wat in so ’n mate ’n werklikheid is dat dit bygedra het om die Suid-Afrikaanse Lugdiens in sakeredding te plaas en/of dat die staat se skuld op die rand van rommelstatus is. Zille s’n het geskied na ’n besoek aan Singapoer, waar sy onder die indruk gekom het van die suksesvolle “repurposing” van kolonialisme; Brand is op pad na ’n lesing in Hongarye, wat die juk van die Russiese kolonialisme afgeskud het.

Vandag sien filosowe Aristoteles se benadering tot potensialiteit/aktualiteit as ’n sentrale spanning wat oral in sy filosofie voorkom, selfs in sy fisika en biologie. Vir hom was die potensialiteit van ’n verskynsel altyd ondergeskik aan die aktualiteit daarvan: Die aktualiteit is ’n tot-teenwoordigheid-kom van die potensialiteit, maar alleen deur hierdie aktualisering kan die potensialiteit sigself identifiseer en die potensialiteit word nie daarna uitgeput nie. Aktualiteit is die “siel” van ’n verskynsel, en geskied as ’n proses van ontbloting van bestaan.

In die praktyke van die kritiese rasteorie is die aanname, wat die beoefenaars daarvan as aksiomaties behandel, dat elke wit mens ’n verhulde rassis is. Dit is die taak van die aktivis om hulle aan die kaak te stel en die proses te versterk aan die hand van verdere onthullings deur tipiese reaksies van die teiken. “Calling out” word gevolg deur “white fragility” en “white tears”, wanneer die teiken in die besef dat hy/sy wel as rassisties gesien kan word, hom/haar met ’n emosionele ontkenning probeer verontskuldig. Die proses is onvermydelik deurspek met kwade trou, want die hele gryse area van waar die grense met stereotipering, vooroordeel of klassifisering is, om nie te praat van wat bedoel word met “wit” nie, word geïgnoreer.

Die frase wat Van Heerden uitwerk vir Brand se twiet is nommerpas vir die roman se verdere ontwikkeling: “In Africa there’s no hurry – except for independence.” Dit is perfek ambivalent – google dit en jy sal etlike rubriekskrywers in Afrika-publikasies kry wat soortgelyke sentimente uitspreek, wat hul lande of stede verkoop met die langer tyd wat ’n mens kwansuis het om enigiets te doen as jy in Afrika met vakansie gaan. “African time” is ’n frase wat goediglik-ironies deur alle rasse gebruik word. Aan die ander kant besit dit onteenseglik ’n potensialiteit vir rassisme, en hierdie potensialiteit word geaktualiseer deur die Twitter-lesers en andere wat reageer op die openbare storm wat Brand se twiet veroorsaak. Die feit dat Brand op allerlei maniere kan bewys hy haat ander rasse nie, inteendeel, dat hy as progressiewe ambivalente “Afrikaner” die nuwe Suid-Afrika ten volle steun, het geen invloed op die feit dat die aktualisering van die potensialiteit vir rassisme soos die sement van ’n fondament vir sy reputasie gegiet word nie. 

Hoe die storm broei en dan uitbars word vaardig gehanteer. Ian Brand skakel sy foon af om vir ’n wyle in ’n “radiostilte” te gaan voor hy in Boedapest optree. Wanneer die nuus hom op die verhoog bereik, besluit hy om eerlik te wees daaroor en dit uit te basuin, maar die gehoor reageer heeltemal onverwags deur hom ’n staande ovasie te gee. Binne Van Heerden se romanopset dien dit om die absurditeite van die reaksies te demonstreer, maar ook treffend die probleem waarmee Aristoteles geworstel het: Aktualiserings kan uiteenlopende en weersprekende potensialiteite onthul. 

Martin Heidegger het in sy kritiek op die potensialiteit/aktualiteit van Aristoteles gewys hoe meganisties en reduktief dit wese en bestaan maak, as uitdrukking van ’n voorafbepaaldheid wat hy gesien het as ’n langdurige sentrale fout in alle Westerse denke, en wat in die 20ste eeu ontaard het in die negatiewe resultate van tegnologie. Tegnologie is onontbeerlik in die aktualisering van Ian Brand se rassisme: Dit vind plaas by wyse van óf die oombliklike en bykans gelyktydige reaksies van ’n horde sosialemediagebruikers, óf van bots, wat Zille ook opgehaal het in haar pogings om die kolonialisme-rel te probeer terugrem. Heidegger se beswaar slaan ook op die fout met identiteitspolitiek, waarvan die reduktiwiteit – Ian word die twietBoer genoem met een van die implikasies dat alle “Boere” soos hy is – verder deur sosiale media vergroot of versterk word.

Van Heerden trap nie in die slaggat om Ian se twiet te probeer verduidelik nie; daar is geen verdere aandag aan die kwessie van “African time” of Uhuru nie. Dit mag bloot intuïtief wees, of doelbewus om te wys hoe oppervlakkig die hele “wokeness”-diskoers is, en hoe Ian se vele ander potensialiteite soos in sy lewe geaktualiseer sy “rassisme” relativeer tot die onbenulligheid wat dit is. Maar dit kan ook dien om ’n tweede sleutelbegrip in Aristoteles se filosofie te belig: impotensialiteit.

Aktualiteit bestaan nooit sonder impotensialiteit nie, het hy geskryf, eenvoudig omdat geen aktualiteit in alle volledigheid geaktualiseer kan word nie. ’n Stuk hout het die potensiaal om ’n tafel te word, maar die tafelblad kan weer ’n skild word. Die skild is die impotensialiteit van die tafel, en weereens kan dit net “onthul” word deur aktualisering. Wat Van Heerden doen deur die inhoud van die twiet eenvoudig te ignoreer is om die impotensialiteit te laat bly hang, iets wat buite die roman verder gevoer word deur resensente wat op die oog af geen belangstelling toon om die twiet te ontleed nie.

Potensieel sou daar ’n vrugbare seminaar, as sê maar ’n oefening in “counterfactuality”, gehou kon word rondom die vraag: Het die Afrikastate te vroeg onafhanklikheid gekry? Selfs raskritiese teoretici sou dit kon gebruik as platform om uitsprake hieroor as rassisties te onthul. Maar deur dit ’n impotensialiteit te hou, wys die roman hoe die aktualiteit rondom die studente-opstande so vereng was dat die geskiedenis as lens buite bereik bly – in Shoshanna Zuboff se beskouing, die toekomstige tyd is geroof.

Geskiedenis, persoonlik en nasionaal, is van kardinale belang in die lewens van Ian Brand en die ander hoofkarakter, Thumi Khumalo – trouens, vir al die karakters – tot so ’n mate dat van hulle se verhale in ander romans van Van Heerden gewortel is. Maar die aktualiteit is gekaap, die diskoers is vernou tot net een stel kwessies, van verhulde rassisme, van rassisme as ewigdurende impotensialiteit waartoe wit mense verdoem is. ’n Filosoof soos Spinoza sou hierop kon antwoord dat die motivering aan die kant van raskritiese aktiviste “ambisie” is – sy term vir mense wat hulself deur verdoeming van andere op ’n hoër vlak wil plaas.

Aristoteles se idees, veral die deterministiese aard daarvan, is natuurlik lankal reeds omver gewerp nadat dit lank die Westerse en Islamitiese filosofieë oorheers het. Dat vandag se aktualiteit daarmee ontleed kan word, wys op watter Middeleeuse vlak die openbare diskoers in die tyd van sosiale media gevoer word. Hierdie vervlakking is algemene kennis, maar dit stel ’n mens in staat om tot dieselfde vlak terug te gaan en impotensialiteit ook op ’n positiewe manier te laat werk. 

Impotensialiteit veroorsaak dat geen mens essensieel ’n rassis kan wees nie, net soos alle mense dit potensieel kan wees. Bloot deur te ontken dat jy ’n rassis is, is jy nie meer ’n rassis nie (behalwe as jy lieg, wat ’n interessante demonstrasie van ’n verdere vlak van impotensialiteit sou wees), in die sin dat jy die beskuldiging suspendeer – jou beskuldiger sou dit eers moet gaan bewys (wat in die geval van ras-heerssugtige uitsprake maklik is). Dit sou voorts ’n induktiewe bewys wees, as ’n ooreenkoms wat deur ’n rits mense as ’n bewys aanvaar word, wat natuurlik maklik geword het om te vermag deur middel van sosiale media, maar ook maklik om te fabriseer.

Dat die dinamika van potensialiteit/impotensialiteit/aktualiteit só kan voortbestaan is te danke aan die voorafbepaaldheid wat Heidegger in tegnologie sien. Hoe inligtingstegnologie dit in die hedendaagse doen, is wat Zuboff deurdink in haar magistrale Surveillance capitalism, en Van Heerden gee haar inderdaad as een van sy bronne aan. Hy dramatiseer hierdie determinisme in ’n subintrige, en dit staan sommige resensente minder aan, omdat dit lyk na ’n deus ex machina-“conspiracy theory”, maar as jy Zuboff gelees het, besef jy alle vergrype is moontlik in die Wilde Weste van die digitale.

Om te ontken dat jy ’n rassis is, beteken geensins dat jy gaan ontkom aan die histerie nie, want jou dade (insluitende die tik van woorde in ’n twiet) kan wel ’n vektor vir rassisme word as jy enigsins mense op grond van tipiese gedrag probeer klassifiseer – ’n baie basiese kognitiewe aksie waarsonder geen mens kan funksioneer nie. ’n Ontkenning dra op sy beurt sy eie impotensialiteit, en wanneer beskuldigdes ontdek die rassisme is daar (as impotensialiteit) ondanks hul ontkennings, is dit dikwels ’n skok, en reageer hulle emosioneel, vandaar die “white tears” en “white fragility”. 

Maar dis belangrik om te besef dat dit uiteindelik gaan om die proses van aktualisering, en nie die inhoud daarvan nie. Die woord rassisme of rassis kom dan ook net 32 maal in Biblioteek voor, taamlik min vir ’n roman van 600 bladsye. Wat vandag se Twitteroorloë wys, is hoe aktualisering deur oombliklike veelvuldige iterasie die positiewe impotensialiteit “kanselleer”. Waaroor dit uiteindelik gaan, na aanleiding van Zuboff, is geen stryd om gelykheid nie, maar gedienstigheid aan Big Brother Business, of ook wat sy noem Big Other, wat soveel as moontlik “gedragsurplus” nodig het ten einde menslike gedrag ontginbaar te maak. Maatskappye soos Facebook en Twitter raak maklik preuts oor vroueborste, maar is traag wanneer dit by die aanspreek van haatspraak kom. Dit is omdat dit, in Zuboff se terminologie, die volume van gedragsurplus sal verminder. Eweneens is ’n histerie soos dié oor ras in die belang van sigbewakingskapitaal; die raskritiese teoretici werk nie vir die revolusie nie, maar vir die ou imperialistiese kapitaal wat ook die inligtingsrevolusie befonds het.

Wat hulle doen, is om die aktualiteit van rassisme te omskep in ’n blote datamyn. Die skryf van enige roman wat hierdie kwessies aanraak, is reeds deel van die weerstand daarteen, waarvan Zoboff deurgaans aanvoer dat dit heeltemal moontlik is en nog kan keer dat sulke kapitaliste heeltemal die oorhand kry. Ook in hierdie sin is Biblioteek ’n aktualiteitsroman wat ’n bydrae lewer tot die nuwe stryd teen ’n nuwe neokolonialisme.

Na die lees van Biblioteek kan ’n mens net tot die gevolgtrekking kom dat vandag se aktualiteit uitgelewer is aan die hoogs reduktiewe meganismes van die hedendaagse tegnologie. Van Heerden spreek dit nie aan, maar ’n mens moet vra: Is daar nog sprake van demokrasie met die konstante ondermyning van alle diskoers? Trump, die EFF, Brexit, Irannese uitdelgings van rebelle, nuwe rasideologiëe, Chinese tegnokolonialisme … dit alles tel onder die verwoesting wat hierdie nuwe kapitaliste besig is om te saai.

Lees ook:

LitNet Akademies-resensie-essay: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Resensie: Die biblioteek aan die einde van die wêreld deur Etienne van Heerden

Die biblioteek aan die einde van die wêreld: Johann Rossouw gesels met Etienne van Heerden

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top